In 1996 het Human & Rousseau 'n boek onder redaksie van Hulley, Kretzschmar en Pato, getiteld Archbishop Tutu: Prophetic witness in South Africa, gepubliseer. Die publikasie is gevier met 'n bekendstelling in een van die eetsale van die Parlement – die ou gebou, met reusagtige skilderye van vorige geslagte wit politici hoog teen die mure van dié saal. President Mandela was ons spesiaal genooide gas, maar hy sou eers na die toesprake by ons aansluit.
Ek had gemengde gevoelens oor die aand. Ek had 'n vreeslike griep onder lede en het voortdurend geblaf van die hoes. Boonop kon my vrou nie daar wees nie – sy moes by 'n skoolfunksie wees. (Sy sê vandag nog dat net een man haar laat wens het dat sy nie kinders gehad het nie, en dis Nelson Mandela.)
Maar daar was die vooruitsig om die President in lewende lywe te sien. Boonop had ek in daardie tyd 'n besoeker uit Engeland, wat uiteindelik deel was van die ongelooflikste klein vinjet saam met die President.
My besoeker was Tony Pocock, die agent aan wie André Brink sy rolprentregte toevertrou het, en 'n lewende legende in eie reg.
Pocock was een van die stigters van die Britse Booksellers Association. Koningin Elizabeth II het hom in 1972 met 'n OBE vereer, en sy naam word in dieselfde asem genoem as die groot geeste van die uitgewerswese van sy geslag, mense soos William Collins, Christina Foyle, die Blackwell-broers, Andre Deutsch en Allen Lane. Hy was op sy dag verkoopshoof van Oxford University Press en later Faber and Faber.
Hy het aksie gesien in die Tweede Wêreldoorlog, en was een van die Royal Marines wat op D-dag in Normandië op die strand moes koeëls ontduik. Hy het dieselfde dapperheid getoon toe hy jare later deur die Tsjeggo-Slowaakse polisie gejag is vir die smokkel van Engelse boeke in daardie kommunistiese staat in.
Pocock was 'n groot vriend van Koos Human, wie hy jaarliks besoek het om sy liefde vir rugby uit te leef. Ofskoon hy op sy dag die voorsitter van die sokkerklub Charlton was, was rugby sy passie, en hy het 'n paar gunstelinge gehad: Die All Blacks, WP, London Irish en Wasps. Die WP-deel het gesorg dat ons Tony gereeld in die laaste weke van die Curriebeker-toernooi gesien het.
Tony Pocock had ook 'n ander droom. Hy wou vreeslik graag vir Nelson Mandela ontmoet, vir wie hy sedert die vroeë sestigs bewonder het.
Henrietta Dax van Clarke's Bookshop het die aand van die boekbekendstelling haar tafeltjie met boeke net binne die ingang van die saal geplaas. Tony Pocock het daar met haar gestaan en gesels, effens skugter, maar so opgewonde soos 'n mens selde 'n 72-jarige sien.
Toe president Mandela by die deur inkom, het ek hom soos vereis ingewag. Soos dit met sulke dinge gaan was ek, ondanks alles wat ek myself vooraf wysgemaak het, totaal oorbluf. Ek kan nie onthou wie hom begelei het nie, maar ek vermoed dit was die redakteur van die boek, Linette Viljoen.
Niemand het my vooraf gewaarsku dat president Mandela so lank is nie – ek is ses voet, en hy het bo my uitgetroon. Hy het 'n warmte en menslikheid uitgestraal – jammer vir dié clichés, maar dit is presies wat dit is. Jy voel dadelik 'n ligter mens.
Sy handdruk was ferm, nie pap en koud soos dié van PW Botha wie se hand ek jare vantevore beleef het nie.
Die president het in die vertrek in begin beweeg. Ek kon sien hoe sy oë oor die mense beweeg. Toe breek daar 'n enorme glimlag op sy gesig oop, en hy peil reguit af op Tony Pocock.
Ek kon sien hoe Tony se oë rek, hoe hy vasgepen word deur die presidensiële glimlag.
President Mandela het sy hand uitgesteek na Tony, en met 'n luide stem uitgeroep, "Hello, young man!" en Tony se hand met 'n laggie geskud.
Tony het eers heelwat later daardie aand weer met mense begin praat.

