
Die derde MK Musiekvideoprojek-wenners se video’s word Donderdagaand die 22ste November in Kaapstad bekendgestel. Met dubbel soveel inskrywings as verlede jaar, moes die organiseerders lank en hard dink om die finaliste te identifiseer. En net twaalf van Suid-Afrika se talentvolste musiekgroepe is die geleentheid gegee om 'n liedjie van hulle keuse in 'n musiekvideo te omskep.
LitNet het met MK se inhoudsbestuurder, Stephan Potgieter, gesels oor die proses en dít waarna ons later hierdie week kan uitsien.
Hoe vergelyk hierdie jaar se MVP Top 12 met verlede jaar s’n?
Dis maar moeilik om ’n vergelyking te tref. Die kunstenaars verskil wel, maar wat die kwaliteit van hulle musiek en video’s betref, is dit net so goed soos verlede jaar. Ons het 'n punt bereik waar sommige van ons Suid-Afrikaanse video’s op internasionale vlak kan meeding.
Ek sien die helfte van die kunstenaars is bekend en die ander is nie so bekend nie. Hoe het julle besluit om dit so te kombineer?
Ons beoog met hierdie projek om die onbekende kunstenaars die geleentheid te gee om hulle beeld te bou deur met bekende, gevestigde kunstenaars in aanraking te kom en ook deur die publiek met hulle geassosieer te word.
Watter kriteria het julle gebruik om die top 12 te kies?
Dit was ’n lang, moeisame proses waartydens ons na elke inskrywing gekyk het. Waarna ons gekyk het: die posisionering van die groep of kunstenaar, die liedjie, die visuele elemente van die voorgestelde video en hoe goed die konsep by die MK-handelsmerk inskakel.
Wat maak 'n goeie musiekvideo?
Kwaliteit is die eerste, belangrikste ding. Daarna die kreatiewe uitvoering, storielyn, en kinematografie.
Van watter soort musiekvideo’s wil MK meer sien?
Wat genre betref, wil ons niks spesifiek sien nie, maar ons sal graag meer gehalte- Afrikaanse video’s wil uitsaai. Daar is 'n groot aantal kunstenaars en groepe in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf wat ongelooflike potensiaal toon. As die MK MVP vir hulle 'n platform word om hulle projekte te bevorder, is dit wonderlik!
Dis nie goedkoop om ’n musiekvideo te maak nie – nog minder 12 individuele video’s. Wie is die borge en hoe was dit moontlik?
Daar was geen borge nie. Hierdie is ’n projek waar MK geld terugploeg in die industrie, iets wat die kanaal gereeld doen op vele maniere.
Hier is die top 12 groepe en die liedjies wat op video vasgevang is.

aKING, “Jezebel”, vervaardiging deur Supra Familias

Bicycle Thief, “Goodbye Ian Curtis”, vervaardiging deur Motion City Films

Die Skynmaagde, “Die Kommunis sokkie”, vervaardiging deur Sound Surgeon CC

Die Tuindwergies, “Blou gras”, vervaardiging deur VPH Films

Jack Parow, “Afrikaans is dood”, vervaardiging deur Little Big Productions

Jakkals, “Rum trifle”, vervaardiging deur Crave Pictures

Gazelle, “Val van die ryk”, vervaardiging deur 187 Pictures

PH Fat, “Business business crash”, vervaardiging deur CAB

Shortstraw, “Waterworks”, vervaardiging deur Mustard Post Production

Spoegwolf, “Somerset-Wes”, vervaardiging deur The Suits

The Plastics, “Best pretenders”, vervaardiging deur Andover

Van Coke Kartel, “Buitenkant”, vervaardiging deur Groundglass
Besoek LitNet Vrydagoggend die 22ste November om die wen-video’s vir die eerste keer te sien.
Volg @mylitnet op Twitter vir twiets tydens die videobekendstelling Donderdagaand die 21ste November.
#MKMVP is die amptelike hutsteken.
Jy kan ook op MK se sosiale netwerke gaan loer:
Facebook: www.facebook.com/MKtv.co.za
Twitter: @mktv_

