Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Petrus"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Petrus

My oumagrootjie die Rooms-Katoliek (of die “Roomse Gevaar” soos wat sy dikwels speels na haarself verwys het), het ’n swart bidsnoer of rosary gehad. Dit was ’n bidsnoer met swart kraletjies en silwer kettinkies tussen in met ronde silwer plaatjies waarop verskillende Heiliges was. Sy en my oupagrootjie het hierdie spesifieke bidsnoer aan die truspieëltjie van hul motor laat hang. Somtyds as ek saam met hulle in die motor gery het, het sy dit afgehaal en vir my gegee. Dan het ek die kraletjies tussen my vingers gevryf en denkbeeldig die Onse Vader in my kop probeer opsê.     

So gebeur dit toe dat my oupagrootjie in my finale jaar op universiteit tot sterwe kom op die rype ouderdom van sewe en tagtig. Beroerte. Ons as familie het nie te veel gerou oor sy afsterwe nie, aangesien hy ’n vol, gelukkige lewe gelei het en hy in die laaste paar jaar boonop baie sieklik was. “Dis beter so vir sý onthalwe,” het my ma vroom gesê en ’n traan weggevee. Familie en vriende is laat weet en die begrafnisreëlings is getref. My oupagrootjie was op sy dag ’n Grand Master van die Vrymesselaars, dus sou daar baie mense by sy begrafnis wees. My oumagrootjie vra toe vir my of ek een van die kisdraers sal wees. Natuurlik het ek ingestem. Nou kyk, ek het baie uitgesien na my oupagrootjie se begrafnis. Dit sou die eerste keer in my lewe wees dat ek in ’n Roomse kerk sou kom. Uiteindelik breek die dag van my oupagrootjie se begrafnis aan. Dit was ’n hittige somersdag en daar staan ons hele familie in swart geklee voor die Roomse kerkie. Vir ons hele familie was hiérdie tipe begrafnis ’n nuwe ding aangesien slegs my ouma- en oupagrootjie Katolieke was. My ouma het wel in die Rooms-Katolieke Kerk grootgeword, maar toe trou sy met my oupa wat ’n stoere Hervormer was. Hul huwelik lewer toe later vyf kinders op, waarvan my ma die oudste dogter was. Sodoende word my ma, haar twee susters en haar twee broers ook streng Hervorm groot. En later, toe dit my ma se beurt was om man te vat, trou sy met my pa, wat nederig en eerbiedig in die NG kerk grootgeword het. So word ek en my broers toe opgelei in getroue diens van die liewe Heer in die NG kerk.

My oumagrootjie se wens was dat ons my oupagrootjie streng volgens tradisie uit die Katolieke kerk begrawe. Al die begrafnisgangers het reeds hul plek ingeneem in die klein wit kerkie. Ons familie staan buite vergesel deur my oumagrootjie wat op ’n stoel sit en droewig huil. Ons almal raak onrustig oor die lykswa wat nie opdaag nie:  Oupa is laat vir sy eie begrafnis!  Twintig minute later kom die silwer lykswa swierig om die hoek. Die hele familie gee ’n sug van verligting. Die kis word uit die lykswa uitgehaal, en ’n swart priester in ’n wit rok met pers lyfgordels seën en besprinkel die kis met Holy Water. Dan neem ons kisdraers ons plekke in. Ek dra saam met my oom die kis aan die kopkant. Dis verbasend hoe lig die kis is. Sukkel-sukkel dra ons die kis in die nou kerkgangetjie af. Die res van die familie volg, agterna met my oumagrootjie wat gevolglik deur hul gestut moet word. Voor in die kerk sit ons die kis neer en ’n groot kleurfoto van my oupagrootjie word op die kis geplaas. Ons familie neem ons plekke in die voorste kerkbanke in. Die diens begin. Ek verkyk my aan die lewensgroot kruis met ’n Jesus-figuur op wat voor in die kerk hang. Die ruite van die kerkie is almal gekleurd en het prentjies op wat van Jesus se gelykenisse uitbeeld. Orals in die kerkie staan daar beelde van Moeder Maria.

