Titel: Snowdrops
Skrywer: AD Miller
Uitgewer: Atlantic
ISBN:
9781848874534
Andrew (AD) Miller is in 1974 in Londen gebore en het aan Cambridge en Princeton studeer. Hy het reisartikels oor Amerika geskryf voor hy teruggekeer het Londen toe en as joernalis by The Economist begin werk het. Hy was ’n ruk lank dié publikasie se korrespondent in Rusland.
Sy eerste boek, The Earl of Petticoat Lane, is ’n niefiktiewe werk en word as ’n “family memoir” beskryf. Sy eerste roman, Snowdrops, speel in Rusland af en is benoem vir die Man Booker-prys. Die titel verwys na lyke – haweloses, moordslagoffers – wat letterlik toegesneeu word en eers weer verskyn wanneer die sneeu in die lente begin smelt.
Miller was onlangs in Suid-Afrika om aan die letterkundefees in Franschhoek deel te neem.
Maar hoekom Franschhoek? Daar word gereeld groter, meer bekende letterkundefeeste in groot wêreldstede gehou.
“Ek het baie goeie dinge oor die fees gehoor,” sê Miller. “Dis relatief nuut, maar het reeds ’n sterk reputasie. Een van die fees se goeie aspekte is dat hulle ’n mens goed besig hou: ek moes drie funksies binne vier dae bywoon. En natuurlik kon ek nie die kans laat verbygaan om Suid-Afrika te besoek nie.”
Miller was voorheen op ’n blitsbesoek aan Suid-Afrika, maar het Franschhoek vanjaar vir die eerste keer te siene gekry.
“Ek het een namiddag van al die boekdinge probeer wegkom en ’n bietjie in die Kaap rondgery. Kaapstad het een van die wêreld se mooiste kuslyne. Ek het ook ’n skool aan die buitewyke van Franschhoek besoek om ’n voorlesing te hou. Ek is – soos die meeste besoekers, skat ek – getref deur die vlak van de facto-segregrasie op die gebied van behuising en die ekonomie. En deur die vlak van frustrasie met die regering. Aan die ander kant is ek getref deur hoeveel die land in so ’n kort tydjie verander het.”
Van Suid-Afrika na Rusland: Stem hy saam met die algemene persepsie dat Rusland ’n land sonder hoop en sonder ’n toekoms is, ’n verwoeste oorblyfsel van die Koue Oorlog?
“Die situasie in Rusland allermins rooskleurig,” gee Miller toe, “maar ek glo nie dit sal altyd so neerdrukkend wees nie. Dit was nie onafwendbaar dat Rusland, twintig jaar ná die val van die Sowjetunie, deur ’n onderdrukkende KGB-offisier regeer sou word nie: dit kon baie anders gewees het. Ek dink dit sál eendag ‘anders’ wees, omdat die meeste Russe dieselfde behoeftes as die meeste ander mense het: die kans om ’n eerlike bestaan te maak, sonder om deur korrupte amptenare uitgebuit te word. Die Russe wil bepaal hoe hulle reageer word. Hulle sal eindelik hulle sin kry.”
In Snowdrops word Nick, ’n Britse regsgeleerde wat in Rusland woon en werk, algaande by Rusland se lelike, korrupte kant ingesuig: moraliteit en die wegkalwing van moraliteit speel ’n groot rol in dié roman. Dis nie dalk verwaand vir ’n debuut- en relatief jong romanskrywer om sulke temas aan te pak nie?
“Daar lê inderdaad ’n groot tema in die hart van hierdie boek: Hoe gebeur dit dat ’n ‘gewone’ persoon aandadig word aan boosheid?” sê Miller. “Al wat ek kan sê, is dat ek nie regtig daarin geïnteresseerd is om boeke te skryf wat beleef en verfynd is, maar die gróót kwessies systap nie.”
