Moord onder dwang

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Gedurende die aand van 11 September 1970 het twee mans – wat in die latere hofsaak bloot as beskuldigdes 1 en 2 geïdentifiseer is – in die buitewyke van Knysna gestap. Albei die beskuldigdes was effens onder die invloed van drank. Beskuldigde 2 was ongeveer 18 jaar oud en klaarblyklik 'n aantal jare jonger as beskuldigde 1.

Terwyl hulle nog so gestap het, het hulle 'n vreemdeling teëgekom. Beskuldigde 1 het die vreemdeling voorgekeer en gevra of hy sigarette of geld het. Toe die vreemdeling ontkennend antwoord, het beskuldigde 1 aan hom gesê dat hy hom gaan doodsteek – en hom daarna gewoon met 'n mes in die bo-maag gesteek. Nadat hy die slagoffer een messteek toegedien het, het hy vir beskuldigde 2 gesê om die vreemdeling vas te hou. Beskuldigde 2 – jy sal onthou dat hy die jonger man was – was bang en wou dit nie doen nie, maar beskuldigde 1 het aan hom gesê dat as hy die vreemdeling nie vashou nie, hy beskuldigde 2 óók sou doodsteek.

Beskuldigde 2 het daarna die vreemdeling se arms agter sy rug vasgehou en beskuldigde 1 het hom aangerand. Daar was altesaam dertien messteke: twee in die bo-maag, vyf in die nek en ses in die rug. Die vreemdeling het inmekaar gesak en die twee beskuldigdes het hom vir ongeveer 'n kilometer langs 'n voetpad gedra en gedeeltelik in 'n stroompie water in die bosse neergelê. Die vreemdeling was op daardie stadium reeds dood. Beskuldigde 1 het vir beskuldigde 2 aangesê om die oorledene se skoene uit te trek, maar beskuldigde 2 was onwillig, waarop hy wéér deur beskuldigde 1 gedreig is. Beskuldigde 1 het daarop die oorledene se klere uitgetrek en onder sy kop gesit nadat hy sy sakke deursoek het om te sien of die ongelukkige vreemdeling nie tog wel geld of sigarette by hom gehad het nie.

'n Tyd daarna is die twee beskuldigdes deur die polisie aangekeer en hulle is albei weens moord aangekla. Die verhoorhof het bevind dat beskuldigde 2 'n medepligtige tot die handelinge van beskuldigde 1 was. Die hof het die omstandighede waaronder die moord gepleeg is, noukeurig ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat beskuldigde 2 onder dwang en vrees vir sy lewe gehandel het en dat hy onskuldig was aan moord.

Die Staat het daarna ingevolge 'n bepaling van die Strafproseswet sekere regsvrae aan die appèlhof voorgehou. Die appèlhof moes onder meer besluit of dwang ooit in ons reg 'n volledige verweer op 'n klag van moord kan wees wat tot gevolg kan hê dat 'n beskuldigde onskuldig bevind kan word.

Appèlregter Rumpff, wat lateraan hoofregter geword het, het die hof se baie interessante uitspraak gelewer.1 Die appèlregter het daarop gewys dat daar in ons reg onderskei word tussen noodweer en noodtoestand as strafuitsluitingsgronde (ook genoem “regverdigingsgronde”).

By noodweer tree 'n persoon op om 'n wederregtelike aanval op hom (of ‘n medemens) deur 'n ander mens af te weer.

By noodtoestand, weer, tas 'n persoon die regte van 'n ander aan onder dwang van omstandighede wat uitgeoefen word deur natuurkragte of 'n ander mens. Die lastige vraag waaroor die hof in hierdie besondere geval moes beslis, was of 'n mens ooit, wanneer jou eie lewe in so 'n noodtoestand bedreig word, 'n medemens regmatiglik mag doodmaak.

Die hof het daarop gewys dat die vraag 'n ingewikkelde regsvraag is wat ook talle morele, etiese en godsdienstige implikasies het. Die hof het verwys na uiteenlopende sienswyses wat oor baie jare heen deur skrywers, filosowe en ook die howe in Amerika, Engeland en die Europese vasteland oor hierdie aangeleentheid ingeneem is. Regter Rumpff het byvoorbeeld verwys na die baie bekende Engelse strafsaak Rex v Dudley and Stephens, waarin vier skipbreukelinge – van wie een 'n seun was – dae lank op die oop see in 'n reddingsbootjie rondgedobber het. Die seun was op sy laaste en sou waarskynlik spoedig gesterf het. Twee van die drie volwassenes – Dudley en Stephens – het daarna die seun doodgemaak en dele van sy liggaam geëet ten einde self aan die lewe te bly. Dit het klaarblyklik tot hul oorlewing bygedra. Nadat hul gered is, het die grusame gebeure aan die lig gekom en is hulle van moord aangekla.

Die hof het beslis dat 'n mens nooit in ‘n noodtoestand jou eie lewe hoër kan ag as die lewe van 'n medemens nie. Dit is natuurlik anders in noodweer ("selfverdediging"), waar jy deur iemand aangeval word en jy so 'n persoon effektief kan afweer slegs deur hom dood te maak. In só 'n geval tree jy op in noodweer – wat iets anders is as 'n noodtoestand.

Nadat hoofregter Rumpff gewys het op die ontwikkeling van die reg op hierdie terrein, het hy na ons eie regstelsel gekyk en die volgende interessante opmerkings gemaak :

By die toepassing van óns strafreg, ... geld die beginsel dat aan die beskuldigde nooit hoër eise gestel word nie as wat redelik is, en redelik beteken in hiérdie verband dit wat van die gewone deursnee-mens in die besondere omstandighede verwag kan word. Dit word algemeen aanvaar ... dat vir die gewone mens in die algemeen sy eie lewe belangriker is as die lewe van 'n ander. Alleen hy wat met 'n kwaliteit van heroïsme bedeeld is, sal doelbewus sy lewe vir 'n ander offer. Indien die strafreg sou bepaal dat dwang nooit as verweer teen 'n aanklag van moord kan geld nie, sou hy vereis dat 'n persoon wat 'n ander onder dwang doodmaak ... moes voldoen het aan 'n hoër vereiste as dié wat aan die deursnee-mens gestel word. Só 'n uitsondering op die algemene beginsel wat in die strafreg toegepas word, skyn my nie geregverdig te wees nie.

Die hoofregter kom dus tot die gevolgtrekking dat iemand in ons reg wel onder sekere omstandighede van moord vrygespreek kan word wanneer hy onder dwang gehandel het. Elke geval sal op sy eie ondersoek moet word en die hof sal moet vasstel hoe ernstig die dwang was wat uitgeoefen is. Dit wil lyk asof die hoofregter sê dat dit só sterk moes wees dat 'n redelike mens dit in die besondere omstandighede nie sou kon weerstaan nie.

Die hof het daarná die omstandighede ondersoek waaronder beskuldigde 2 deur beskuldigde 1 gedwing is om op daardie noodlottige aand in Knysna die arme weerlose vreemdeling om die lewe te bring en tot die gevolgtrekking gekom dat hy geen keuse gehad het nie as om saam te werk. Daar was geen redelike kans vir hom om byvoorbeeld weg te hardloop nie; gevolglik was hy nie aan moord skuldig nie en is sy vryspraak bevestig.

1  Vgl Staat v Goliath 1972(3) SA 1 (A)

 

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top