Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Petrus"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


Petrus

My oumagrootjie, die Rooms-Katoliek (of die Roomse Gevaar soos wat sy dikwels na haarself verwys het), het ’n swart rosary gehad, ’n bidsnoer met swart kraletjies en silwer kettinkies tussenin met ronde silwer plaatjies met afbeeldings van die verskillende Heiliges.  Sy en my oupagrootjie het die bidsnoer aan die truspieëltjie van hul motor laat hang.  Somtyds as ek saam met hulle in die motor gery het, het sy dit afgehaal en vir my gegee.  Dan het ek die kraletjies tussen my vingers gevryf en die Onse Vader in my kop probeer opsê.      

 

My oupagrootjie kom in my finale jaar op universiteit te sterwe op sewe en tagtig.  Beroerte.  Hy het ’n vol, gelukkige lewe gelei.  Boonop was hy in die laaste paar jaar baie sieklik.  “Dis beter so.  Vir sý onthalwe,” het my ma vroom gesê en ’n traan weggevee. 

 

Die dag van die begrafnis breek aan.  Dit is ’n hittige somersdag en daar staan ons hele familie in swart geklee voor die Roomse kerkie.  Dié tipe begrafnis was vir ons ’n nuwe ding, aangesien slegs my grootjies Katolieke was.  My ouma het wel in die Rooms-Katolieke Kerk grootgeword, maar toe trou sy met my oupa, ’n stoere Hervormer.  Hul huwelik het vyf kinders opgelewer.  My ma die oudste dogter.  Gevolglik word my ma, haar twee susters en haar twee broers ook streng Hervormd groot.  En later, toe dit my ma se beurt was om man te vat, trou sy met my pa, wat nederig en eerbiedig in die NG kerk grootgeword het.  So word ek en my broers toe opgelei in getroue diens van die liewe Heer in die NG kerk.  Maar my oumagrootjie se wens was dat ons my oupagrootjie streng volgens tradisie uit die Katolieke Kerk begrawe.   Sy en my oupagrootjie was immers toegewyde Katolieke, met my oupagrootjie wat selfs ’n Grand Master in die Vrymesselaars was.

Al die begrafnisgangers het reeds hul plekke in die klein wit kerkie ingeneem.  Ons familie staan buite by my oumagrootjie wat op ’n stoel sit en droewig huil.  Die silwer lykswa kom swierig om die hoek.  Die kis word uit die lykswa gegly en ’n swart priester in ’n wit rok met pers lyfgordels seën en besprinkel die kis met Holy Water.  Dan neem ons kisdraers ons plekke in.  Ek dra saam met my oom die kis aan die kopkant en voel belangrik dat my oumagrootjie juis vir my gevra het. 

Sukkel-sukkel dra ons die kis in die nou kerkgangetjie af.  Die res van die familie volg, met my oumagrootjie wat deur my ma gestut moet word.  Voor in die kerk sit ons die kis neer en ’n groot kleurfoto van my oupagrootjie word op die kis geplaas.  Ons familie neem ons plekke in die voorste kerkbanke in. 

Almal word eerbiedig stil as die swart priester die preekstoel bestyg.  Ek verkyk my aan die lewensgroot kruis met ’n Jesus-figuur op wat voor in die kerk hang.  Die gekleurde loodglas ruite van die kerkie beeld Jesus se gelykenisse uit.  Oral staan beelde van Moeder Maria. 

Daar word onophoudelik gebid.  Die begrafnisgangers gaan vorentoe waar Nagmaal aan hulle bedien word.  Daar word gekniel en die kruis word met die regterhand nagemaak op elke begrafnisganger se voorkop, bors en skouers.  Ons familie lyk te aardig tussen die ander, wat almal duidelik ervare en toegewyde Katolieke is.  Die priester bid vir my oupagrootjie wat hom nou blykbaar in ’n vagevuur bevind waar hy oor ’n jaar deur die liewe Heer geoordeel sal word en dan saam met Hom sy welverdiende plek in die Paradys sal inneem.  Die priester bid naarstiglik, dan rig hy vrae aan God, en die begrafnisgangers antwoord droewig terug met “Lord, have mercy.”  My familie staan eerbiedig met geboë hoofde en geslote oë.  Ek neem geesdriftig deel aan die spreekkoor van gebede en lofuitinge.

