In Junie 2008 het die Britse Laerhuis wetgewing goedgekeur wat bepaal dat waarsêers, sieners, astroloë en mediums dit duidelik in hul reklame moet stel dat hul dienste net “vir vermaak” is en nie daarop mag aanspraak maak dat dit die waarheid is nie.
Dit is ’n wet wat Suid-Afrika maar gerus ook kan aanvaar, omdat verskillende plaaslike navorsingstudies oor ons bevolking se kennis van wetenskaplike moontlikhede getoon het dat die liggelowigheid van Suid-Afrikaners – tot hul eie skade en skande – geen perke ken nie.
In navorsingstudies oor wetenskapgeletterdheid in Suid-Afrika het Anastassios Pouris van die Universiteit van Pretoria reeds 20 jaar gelede bevind dat Suid-Afrikaanse volwassenes skrikwekkend min weet van die wetenskap. ’n Groot meerderheid van die bevolking is vasgevang in die nette wat waarsêers, sieners, astroloë en mediums daagliks in die media span. In ’n studie in 1991 deur Pouris wat in South African Journal of Science gepubliseer is, het 32% Suid-Afrikaners op die vraag “Would you say that astrology is very scientific, sort of scientific or not at all scientific?” geantwoord dat astrologie baie wetenskaplik is, en ’n verdere 31% dat dit soort van wetenskaplik is. In dieselfde studie het 54% van die respondente geglo dat die stelling “Die mens het uit ander spesies ontwikkel” vals is.
In ’n verdere studie deur Pouris in 2001 het die volgende interessante data na vore gekom: 84% van die steekproef wat by die studie betrek is, het aangedui dat wetenskap en tegnologie hul lewens makliker en geriefliker maak; 76% het geglo dat wetenskaplikes wil werk aan dinge wat die lewe beter maak; en 71% het geglo dat wetenskap en tegnologie meer geleenthede sal skep vir komende generasies. Ondanks hierdie positiewe sienings oor die rol van wetenskap in die samelewing het ’n onrusbarende 58% hul kommer uitgespreek oor die negatiewe invloed van wetenskap en tegnologie op die samelewing deur saam te stem dat ons te veel op die wetenskap vertrou en te min op geloof in godsdiens.
In 1999 het Blankley en Arnold in ’n studie oor die openbare begrip van die wetenskap in Suid-Afrika wat hulle in opdrag van die Stigting vir Navorsingsontwikkeling en die Raad vir Geestewetenskaplike Navorsing onderneem het, bevind dat meer as 30% van volwassenes nooit wiskunde op skool geleer het nie, 50% nooit biologie studeer het nie en 55% nooit aan fisika en chemie blootgestel is nie.
Watter rol speel die media in hierdie algemene wetenskap-ongeletterdheid van Suid-Afrikaners? Ongetwyfeld ’n onderskatte rol.
Hoe ingelig is Suid-Afrikaanse joernaliste oor die wetenskap? In ’n omvattende navorsingstudie wat ek tussen tussen 2009 en 2010 gedoen het oor die verhouding tussen die media en wetenskaplikes in Suid-Afrika, waarby 740 wetenskaplikes en 360 joernaliste landswyd betrek is, het een van die vrae gelui: “In watter mate glo jy as joernalis dat wetenskaplikes bewyse gevind het vir sekere bevindings wat in die nuus was? Volgens jou mening, het die wetenskap omvattende en oortuigende bewyse gevind vir die volgende?” Ek noem net enkele voorbeelde van die ontstellende oningeligtheid van Suid-Afrikaanse joernaliste oor wetenskaplike bevindings: net 32% van die joernaliste wat die vraelys voltooi het, glo die lewe ontwikkel deur ’n proses van evolusie, 41% glo dit nie en 27% weet nie of het geen mening daaroor nie. Verder glo 47% dat genoeg bewyse bestaan dat ’n intelligente ontwerper die aarde en die heelal geskep het en net 29% is van mening dat daar nie genoeg bewyse hiervoor is nie.
Dorothy Nelkin, ’n professor in sosiologie aan die Universiteit van New York tot met haar dood byna ’n dekade gelede, skryf hierdie oningeligtheid van joernaliste in haar boek Selling science – How the press covers science and technology toe aan “the confusion over the definition of ‘evidence’ … Most lay people accept as credible evidence anecdotal information or individual cases. So, too, do journalists.”