Die agtergrond waarteen ’n roman hom afspeel, het ’n besliste en beslissende effek op die hoofkarakter, veral wanneer die protagonis hom in ’n vreemde en soms bisarre land bevind. Groot stories gebeur wanneer ’n hoofkarakter hom, soms onwetend, probeer verset teen die “magte van verandering” wat deur ’n skrywer op hom, afgedwing word – stem hy saam?
“Een van die vrae wat in die roman gestel word,” verduidelik Miller, “is tot hoe ‘n mate dít wat met Nick, die verteller, gebeur, aan sy omgewing toegeskryf kan word; en tot hoe ’n mate dit toegeskryf kan word aan sy eie swakhede. Aan die einde van die boek sê Nick self: die een ding wat hy aan die einde van die winter ‘ontdek’ het, is homself – en tot waartoe hy alles in staat was.
“Dalk het dit niks met Rusland te doen nie, maar met iets baie oud en universeel: self-illusie; en in die besonder mense se vermoë om hulleself te oortuig dat die eintlike rede vir hulle optrede elders lê. Nick probeer homself oortuig dat hy net ‘die prokureur’ is, die persoon wat die papierwerk doen, dat hy nie regtig verantwoordbaar is nie.
“Aan die begin lees Snowdrops dalk soos ’n storie oor konkelende Russe en naïewe uitlanders, maar ek hoop dit is aan die einde van die boek duidelik dat die morele gegewe nie so eenvoudig is nie,” gesels Miller verder. “Die uitlanders, en spesifiek die verteller, is net so verantwoordbaar soos die Russe in die boek. Dit was ’n risiko om die boek só te skryf – pleks van die gewone ‘goeie ouens’ wat die ‘slegte ouens’ op hulle plek moet sit – deels omdat lesers dikwels verwag dat die skrywer simpatie met die verteller by hulle sal opwek. Al hou lesers dalk teen die einde van die boek nie van die verteller nie (indien hulle wel van hom hou, het die boek gefaal), hoop ek lesers sal die verteller se optrede begryp, die toenemende kompromieë wat hy op morele gebied moet aangaan. En dat hulle sal wonder hoe hulle self in soortgelyke situasies sou reageer.”
Die hoofkarakter Nick se ondergang kan aan sy swakheid én aan Masha, sy minnares, toegeskryf word. ’n Man wat deur ’n vrou “verlei” word om hom aan boosheid oor te gee, is ’n universele en baie ou meganisme in die literatuur. Maar Miller het nie dié tegniek gebruik bloot om sy boek ’n klassieke geurtjie te gee nie.
“Nick het beslis ’n swak vir vroue – hy is redelik ongure ou – en spesifiek vir Masha. Maar hy bepaal ook sy eie lot. Hy is die hele tyd bewus van wat om hom gebeur, maar hy verkies om anderpad te kyk. As ’n mens oor genres wil praat, dink ek hierdie boek sluit aan by die tradisie van ‘ekspat-dramas’, soos dié wat veral Graham Greene geskryf het.
“Om jou protagonis in ’n vreemde ruimte te plaas, is ’n doeltreffende manier om morele veronderstellings te toets en bloot te lê: wie sal hy word – wie sal jý word – sonder die beperkinge en reëls waarmee jy grootgeword het?”
’n Laaste woord oor Franschhoek: hy wil graag weer die fees bywoon. Dit was goed georganiseer, Franschhoek is prentjiemooi en die gehore was besonder reaktief. “Die moderators van die funksies waaraan ek deelgeneem het, was professioneel en goed ingelig. Dit was wonderlik om Christopher Hope, die Suid-Afrikaanse skrywer wat net so entoesiasties is oor Moskou soos ek, te leer ken. Ek het ’n fassinerende gesprek oor korrupsie met Njabulo Ndebele, David Lewis en Shaun Johnston gehad: ek was bevoorreg om ’n verhoog met sulke uitgelese Suid-Afrikaners te kon deel. Ek het baie vriende hier gemaak.”
En volgende keer, as alles goed gaan, bring hy sy kinders saam Suid-Afrika toe.
- JB Roux is ’n vryskutjoernalis van Riebeek-Wes.