“Oh Lord, our God, our Saviour God! Please remember your son for all the great things that he has done in Your name!”

“Lord, have mercy!”

“Dear God, stretch Your gentle hand over Your son, set him free from these storm clouds that threaten him.  Bring to him the life that will reach past the end of time!”

“Lord, have mercy!”

“Holy Mary, Mother of God, pray for us sinners, now, and at the hour of death!”

“Lord, have mercy!”

 

Ek probeer byhou met die prosedure.  My oumagrootjie wat in die ry voor my sit, draai later stadig om, glimlag deernisvol vir my en steek haar hand uit.  Ek neem haar hand en sy plaas dit op haar skouer terwyl sy weer saggies begin huil. 

Van die begrafnisgangers kom vorentoe om passasies uit die Bybel voor te dra.  Hulle stop eers voor my oupagrootjie se kis, waar hulle voor sy foto kniel en weer ’n kruis slaan.  ’n Ou oom met ’n plooierige gesig en ’n staalraambril met dik lense betree die preekstoel.  Hy maak sy keel skoon en trek sy swart kleed reg. 

“Hy was seker saam met Oupa in die Vrymesselaars,” fluister my boetie wat langs my sit.  Ek knik my kop en hou die ou man geïnteresseerd dop. 

“Peter will always be remembered for his kindness and sympathy.  He will be sadly missed by his wife, his children, grandchildren and great-grandchildren.  Blessed are you, Peter, for you are now chosen by the Father.  You taught us wisdom and love!”

Dan verskyn twee altar boys.  Hulle steek wierook in silwer potjies, vasgemaak aan lang silwer kettings, aan die brand.  Rookoffers.  Hulle begin dit vurig rondswaai om bose geeste af te weer.  Die verstikkende reuk vul die hele kerkie.  Iemand begin hoes. 

Na ’n emosiebelaaide uur en ’n half is die begrafnisdiens verby.  Die begrafnisstoet vertrek na die begraafplaas vir die teraardebestelling, waar die priester die graf seën en met, “May Peter’s soul and the souls of all the faithful departed through the mercy of God rest in peace,” die verrigtinge tot ’n einde bring. 

 

’n Maand later word ek uitgenooi na ’n medestudent se amper-einde-van-die-semester-met-eksamens-om-die-draai-partytjie.  Die tema is “Priests and Prostitutes”.  Ma slaan vir my ’n swart gewaad aanmekaar wat my soos ’n wafferse priester laat lyk.  Sy stel voor dat ek ’n kruis of rosary in die hande kry om my uitrusting nog meer geloofwaardig te maak.  Dus besluit ek om by my oumagrootjie ’n draai te gaan maak.  Ma smeek my om nie vir haar te sê wat die werklike tema van die partytjie is nie:  “Jou oumagrootjie is nog baie broos, sy sal nie dít óók nou kan hanteer nie.”

 

My oumagrootjie se eenslaapkamerwoonstelletjie in die aftree-oord is doodstil, amper gewyd.  Waar ons in die sitkamer sit, is die foto van Oupagrootjie wat op sy kis ten toon gestel was op ’n hoektafeltjie, omring deur brandende kerse.  My oumagrootjie is baie stil, sy sit net daar en vee nou en dan ’n traan van onder haar bril af.

“Oupa het darem ’n mooi begrafnis gehad,” sê ek en skuif ongemaklik op die rusbank rond.

“Ja,” sê sy en begin haar trouring om haar vinger draai terwyl sy daarna staar.  “Ek hoop tog net dat ek ook eendag so ’n mooi begrafnis sal hê in die Katolieke Kerk wanneer die liewe Heer besluit om my te kom haal.”  Sy kyk pleitend na my.  Ek voel nog meer ongemaklik.    

