Die week in woorde
Wat kort ’n gedig om te groei? Ek het altyd aangeneem dis vars lug en vrede, of die ander uiterste dan: emosionele upheaval of ten minste ’n ligte geestesversteuring. Maar nee, dis nou uiteindelik wetenskaplik bewys:* wat ’n gedig kort om te groei is in sekere (die meeste?) gevalle net ’n deadline en ’n Red Bull.
Daar is die digters wat sê dat ’n gedig homself aan hulle kom opdwing, iets oos ’n chihuahua met ’n behoefte wat al om jou been neuk. Petra Müller beskryf dit as ’n bevlieging. Haar Engelse vertaling is “bejumping”: “Die ding kom sit hier op my nek. Dis makliker om dit te skryf as om dit nie te skryf nie.”
O, kon daar maar een dag wees met so ding wat hier in my nek kom sit! Maar nee, nee. Dié van ons vir wie dit nie vinnig kom, of “dringend soos diarree”** nie, moet ons beroep op die Red Bulls en die deadlines.
Ja, geleentheidsverse is miskien in baie gevalle verleentheidsverse, maar soms is ’n geleentheid juis die kunsmis wat maak dat saadjies wat lankal ondergronds lê en wag om op te kom, oorgehaal word tot aksie en begin ontkiem. Die geheime bestanddeel is egter die Red Bull, waarsonder die geleentheid (lees: sperdatum) nie genoeg sou wees om die gedig te laat gebeur nie.
Dié tyd van die jaar is dit nie net die blomme wat oral opkom en bloeisels en blare wat floreer nie: dis ook die tyd van die jaar wanneer elke naweek een of ander geleentheid oplewer, en elke geleentheid ’n digter of drie wat swier aan die verrigtinge verleen met die voordraery van ’n gevleuelde woord-of-wat.
Een digter*** wat ek ken (haar naam word verswyg om haar privaatheid te beskerm, maar mense wat gereeld hier lees, ken haar waarskynlik ook) is maar altyd al te dankbaar vir die uitnodiging om by ’n geleentheid op te tree ... dis die enigste aanvaarbare verskoning om ’n Red Bull weg te slaan en die enigste manier waarop sy ooit ’n vers te voorskyn bring. Daarom dat sy bly was om te hoor van die “Tuin van die Digters”-geleentheid by die Breytenbach-sentrum wat die komende naweek plaasvind. En ekstaties om gevra te word om ’n gedig te skryf (op ’n klip, nogal!) en dit in die tuin in te kom messel. Soos die sperdatum nader kruip, wil-wil dit vir haar begin voel of hier iets in haar nek kom sit – of dan in haar dikderm. Dit wil-wil voel soos ’n tuingedig. Maar wie sou kon sê voor die ding lyf kry, en lewe, op die nippertjie, op die laaste oomblik voor die heel laaste minuut voor die geleentheid, waar hy dan skamerig sy blaartjies oopvou en homself aan die son offer?
Dis heerlike lente, die seisoen van geleentheid, en mag dit beteken dat daar oral en vir almal gedigte begin opkom. Met of sonder die hulp van ’n Red Bull. It gives you words and wings.
* ’n Gewillige digter is in ’n paar afsonderlike eksperimente gebruik om die hipotese te bewys. Geen diere (buiten rooi bulle) is gedurende die eksperiment benadeel nie.
** Aldus Loftus Marais in “’n Pleidooi vir vinniger kuns”
*** Die woord word in die losste moontlike sin gebruik.
Geleentheid op geleentheid
Hier is die geleenthede waar ek vandeesweek ’n digterlike draai gaan maak – genadiglik nie almal voordraggeleenthede nie!
13 September: Bekendstelling van die kortverhaalbundel Nuwe Stories, met 21 kortverhale deur 20 skrywers onder 30.

14 November: Die ATKV-Woordveertjies word buite Stellenbosch uitgedeel! (Ek hoef niks voor te dra nie, maar ek gaan wel die Poësieprys aan ’n waardige wenner oorhandig.)
15 November: ’n Hele dag van heerlike digterlikheid by die Breytenbach-sentrum. Klik hier vir al die inligting. ’n Huldigingsbundel vir Adam Small word oa bekendgestel. Lees Breyten Breytenbach se voorwoord tot die bundel en van die verse oor Adam Small hier.

Adam Small, vermoedelik in Distrik 6, saam met kinders uit die buurt (jaartal onbekend). Foto:NALN
Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.

