
Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Die koekie-tannie
DERDE KIND VERMIS. DORP IN SKOK. Die sierletters wat bo háár lamppaal hang laat Koeks se hare rys. Iemand is besig met die dinge van die nag – dinge waaroor sy nie beheer het nie.Sy sal vanaand by háár lamppaal bid vir die monster. Nes die vorige keer wat sy op haar knieë gegaan het toe die Renoster-tweeling onder snaakse omstandighede Paasnaweek verdwyn het. Straatkinders bly nie lank hoofopskrifte nie en binnekort sal dié sierletters vervang word met iets belangriker. Iets wat jou nie soebat tot by jou kar nie en iets wat jou nie binnemonds vloek as jy “skoert terug skool toe” prewel nie.
Koeks se vloeiende witbruin rok fladder langs haar pak koekies. Altyd getooi in wit, die lippe granaatrooi teen die aanslagte van die lewe. Mense beskryf haar as “die straatengel” wat ’n wakende oog hou oor dié kinders. Sy was ook op ’n tyd een van hulle. Een van dié sonder ’n stem in ’n tyd toe sierletters oor haar dae op Koster nie die lamppale gehaal het nie. Dis anders om as grootmens op straat te bly, ’n kind het nog ’n behoefte aan iets meer. Sy het haarself voorgeneem dat waar ook al sy gaan, dié kinders altyd ’n bietjie soet by hulle sal dra.
Die kinders prys haar vrygewigheid. Sommiges noem haar die koekie-tannie en dié wat meer straat-savvy is, noem haar sommer Koeks of groet met ’n woordlose vingerklap. Altyd ’n pak koekies in die hand gereed om uit te deel vir die hongeres én nuuskieriges.Die dorpenaars herken haar aan haar geneurie. Dieselfde getrekte deuntjie, dagin en daguit,van “Kinders van die wind”.
“’n Randfiguur met ’n doel,” het die plaaslike koerant langs haar foto geskryf. Sy weet steeds nie wat die groot woorde in die berig beteken nie, maar haar foto was mooi – dalk effentjies té mooi want deesdae staan die middel-vyftigs groep bles, bakhand en leepoog vir ’n Marie-koekie. Na sy haar begroting op Camel en sardiens geblaas het, is daar altyd ’n paar silwermunte oor vir ’n pakkie Marie-koekies. As kind het sy altyd gesmag na een van daai pakkies op die winkelrakke, maar daar was altyd ’n ander gat om toe te stop.
“Gesigte, drome, name
Is deur die wind verwaai
En waarheen daardie woorde is
Sou net ’n kind kon raa i. . .”
“Auntie Koeks.”
“Jinne, Stompie. Het jy nie respek vir ’n vrou wat sing nie?”
“Jammer, auntie. Wou net sê auntie moet padgee. Ek het een van die skoolbroeke hoor sê dis nie meer veilig vir vroue en kinders op straat nie.” Deesdae troon die forsgeboude Stompie bo haar uit. Hy’s nie meer die skugter straatkind wat aalmoese met sy hartseer oë inpalm nie. Hy was nou kar vir ’n lewe en blêddie goed ook – hy betaal onderhoud vir drie van sy vier kinders. In ’n ideale wêreld sou hy ’n ingenieur wees. Niemand bou ’n bokshuis soos Stompie van Niekerk nie.
“Wat sal so ’n skollie by ’n ouvrou soos ek soek? Ek wil hierdie stuk skuim vierkantig in die oë kyk en onse kinders terugeis. My ma het altyd gesê optelgoed is nie hougoete nie. Hoekom doen niemand iets nie?”
“Ai auntie. Dis die lewe. Die cops raak al dikker en die crime raak al meer. Ek’s sad oor Klara.”
“Wat het gebeur? Ek lees mos nie die papers nie. Lat my dom voel met hulle fêncy woorde.”
“Sy doen business by daai oorkantste stopstraat.” ’n Krom vinger wys nie te ver van waar hulle staan nie. “’n Regte pretty woman. Niemand het iets gesien of gehoor nie behalwe Ziggie, maar hy praat niks. Net haar een handskoentjie opgetel – vir die polieste gesê van iemand met ’n donker baadjie en toe na die OBS gegryp. Daai man praat altyd in raaisels en die dop maak sy kop nog meer raas.”
“Ziggie was maar altyd trouble. Gee vir die kind een koekie en hy gryp vyf.”
“Ek dink nog steeds hy’t daai Renoster-twins gepoach. Toe Klara die sproetgesig se pet optel, het hy gesê hy’s bly hulle is gestroop.”
“Stuk gemors. Daai goue tande van hom kan nie ’n swart hart wegsteek nie.”
“Het auntie vir Klara geken?”
“Nie eintlik nie. Net altyd die perfume ’n paar stoppe ver geruik. Sy’t nooit kom koekies vra nie. Altyd gesê soetigheid is moeilik in haar job, want die ou ooms los juis die vroue met die pense by die huis.”
“Sy was te goed vir die streets. Maar jinne, sy was kwaai, auntie. Altyd gesê R300 per uur of jy hou jou bek van haar af. Sy het maar sestien gemaak die jaar auntie. Ek het nog nooit R300 in my gatsak gehad nie.”
