Naledi se Annelie Botes en Stefan Enslin by Vryfees in Bloemfontein

  • 0
Annelie Botes (foto: Lilian Zeelie)

Twee skrywers van Naledi tree vanjaar op by die Volksblad Vryfees wat van 9 tot 14 Julie in Bloemfontein gehou word. Annelie Botes stel haar nuwe boek Swart op wit bekend op 10 Julie om 14:30, en Stefan Enslin praat op 13 Julie om 11:30 oor sy debuutroman, Verskietende ster.

 

Enkele jare gelede het ’n mediastorm om die gewilde Annelie Botes se kop losgebars nadat sy in ’n Rapport-onderhoud gesê het sy hou nie van swart mense nie omdat sy hulle nie verstaan nie. Die SALA-prys wat Botes vir haar roman Thula-thula sou ontvang, is teruggetrek en haar dienste as rubriekskrywer is by verskillende publikasies beëindig.

Sedertdien het baie water in die see geloop en sy het ’n nuwe uitgewerstuiste gevind by Naledi.

Botes beskryf Swart op wit as ’n memorieboek vir haar kinders. Oor die gebeure wat haar die afgelope paar jaar in die literêre wildernis laat beland het, sê sy: “My dinkgoed het deurmekaar geraak.”

Dit was ’n donker tyd in haar lewe, maar sy is terug op die enigste manier wat sy kén, swart-op-wit loop sy haar spore van vyf-en-vyftig jaar na en deel met die leser dinge wat sy nie verstaan nie, wat haar bang maak en wat haar bly maak. Sy doen dit vir haar kinders en hulle kinders se kinders. “Want niemand op aarde wil spoorloos die langleer klim nie,” sê sy.

Botes se aanhangers kan uitsien na ’n verhaal van boetedoening, waarin die skrywer moeiteloos glip tussen kontrasterende stories: jongliefde, oumensliefde, tye toe die liefde ontbreek het. Soms lag sy uit haar agterkeel oor Basjan-kat wat haar skoot as sy gebied gemerk het, ander kere sak sy gebroke op haar knieë neer oor Jabu se rooi baadjie ...

“Ek sukkel met die lewe,” sê Annelie Botes, “niks kom ooit vir my maklik nie. Maar ek hou nooit op om te probeer nie. Die jimmele weet ...”

Stefan Enslin se Verskietende ster handel oor ’n 13-jarige seun met uitmuntende musiektalent. ’n Onderwyser ondersteun hom in sy pogings om sy talent te ontwikkel, maar sy lewe verander ná die dood. Hy word deur maats geboelie en sy pa se woede oor sy klavierspelery ontplof in ’n oomblik van brutale geweld. Enslin gesels met Zachie le Roux oor die verhaal wat op ware gebeure gegrond is en in die afsienbare toekoms as rolprent uitgereik gaan word.

Vir die volledige Vryfees-program, besoek http://www.vryfees.co.za/

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top