'n Dronk stoot is stout

  • 1

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Het jy geweet dat dit al in ons reg gebeur het dat iemand daaraan skuldig bevind is dat hy ’n motor onder die invloed van sterk drank bestuur het sonder dat hy eens in die motor was? Dit is wat jare gelede met ene mnr Rooyen van Pretoria gebeur het.

Rooyen het ’n partytjie bygewoon "waar die voggies taamlik gevloei het", soos ons lief is om te sê. Toe hy huiswaarts wou keer, kon hy nie sy Volkswagen-kewer aan die gang kry nie. Hy en ’n vriend het besluit om die karretjie maar huis toe te stoot.

’n Entjie met die pad af het hulle die Volksie teen ’n geparkeerde motor vasgestoot. En so, met stampe en stote, het hulle ’n paar straatblokke ver gevorder, totdat hulle die nuuskierigheid van ’n geregsdienaar geprikkel het. Dit het hom nie lank geneem om die situasie op te som en Rooyen daar en dan in hegtenis te neem nie.

Rooyen is daarna aangekla van ’n oortreding van ’n bepaling van die destyds geldende Padverkeersordonnansie wat só gelui het: "Iedereen wat op ’n openbare pad ... ’n voertuig dryf ... terwyl hy onder die invloed van sterk drank ... is, is skuldig aan ’n misdryf.”

Rooyen se verweer was dat hy die motor van buite af op koers gehou het – seker deur die oop venster aan die bestuurder se kant – en dat hy op geen tydstip binne-in die motor was nie. Hierdie getuienis is deur die landdros aanvaar, asook Rooyen se ietwat onwaarskynlike getuienis dat hy op afdraandes die motor se spoed verminder het deur rem te trap sonder dat dit vir hom nodig was om in die motor te klim. Les bes het Rooyen ook erken dat hy tydens die voorval onder die invloed van sterk drank was.

Die landdros het hom egter aan dronkbestuur skuldig bevind en tot ’n boete van R100 of 100 dae gevangenisstraf gevonnis. Dit was destyds ’n stywe vonnis en daarom moes sy saak ingevolge die destydse Strafproseswet deur ’n regter van die hooggeregshof hersien word. Die hersiening het voor regter Boshoff gedien.

Die regter moes beslis of Rooyen op die feite wat voor die hof geplaas is, wel die motorkar "gedryf" het in die sin waarin dié woord in die ordonnansie gebruik is.

Regter Boshoff se uitspraak is ’n interessante voorbeeld van hoe die hof soms selfs van hulpmiddels soos woordeboeke gebruik moet maak om die ware bedoeling van die wetgewer te probeer bepaal.

Die regter het onder meer gekyk na die gesaghebbende Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), waarvolgens die woord dryf verskeie betekenisse het. So beteken dit, met betrekking tot ’n motorvoertuig, dieselfde as bestuur, en volgens die WAT beteken bestuur, waar dit in verband met ’n voertuig gebruik word, "rigting gee aan die beweging daarvan”.

Volgens die Oxford English Dictionary beteken die woord drive, wat in die Engelse teks van die ordonnansie gebruik is, "to urge onward and direct the course of”.

Die hof was tevrede dat die landdros Rooyen met reg aan dronkbestuur skuldig bevind het, al was Rooyen nie binne-in die Volksie nie, "want", het regter Boshoff beslis, "hy was die persoon wat rigting gegee het aan die beweging van die motorkar en in beheer was van die stuurmeganisme".

Arme Rooyen. Pleks dat hy maar ’n taxi laat kom het.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 1

Kommentaar

  • In my jongdae het jy ure tussen Pretoria en Kaapstad gery sonder om verkeer in die teenoorgestelde rigting teë te kom. Vandag se dae is daar feitlik geen gaping van meer as vyf minute tussen voertuie nie.

    Daardie dae was die alkohol perk 0.15. ’n Groot "toegewing" teenoor vandag se wettige perk. Hier was onlangs ’n voorval waartydens ’n jong skoolseun noodlottig beseer is toe hy deur ’n vermeende dronkbestuurder raakgery is.

    Die polisie en verkeerspolisie word verkwalik omdat hulle nie hul werk gedoen het deurdat hulle versuim het om ’n bloedmonster te neem.

    Lyk my daar is ’n klem verskuiwing in die bewyslas dat ’n laboratorium verslag die alfa en die omega is in sake van hierdie aard.

    Die alkohol verslag in daardie dae was eintlik maar addisionele getuienis en gebruik om te weet hoe dronk die bestuurder was in die bepaling van die straf, teenoor die getuienis van omstanders en ooggetuies wat die  deurslag gegee het vir ’n skuldigbevinding.

    Ek was deur my kollega's beskou as ’n kenner op die gebied van padvoertuigbotsings en het baie sake bewys deur gebruik te maak van oog en ander getuies. Daardie tyd was die venster periode 4 uur na die botsing vir bloedmonsters teenoor vandag se 2 uur. Dis heeltemal te min tyd veral op die hoofpaaie waar die polisie ver van die toneel is.  

    Is die huidige Polisie nie bewus daarvan dat ’n bloedalkohol verslag nie eintlik benodig word nie. Dis mos nie die enigste getuienis wat ’n voorsittendebeampte benodig nie.

    ’n Veilige vakansie seisoen vir almal.

    Raed-na-Gael

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top