“Die straat is nie ’n plek vir kinders nie. Dis ’n hartseer dag vir ons outies.” Koeks het ’n broertjie dood aan “boemelaars” en “haweloses”. Outsiders, dis wat hulle is. Die kameraadskap wat saam met haar papierkomberse op straat gekom het, is meer as wat baie rykes met Russel Hobbs in hulle kombuise kan sê.
“En eindelik was almal maar
Net kinders van die wind . . .”
Stompie weet al om nie verder te pla nie. Hy het iewers gehoor iets is nie verby tot die vet tannie gesing het nie.
“Swerwers sonder rigting
Soekers wat nooit vind . . .”
“Koekie seblief.” Dié hand lyk bekend. ’n Harde hand vol littekens wat wys hoe ingeburger op straat hy werklik is. Die oë is vol rooi aartjies en die OBS-walms van die vorige aand agtervolg hom nog. Vasgegespe in die ander hand is ’n bruin papiersak met nog ’n bietjie left overs.
“Ziggie, ek voel nie gerus om ’n Marie in jou hande te sit nie.”
’n Swanger stilte volg.
“Almal dink dis ek. Nou auntie ook.” Hy vat ’n groot sluk uit die bruin papiersak.
“Is dit jy?”
“Ek sou nooit so iets aan Klara doen nie. Daai girl was soos family vir my.” Hy druk sy vinger op sy borskas om die erns van die situasie te beklemtoon.
“Wat van die Renoster-twins?”
“Nei man, wat sal ekke met twee ginger straatbrakke maak? Ek sal nie eens R10 kry vir hulle saam nie. Klara was my enigste view in die aande. Hoekom sal ek die gordyne toetrek?”
“Ek praat van die tweeling.”
“Hulle was soos gatvlieë, maar dit betieken nie ek’t ’n vlieëplak loop koop nie.” Sy hande praat dramaties saam soos hy verduidelik.
“Hou op in raaisels praat, jy loop alankal nie meer skool nie.”
“Weet auntie wat? Ek soek in elk geval nie auntie se koekies nie. Hulle is yesterday’s news.”
“Askuus, wat sê jy daar?”
“Auntie het reg gehoor.” Weer eens ’n uitdagende groot sluk.
“As ek reg gehoor het, het jy ’n handskoen opgetel?”
“Ja, en?”
“En ek weet waar jy vir Klara kan kry.” Skaakmat. Sy het hom presies waar sy hom wil hê. Tussen die rooi aartjies en babelas is daar iets wat omgee. ’n Sagte kant aan ’n harde stuk metaal.
“Waar?” Hy gryp na die lamppaal vir balans, maar vergeefs. Hy val ’n paar tree agteruit.
“Volg my. Ek dink ek weet waar hulle haar hou.”
Slingerend stap hulle deur Christiana se strate. Verby die supermark waar die vroue met geteasde hare kla oor die prys van botter, verby die slaghuis waar die vooraanstaande manne vuil grappe vertel. Hulle stap oor dubbeltjies en leë coke-blikkies – dáár waar die Renoster-tweeling en Klara se spore al weggevee is, die niet in. Dáár waar rommel kinderspore vervang het sonder dat iemand ’n oog geknip het.
“My regte naam is Renchka.”
“Renchhhka,” sê die stotterende figuur onverfynd agter haar aan.
Vir nog ’n week sal die hoofopskrifte se sierletters om ’n lamppaal hang – om háár lamppaal. Die keer gaan hulle ’n kous vind, weer eens geen ooggetuies nie. Dit is asof Ziggie nie eens bestaan het nie. Sy vriende gaan nie eens sy van aan die polisie kan verskaf nie. Een van haar ou kamerade op Koster het eenmaal gesê “it takes a village to raise a child”, maar hoe gemaak as die “village” jou in die steek laat?
Terwyl hulle stap, trek sy haar swart baadjie bo-oor haar witbruin rok aan. Dit raak skemer en die herfswindjie waai rustig, salig onbewus van dit wat onder sy neus aangaan. Die kinders prys haar vrygewigheid. Sommiges noem haar die koekie-tannie en dié wat meer straat-savvy is, noem haar sommer Koeks of groet met ’n woordlose vingerklap. Altyd ’n pak koekies in die hand – gereed om uit te deel vir die hongeres én nuuskieriges. Die dorpenaars herken haar aan haar geneurie. Dieselfde getrekte deuntjie, dagin en daguit, van “Kinders van die wind”.
Ek ken ’n ou, ou liedjie
Van lewenswel en wee
Van lank-vergane skepe in
Die kelders van die see
Die woorde is vergete
En tog, die deuntjie draal
Soos vaag-bekende grepies in
’n Baie ou verhaal
Refrein:
Van swerwers sonder rigting
Van soekers wat nooit vind
En eindelik was almal maar
Net kinders van die wind
Gesigte, drome, name
Is deur die wind verwaai
En waarheen daardie woorde is
Sou net ’n kind kon raai
Refrein:
Swerwers sonder rigting
Soekers wat nooit vind
En eindelik was almal maar
Net kinders van die wind
Die koekie-tannie
Lees die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh
Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae
Klik hier vir die kortlyskandidate
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

