Op julle merke,
penne reg – weg!
Die klok lui en
die penne hardloop
die wedloop oor die
bloubelynde, wit veld.
Dit krabbel en skrap
van een struikelbok
na ’n ander tot
dit oor die bladsy
teen die reguit, stewige
staaf gly.
’n Halfuur oor.
Uitasem tot stilstand
terwyl die veld geruil word.
Die wedloop teen tyd
vind verder plaas.
Die lewelose blou inkstokkie –
pap, seer en asemloos –
word neergegooi toe
die klok lui.
Penne neer – stop!
Die inkbesmette veld verdwyn.