Daar word onophoudelik gebid, Nagmaal word bedien, daar word gekniel, en kruise word met die regterhand nagemaak op die begrafnisgangers se voorkop, bors en skouers. Ons familie lyk te aardig teenoor die ander begrafnisgangers wat almal duidelik ervare en toegewyde Katolieke is. Die priester bid vir my oupagrootjie, wat hom nou blykbaar in ’n vagevuur bevind waar hy oor ’n jaar deur die liewe Heer veroordeel sal word en dan saam met Hom sy welverdiende plek in die Paradys sal inneem. Die priester bid naarstiglik, dan rig hy vrae aan God, en die begrafnisgangers antwoord droewig terug met “Lord have mercy”. My familie staan eerbiedig met geboë hoofde en geslote oë. Ek neem geesdriftig deel aan die spreekkoor. en uiter passievol saam met die res van die begrafnisgangers “Lord, have mercy!” 

“Oh Lord, our God, our Saviour God! Please remember your son for all the great things that he has in done in Your name!”

“Lord, have mercy!”

“Dear God, stretch Your gentle hand over Your son, set him free from these stormclouds that threaten him. Bring to him the life that will reach past the end of time!”

“Lord, have mercy!”

“Holy Mary, Mother of God, pray for us sinners, now, and at the hour of death!”

“Lord, have mercy!”

Ek probeer byhou met die prosedure van die begrafnis en neem entoesiasties deel aan die gebede en lofgesegdes wat die Katolieke uiter. My oumagrootjie wat in die ry voor my sit, draai later stadig om, glimlag met deernis vir my en steek haar hand uit. Ek neem haar hand en sy neem dit en plaas dit op haar skouer terwyl sy weer histeries begin huil. Van die begrafnisgangers kom vorentoe om passasies uit die Bybel voor te dra. Hulle stop eers voor my oupa se kis, waar hulle voor sy foto kniel en weer ’n kruis slaan. ’n Ou oom met ’n plooierige gesig en ’n staalraambril met dik lense betree die kansel. Hy maak sy keel skoon en trek sy swart kleed reg.

“Hy was seker saam met Oupa in die Vrymesselaars,” fluister my boetie wat langs my sit. Ek knik my kop en hou die ou man aandagtig dop.

“Peter will always be remembered for his kindness and sympathy. He will be sadly missed by his wife, his children, grandchildren and great-grandchildren. Blessed are you, Peter, for you are now chosen by the Father. You taught us wisdom and love!”

Dan verskyn twee altar boys wat wierook in silwer potjies aan die brand steek wat aan lang silwer kettings vasgemaak is. Rookoffers. Hulle begin dit vurig rondswaai om bose geeste weg te hou. Die stink reuk vul die hele kerkie en hier en daar kan iemand gehoor word wat hoes. Na ’n emosiebelaaide uur en ’n half is die begrafnisdiens verby. en is die begrafnisstoet op pad na die begraafplaas waar my oupagrootjie se ter aarde legging plaas sou vind.

Dis ’n maand later en ek word uitgenooi na ’n medestudent se amper-einde-van-die-semester-met-eksamens-om-die-draai-partytjie. met die tema van Priests and Prostitutes. Ma slaan vir my ’n swart gewaad aanmekaar wat my soos ’n wafferse priester laat lyk. Ek lyk baie oortuigend, maar ma wys vir my uit dat ek ’n kruis of rosaryin die hande moet kry om my uitrusting net méér geloofwaardig te maak. Dus besluit ek om by my oumagrootjie ’n draai te gaan maak. Ma smeek my om net nie vir haar te sê wat die werklike tema van die partytjie is nie. “Jou ouma is nog baie broos, en sal nie dít óók nou kan hanteer nie.” 

My ouma se klein eenslaapkamerwoonstelletjie in die aftree-oord is doodstil. Waar ons in die sitkamer sit, is die foto van Oupagrootjie wat op sy kis was ten toon gestel op ’n tafeltjie in die hoek van die vertrek wat omring is met brandende kerse. My oumagrootjie is baie stil, sy sit net daar en vee nou en dan ’n traan van onder haar bril af. Ek besluit om die stilte te breek.

“Oupa het darem ’n mooi begrafnis gehad,” sê ek en skuif ongemaklik op die rusbank rond.