“Ouma, ek wil vir Ouma ’n groot guns vra,” verander ek die onderwerp.  “Ek is uitgenooi na ’n funksie waar jy soos ’n spesifieke geloof moet aantrek, en ek het besluit om soos ’n Katolieke priester aan te trek.  Nou het ek gewonder:  Mag ek dalk ’n rosaryby Ouma leen?  Ek belowe ek sal dit mooi oppas.” 

Haar gesig verhelder en dis asof haar dowwe oë opnuut blink.  Sonder om my te antwoord staan sy op en stap na haar kamer.  Na ’n rukkie kom sy terug met die einste swart rosary wat altyd aan hul kar se truspieëltjie gehang het.  Sy hou dit verbete vas. 

“Watse funksie is dit?” vra sy streng.

“Dis ’n fakulteitsfunksie, as tipe bewusmaking van diversiteit, veral ten opsigte van geloof,” lieg ek.  “My vriendin het my gevra om saam met haar te gaan.”  Ek voel hoe my hande begin sweet. 

My oumagrootjie begin die kraletjies tussen haar vingers vryf, net soos wat ek gedoen het toe ek klein was.  Sy kyk effens agterdogtig na my. 

Dan kom sit sy langs my op die rusbank en neem my hande in hare.  Haar vel voel soos leer en die blou are op haar hande is skaars sigbaar vanweë al die donker lewervlekke. 

“Is dié vriendinnetjie van jou in die Katolieke Kerk?” 

“Ja, Ouma,” lieg ek weer blatant.  Skielik is ek spyt dat ek haar kom vra het om die rosary te leen. 

Sy glimlag sag sodat al die plooie om haar oë en mondhoeke saamtrek.  Sy neem my gesig in haar hande en dwing my só om haar in die oë te kyk.   

“In daardie geval hoop ek daai vriendinnetjie van jou palm jou in sodat ek darem nie die enigste een in hierdie familie sal wees wat in die Katolieke Kerk is nie,” sê sy en soen my op my voorkop.  “Dan kan ek verseker wees dat ek ’n tradisionele Katolieke begrafnis sal hê.” 

Sy neem my hand, plaas die swart rosary in my palm en vou dit toe.

“Petrus, jy is my rots, weet jy?”  Sy druk my teen haar vas.  Ek raak bewus van ’n sterk onaangename reuk wat aan haar kleef, byna soos dié van die rookoffers op die begrafnis. 

 

Ek stop voor die huis waarheen die medestudent my beduie het.  In my kar kan ek reeds die musiek hoor wat uit die huis bulder.  In die oprit staan ’n groep mense en baklei.  Twee van die ouens stamp mekaar rond, terwyl ’n meisie hulle tevergeefs uit mekaar probeer kry.  Ek merk op dat haar maskara haar natterige oë besmeer het.

My oog vang ’n meisie wat gehurk in ’n bedding kots.  Haar vriendin staan agter haar en hou haar hare vas.  ’n Groep seuns staan en lag vir haar terwyl haar vriendin hulle vloek en skel. 

Daar is ’n klop aan my ruit.  ’n Ou met ’n bloedrooi korset, ’n nou swart rompie en swart visnetkouse by stiletto’s, tuit sy bloedrooi lippe vir my en gooi sy swart feather boa oor sy skouer. 

Ek haal my oumagrootjie se rosary om my nek af en hang dit om my kar se truspieëltjie.  “Forgive me, Father, for I have sinned,” prewel ek saggies terwyl ek uit my kar klim.  Ek sluit die deur en loop agter die ou aan wat uitdagend oor sy skouer vir my loer.

 


Lees die tweede keurverslag oor "Petrus"

Lees die eerste weergawe van "Petrus"

Lees die eerste keurverslag oor "Petrus"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top