Namibiese Woordfees 2013: Liefdesbriewe

  • 0

Die eenvoudige, maar ystersterke, teks van die dramaturg AR Gurney se Liefdesbriewe is ’n wenner, en het al wêreldwyd op die planke gekom, maar dit sal die eerste keer wees dat dit ’n Afrikaanse kleurtjie kry. Die manlike rol van Andreas word in Vlaams vertolk, en die vroulike eweknie Melissa praat Afrikaans.

Die briewe wat ’n man en ’n vrou hulle lewe lank aan mekaar skryf word met sekure eenvoud onseremonieel die  ouditorium  ingestuur. Jo Decaluwe, die vermaarde Vlaamse regisseur en akteur, speel die rol van Andreas, wat baie daarvan hou om briewe te skryf. Teenoor hom speel Chrisna Beuke-Muir wat destyds die eenvrouvertoning Zus van (Lot Vekemans) in Afrikaans vertaal en gespeel het die vroulike rol van Melissa.

Andreas en Melissa ontmoet mekaar op sewejarige ouderdom, en begin dan al met hulle briefskrywery. Hulle is sterk tot mekaar aangetrokke, en Andreas oortuig Melissa om sy briewe te beantwoord. Soms verloor hulle mekaar tydelik uit die oog, maar neem dan weer die verhouding met intensiteit op.  Voor die toeskouer speel afwisselend, passievolle, deernisvolle en skreeusnaakse tonele af.

Toneelmatig is die stuk sterk, en dit steun op die krag van die woord. Die decor en rekwisiete is minimaal, maar die tot-die-man-/vrou-af teks is sterk.  Die suggestie wat by ’n liefdestema verwag word, is die verantwoordelikheid van die akteurs.

Liefdesbriewe is deel van die Namibiese Woordfees, en vind plaas Maandag en Dinsdag om 20h00 in die Warehouse Teater in Windhoek. Kaartjies kan verkry word by Computicket.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top