Nietige pactum successorium

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Een van die basiese beginsels van ons erfreg is dat ’n mense absolute vryheid geniet om jou goed te bemaak aan wie jy ook al wil. Regsgeleerdes praat van 'n mens se "testeervryheid". Hierdie vryheid sluit natuurlik die vryheid in om, as jy eenmaal 'n testament gemaak het, dit later te herroep of te wysig. Só belangrik is hierdie beginsel dat ons reg nie 'n ooreenkoms erken waarin iemand byvoorbeeld met 'n ander persoon kontrakteer dat hy nié sy testament sal wysig nie. Sulke ongeldige ooreenkomste staan in die reg bekend as pacta successorea – vry vertaal, ooreenkomste in verband met 'n mens se boedel en die vererwing daarvan.

Die algemeenste voorbeeld van 'n pactum successorium is ’n geval waar A vir B beloof dat hy iets in sy testament aan hom sal nalaat. Dieselfde geld 'n ooreenkoms tussen A en B dat A byvoorbeeld nie 'n sekere bate aan iemand anders, C, sal bemaak nie. In albei hierdie gevalle word A se vryheid om te maak met sy goed soos hy wil, deur sy ooreenkoms met B ingekort. Dit is, soos ek reeds verduidelik het, ongeldig. (’n Uitsondering op dié reël hou verband met behoorlik verlyde huweliksvoorwaardekontrakte, waarby ek nie nou stil gaan staan nie.)

Die appèlhof het op 16 September 1996 kans gehad om weer na hierdie hele aangeleentheid te kyk. Twee broers – Ian en Gilroy McAlpine – het elk 50% aandele in 'n maatskappy besit. Die enigste bate van die maatskappy was 'n groot stuk grond in Gauteng. Die twee broers het 'n diagram van die grond laat trek en dit netjies in twee dele verdeel. Op die een deel sou Ian woon en op die ander een Gilroy. Die broers het ooreengekom dat die een nooit sy deel aan iemand anders sou verpand nie en ook nooit sy aandeel in die maatskappy sou verkoop sonder om dit eers aan die ander broer aan te bied nie. Verder het hulle ooreengekom dat as een van hulle te sterwe sou kom, die ander onmiddellik 100% van die aandele in die maatskappy sou besit – met ander woorde, die een wat eerste sou sterf se 50%-aandeelhouding in die maatskappy sou onmiddellik by sy dood op die ander broer oorgaan.

Toe Ian 42 jaar oud was, het hy skielik gesterf, waarna Gilroy 'n eis teen die eksekuteur van Ian se boedel ingestel het vir oordrag van Ian se 50%-aandeel in die maatskappy aan hom. Die eksekuteur het geweier en uiteindelik het die saak voor die appèlhof in Bloemfontein gedien. Hoofregter Corbett, wat die uitspraak1 gelewer het, het beslis dat hierdie ooreenkoms tussen Ian en Gilroy – dat, as een van hulle te sterwe sou kom, die ander een onmiddellik die eienaar sou word van die oorledene se aandele in die maatskappy – voldoen het aan die klassieke beskrywing van 'n ongeldige pactum successorium. Dit was omdat die ooreenkoms tussen die broers elkeen van hulle die reg ontneem het om in sy testament te beskik oor sy 50%-aandeel in die maatskappy soos wat hy wil. Die ooreenkoms het die twee broers verbied om hul aandeelhouding in hierdie maatskappy aan byvoorbeeld hul vrouens na te laat. Die regter was tevrede dat hierdie ooreenkoms ongeldig was en dat dit gevolglik nie afgedwing kon word nie. Die hoofregter het egter bygevoeg dat waar ooreenkomste van hierdie aard deel vorm van 'n reeks kommersiële transaksies tussen mense, daar wel 'n saak uitgemaak kan word vir die verslapping van hierdie reël. Dit is egter nie die hof se taak om die reël te verslap nie en dit sal deur die wetgewer gedoen moet word. (Die Konstitusionele Hof het natuurlik ook die bevoegdheid om, in gepaste gevalle, die gemenereg in dié verband te “ontwikkel”.)

Die les is egter dat 'n mens versigtig moet wees oor hoe jy 'n kontrak bewoord. Twee vennote kan byvoorbeeld met die beste bedoelings 'n kontrak sluit oor wat met hul aandele in die besigheid na hul dood moet gebeur. Maar dit kan dalk, as gevolg van die regsreëls wat ek hier bo verduidelik het, ongeldig wees. As jy oor sulke kontrakte of oor die geldigheid van jou testament twyfel, gaan soek regsadvies by jou prokureur.

1  Vgl McAlpine v McAlpine NO & Another 1997(1) SA 736 (AD)

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top