Motoriste en kinders

  • 0
blogsbabycentre.com

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Op 12 September 1977 is 'n seuntjie van vier en 'n half jaar oud deur 'n motor in Voortrekkerstraat, Goodwood in die Kaap omgery. As gevolg van die beserings wat hy opgedoen het, het sy vader 'n skadevergoedingsaksie ingestel teen die derdepartyversekeraars van die voertuig wat hom omgery het.

Die hof het bevind dat die seuntjie se vader nie bewys het dat die bestuurder van die versekerde voertuig nalatig was nie, en het die eis van die hand gewys. Teen dié uitspraak het die vader geappelleer, en die saak het in 1983 voor drie appèlregters in Bloemfontein gedien. Die appèlhof se uitspraak is 'n belangrike uiteensetting van die plig van motoriste teenoor jong kinders.

Maar eers die feite. Die seuntjie en sy moeder was besig om die besige Voortrekkerstraat oor te steek. Hulle het tot op die verkeerseiland in die middel van die straat gevorder waar hulle gewag het vir die verkeer om verby te gaan. Die moeder het nie fisiese beheer oor die seuntjie gehad nie, want in haar een hand het sy 'n brood vasgehou, en op haar ander arm het sy haar baba gedra. Terwyl hulle so op die verkeerseiland gestaan het, het die seuntjie aan sy ma se rok vasgehou.

Nadat 'n voertuig verbygegaan het, het hulle gewag vir 'n tweede voertuig om verby te gaan. Die seuntjie het skielik sy ma se rok gelos en vinnig oor die straat begin hardloop. Sy ma het vir hom geskreeu om stil te staan, maar tevergeefs. Hy was al byna oor die straat toe hy deur die tweede voertuig getref is.

Na die ongeluk het die dame wat die voertuig bestuur het, vir die seuntjie se moeder gesê dat sy hom wel gesien het, maar versuim het om dood te rem omdat sy bang was dat haar eie kinders, wat by haar in die motor was, sou seerkry.

Die appèlhof se uitspraak is deur appèlregter Botha gelewer.1 Die regter het eers 'n paar algemene opmerkings gemaak oor die plig van 'n motoris wat klein kindertjies langs die pad gewaar. So 'n motoris moet besondere versigtigheid aan die dag lê, vanweë die welbekende geneigdheid van kinders om op 'n onbesonne wyse oor ‘n pad te hardloop. 'n Redelike, versigtige, bestuurder is daarop bedag dat so iets kan gebeur. Hy bestuur dus op so 'n wyse dat hy kan waak teen so 'n gebeurlikheid en in staat is om dit die hoof te bied.

Wat presies van die motoris verwag word, hang af van die omstandighede van elke geval – byvoorbeeld hoe sigbaar 'n jong kind is; sy oënskynlike ouderdom; hoe naby aan die kant van die pad hy is; tekens dat hy van plan is om die pad oor te steek; in welke mate hy onder die toesig van 'n verantwoordelike persoon is; hoe breed die pad is; die vermoë van die voertuig om vinnig te kan stop; die padoppervlak, ensovoorts.

Toegepas op die feite van die betrokke saak, was die hof van mening dat die dame wat die voertuig bestuur het, haar voet van die petrolpedaal moes afgehaal het toe sy die kind die eerste keer gesien het. Sy moes haar voet daarna liggies op die rempedaal gehou het – gereed om onmiddellik die remme te gebruik indien dit nodig sou word. Dit was die minste wat sy moes gedoen het – veral omdat dit vir haar duidelik moes gewees het dat die seuntjie nie onder die fisiese beheer van sy moeder was nie, en ook omdat hy self geen aanduiding gegee het dat hy bewus was van die aankomende motor nie.

Die hof was dus van mening dat die bestuurder van die voertuig nalatig was, en dat die skadevergoedingseis toegestaan moes word.

1     Vgl Keown v Ned-Equity Versekeringsmaatskappy Bpk  1984(1) SA 656 (A)

 

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

                                                      

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top