My studie is in November 2011 in die portuurgeëvalueerde vakjoernaal Communicatio (Volume 37(3), ble 351–66) gepubliseer met die titel “Science and the media in South Africa: reflecting a ‘dirty mirror’”. In een van die vrae wat in die studie aan wetenskaplikes gestel is oor hul mening van die algemene wetenskapskennis van joernaliste waarby hulle as navorsers betrokke was in wetenskapnuus, het wetenskaplikes aangedui dat byna een uit elke drie joernaliste “not very knowledgeable” is en byna een uit sewe “not at all knowledgeable”.
My studie het die Italiaanse wetenskapkommunikasie-kenner Massimiano Bucchi se beskrywing van wetenskapnuus wat deur ’n “vuil spieël” in die media gereflekteer word, bevestig. Die media se uitbeelding van wetenskapnuus geskied deur ’n ondeursigtige of vuil lens wat wetenskaplike feite nie doeltreffend kan reflekteer en filtreer nie.
Die Suid-Afrikaanse media wemel nog van ruimte en tyd wat afgestaan word aan die menings, sienings en uitsprake van waarsêers, sieners, astroloë en mediums, asof hierdie menings enige geldigheid in nuuswaarde het. Astrologie se beskrywing van hoe die wette van die natuur en kosmos werk en die invloed wat dit kwansuis op mense se lewens het, is ondubbelsinnig verbind met die media se inligting- en vermaaklikheidsfunksie en kom wyd voor as ’n geldige geloofstelsel in dagblaaie, heelwat tydskrifte en in programme oor die radio. Die uiters belangrike professionele beginsel in die joernalistiek van ’n duidelike skeiding tussen nuus en vermaak wat oor meer as 300 jaar ontwikkel is en ’n wesentlike invloed op demokratiese stelsels het, word hierdeur opgehef en genegeer.
My vraag is: Is die media nie besig om hul eie etiese kodes te versaak (soos uitgespel deur die gedragskodes van die Suid-Afrikaanse Persraad en -ombudsman en die Uitsaaiklagtekommissie) om nuus so akkuraat as moontlik weer te gee nie? Wanneer die pers, radio en televisie die menings van sieners en astroloë publiseer en uitsaai as geldige en geloofwaardige voorspellings oor hoe die toekoms mag ontwikkel, word hierdie etiese kodes oortree en word mediaverbruikers gelaat met wat die Amerikaanse fisikus Robert Park noem ’n onderstebo visie van hoe die wêreld werk.
So bevestig die Suid-Afrikaanse media hul eie gevaarlike ontkenning en miskenning van die wetenskaplike van die Universiteit van KwaZulu-Natal William Makgoba se waarskuwing oor die onderskeid wat voortdurend tussen wetenskap en pseudowetenskap getref behoort te word: “[W]hen science is being used by the powerful to promote ignorance or confuse rather than assault ignorance – that is pseudoscience.”
- George Claassen is die skrywer van Geloof, bygeloof en ander wensdenkery: Perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite (Protea Boekhuis).


Kommentaar
Daar is blykbaar geen opvoedkundige inrigting wat studente onderrig oor die metodes wat oor eeue ontwikkel is om feite te bewys nie. Joernaliste is ook produkte van die gebrek.
Ek het in 2007 'n vraelys aan 120 van my dokterskollegas gegee om in te vul, waarin ek oa gevra het of hulle glo aan wonderwerke ("Do you believe in miracles? Yes/No"). Ongeveer 75% het ja geantwoord. Maw in 'n populasie met minstens 6 jaar (sommige tien jaar plus) formele universitietsopleiding in 'n toegepaste wetenskaplike rigting, veronderstelde bogemiddelde intelligensie, en wat ten minste in beginsel weet wat bewys gebaseerde praktyk beteken, glo driekwart van hulle in wonderwerke! So ek verstaan dat die gemiddelde man op die straat sal glo wat Oom Siener te sê gehad het ...
Dit is nie net waarsêers ens wat verplig moet word om in hul reklame dit duidelik te stel dat hulle net vermaak verskaf nie. Selfs nog meer dringend moet die media straks onder dieselfde verpligting gestel word ...
Verblindende akademiese kennis:
Met die werklikheid te ingewikkeld vir begrip, word aangeleerde onsin hoogdrawend van geslag tot geslag oorgedra.
Ek dink byvoorbeeld die storie soos vertel in die dokkie "The Miracle of South Africa" is als behalwe 'n wonderwerk, inteendeel . . . .
Dis ongelukkig die waarheid wat jy hierbo beskryf. 'n Mens sou dink dat die jonger geslag met al die tegnologie en inligting tot hul beskikking, van beter sou weet. Maar dis nog steeds ongelooflik hoeveel onsin deur hulle geglo word.