“Ja,” sê sy en begin haar trouring om haar vinger draai terwyl sy gebroke daarna kyk. “Ek hoop tog net dat ek ook eendag só ’n mooi begrafnis sal hê in ’n Katolieke kerk as die liewe Heer besluit om my te kom haal,” sê sy en kyk my pleitend in die oë.

“Ouma, ek wil vir Ouma ’n groot guns vra,” probeer ek om die onderwerp te verander. “Ek is uitgenooi na ’n funksie waar jy soos ’n spesifieke geloof moet aantrek, en ek het besluit om soos ’n Katolieke priester aan te trek. Nou het ek gewonder, mag ek dalk ’n rosaryby ouma leen. Ek belowe ek sal dit mooi oppas.” 

My ouma se gesig verhelder en dis asof haar dowwe oë weer opnuut blink. Sonder om my te antwoord staan sy op en stap na haar kamer. Na ’n rukkie kom sy terug met die einste swart rosary wat altyd aan hul kar se truspieëltjie gehang het. Sy gee dit egter nie vir my nie.  

“Watse funksie is dit?” vra sy streng.

“Dis ’n fakulteitsfunksie, as tipe bewusmaking van diversiteit, veral ten opsigte van geloof,” lieg ek. “My vriendin het my gevra om saam met haar te gaan.”  Ek voel hoe my hande begin sweet. My oumagrootjie begin momenteel die kraletjies tussen haar vingers vryf, net soos wat ek gedoen het toe ek klein was , terwyl sy my agterdogtig aangluur.

Sy kom sit langs my op die rusbank en neem my hande tussen hare. Haar vel voel soos leer en die blou are op haar hand is skaars sigbaar vanweë al die donker lewervlekke.

“Is die vriendinnetjie van jou ook in die Katolieke kerk?” vra sy sonder om my in die oë te kyk.

“Ja, Ouma,” lieg ek weer blatant. vir haar. Skielik is ek spyt dat ek haar kom vra het om die rosary te leen. My ouma begin saggies te glimlag sodat al die plooie om haar oë en mondhoeke saamtrek. Sy neem my gesig in haar hande en draai dit na haar toe.

“In daardie geval hoop ek daai vriendinnetjie van jou palm jou in sodat ek darem nie die enigste een in hierdie familie sal wees wat in die Katolieke kerk is nie,” sê sy en soen my op my voorkop. “Dan kan ek met ’n geruste hart verseker wees dat ek ’n tradisionele Katolieke begrafnis sal hê.”  Sy neem dan my hand, plaas die swart rosary in my palm en vou my hand toe. Ek staan vinnig op om huiswaarts te keer.

“Petrus, jy is my rots, weet jy.”  Sy druk my teen haar vas. Ek word bewus van ’n sterk onaangename reuk wat aan my ouma kleef, byna soos dié van die rookoffers op die begrafnis.

Daardie aand stop ek voor die huis met die adres wat die medestudent vir my gegee het. In my kar kan ek reeds die musiek hoor wat uit die huis bulder. In die oprit staan daar ’n groep mense wat naarstiglik baklei. Twee van die ouens stamp mekaar rond, terwyl ’n meisie hulle tevergeefs van mekaar probeer wegkry. Ek merk op dat haar maskara haar oë besmeer het. Sy moes gehuil het. My oog vang skielik die meisie wat gehurk in die bedding staan en kots. Haar vriendin staan agter haar en hou haar hare vas. ’n Groep seuns staan en lag uitbundig vir haar terwyl haar vriendin hulle vloek en skel. Daar is skielik ’n klop aan my venster. ’n Ou met ’n bloedrooi korset, ’n nou swart rompie en swart visnetkouse met stiletto’s aan, tuit sy bloedrooi lippe vir my en gooi sy swart feather boa oor sy skouer. Ek haal my oumagrootjie se swart rosary om my nek af en hang dit om my kar se truspieëltjie. “Forgive me, Father, for I have sinned,” prewel ek saggies terwyl ek uit my kar klim, die deur sluit en agter die ou aanloop wat uitdagend oor sy skouer vir my loer.

 


 

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top