Myners se lone

  • 2

Die lone wat aan myners betaal word, is myns insiens darem bitter min en onvoldoende. Wie van ons kan leef op R4 000 per maand? Die werk wat hulle doen is baie belangrik vir die land se ekonomie en alle Suid-Afrikaners baat daarby, deur die belasting wat aan die regering betaal word en ander ekonomiese voordele wat dit inhou, soos om die betalingsbalans te verbeter deur geld wat van oorsee inkom.

En die mynbase floreer! Hulle maak miljarde terwyl die werkers swoeg om te oorleef.

Ek sê nie die lone moet sommer nou al opskiet na R12 500 per maand nie, maar R8 000 lyk vir my darem meer aantreklik. Stel dan eerder minder mense aan deur tot ’n mate te meganiseer, maar nie tot so ’n mate dat dit grootskaalse werkloosheid tot gevolg het nie. Ek moet toegee dat dit die werkloosheidsyfer sal opjaag, maar dan sal ons waarskynlik minder stakings hê, wat geweldige skade aan die ekonomie aanrig.

Groete,

Varkspek

  • 2

Kommentaar

  • Varkspek

    Die aspek wat jy uit die gesig verloor is die kwessie van vraag en aanbod. In ’n vrye mark word prys deur hierdie fenomeen bepaal. Omdat die taak van mynwerker nie besondere vernuf of geleerdheid verg nie is daar ’n ooraanbod van mense wat gate in rotse kan boor en gewone hande-arbeid doen. ’n Lukrake vasstelling van lone, gebaseer op emosionele redes en nie op markbeginsels nie, is die eerste tree op ’n baie glibberige helling wat wêreldwyd uitgewys is as onhoudbaar en die skepper van nog groter ellende.  

    Hoe hard en ongenaakbaar dit nou mag klink maar die uiteindelike oplossing vir die geskil in die mynbou is dat die huidige werkers wat nie bereid is om vir die “lae” lone te werk nie vervang moet word met dié wat wel bereid is. As ons dit nie doen nie sal mynboumaatskappye eenvoudig deure toemaak en hulle heil elders gaan soek waar die arbeidsmag bereid is om te werk vir dit wat die mark bepaal hulle werd is.  

    Net so terloops, my aanstaande skoondogter het haar vyfjaar B.Rek. LL.B. graad voltooi en na 2 jaar se klerkskap het sy ’n vaste aanstelling gekry teen R 11 000 per maand. Dis wat die mark haar aanbied en dis waarmee sy tevrede moet wees. As sy nie daarvan hou nie kan sy ook by die huis sit omdat daar heelwat mense is wat toustaan vir die pos.  

    Dit lyk vir my of die sosialistiese dogma van die SAKP en COSATU nou jou kop begin sag maak.  

    Groetnis  
    Thomas

  • Vraag en aanbod: "Baie ouens wil die job hê en ek kan net een aanstel, so ek kan ’n lekker lae salaris betaal – meer geld vir my!"

    Of in die handel: "Ek het net een yskas en honderde wil dit koop, dus kan ek die prys sterk opstoot."

    Dit gaan oor menslike gierigheid en nie ’n wet van die natuur nie. Ek soek net menslikheid en jy is reg, ek is baie besorg oor die armes, maar nie Cosatu of SAKP nie. Die hele besigheidswêreld sal nie ondergaan as daar net meer eerlikheid en medemenslikheid inkom nie. Kapitalisme is ook nie so wonderlik nie, want selfs in die VSA is daar armoede en ellende. Die hoë verbruik weens rykdom besoedel die aarde en sal ons nog vernietig.

    Waarom bou die myne nie ten minste beter huisies vir die werkers nie?

    As my kop sag is, was hy nog altyd so.

    Groete,

    Varkspek

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top