Marita van der Vyver help woorde borg

  • 0

Klik hier om Die blou van onthou te koop by Kalahari.com.

"Niks is so ver soos die onlangse verlede nie."

Aan die woord is die Afrikaanse skrywer Marita van der Vyver. Sy het by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se kantore in Stellenbosch gepraat oor haar nuwe boek, Die blou van onthou, voor ’n (weliswaar klein) stampvol saal. Sowat 50 mense het die saal volgepak.

Nie slegs Van der Vyver se nuwe roman was egter ter sprake nie – Willem Botha, hoofredakteur van die WAT, het daarop gewys dat Van der Vyver gekies is as beskermvrou van die WAT se volgende ronde van “Borg ’n woord”. Onder meer het Van der Vyver se uitgewer, Tafelberg Uitgewers, die woord blou geborg vir R5 000, na aanleiding van die titel van haar roman. Klik hier om meer oor dié projek te lees.

Van der Vyver het daarop gewys dat die boek reeds geruime tyd gelede in alle boekwinkels beskikbaar moes gewees het, maar die vragmotorstaking het ’n stokkie daarvoor gesteek. "Dit sou hier gewees het, maar nou het ek net my eie kopie hier!" Hieruit het sy voorgelees aan die gehoor, wat telkens sou saam lag of saam sug met die sinne.


Willem Botha en Marita van der Vyver

Die boek het haar twee jaar geneem om te voltooi, het sy vertel.

Op Kalahari.com word die roman as volg beskryf:

In die skemer van haar lewe kry Colette Cronjé ’n brief van ’n lank vermiste familielid. Dit kom uit Portugal en dit dwing haar om alles te onthou wat sy ’n leeftyd lank probeer vergeet het. Want wat ’n halwe eeu gelede in Portugal gebeur het, het haar eie lewe asook die van die volgende twee geslagte onherroeplik verander. Haar dogter, Nandi, se verset teen haar ouers en haar afkoms is so verreikend dat sy haar kind vir aanneming weggee, alleen oorsee vlug en alle bande met haar familie verbreek. Haar kleindogter, Tina, word groot sonder om haar bloedfamilie te leer ken. Maar bloed bly bloed, jou familie bly jou familie, jou taal bly jou taal. Daarom word dit die verhaal van ’n Afrikaanse familie, van drie opeenvolgende geslagte wat reageer op mekaar en op hul tyd, van drie vroue wat leef in die spanning tussen weggaan en moet bly, tussen vergeet en moet onthou. Saudade, leer Colette in Portugal, is die liefde wat bly nadat die voorwerp van die liefde verdwyn het. Die blou van onthou is ’n wydstromende rivier van ’n roman, ’n boek wat die leser onderdompel en omrol en maal in sy kolke van stemme en geskiedenis en oeroue hunkerings.

"Die boek is al 10 jaar in my kop," het Van der Vyver gesê. "Ek wou ’n storie oor ’n Afrikaanse familie hê, maar met ’n Latynse kinkel vir die affair ..." Sy het op Portugal besluit en opgemerk dié land is eintlik Suid-Afrika se oudste historiese band met Europa. Soekenjins is ’n wonderlike manier om inligting in te samel, het sy gesê, maar ’n mens moet ook daar wéés "vir die reuke en klanke" – daarom het sy navorsing in daardie land gaan doen.

Om oor die onlangse verlede te skryf, is wel ’n uitdaging. "As jy ’n storie skryf wat 300 jaar gelede afspeel, kan niemand vir jou sê 'ek was daar, dit was nie so’ nie. Maar met 50, 60 jaar gelede is daar mense wat kan onthou – dit vat baie navorsing om lewensgetrou te bly."

Op ’n vraag uit die gehoor of die skryfproses makliker raak ná sy reeds ’n rits romans geskryf het, het sy onmiddellik geantwoord: "Dis nog net so pynlik!"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top