Toe hy by die verkeer aansluit
in iemand se veilige volgafstand
het hy dalk aan die kranksinnige gedink
by ’n hospitaal langs Main Reef
wat in die parkeerarea se tuin ontlas
terwyl hy stofsuiers en poleerders
repareer. Of die terminale klomp
in rye rooi oorpakke, al strompelende,
na die eetsaal.
Miskien die ouens by die asgat
wat die penis van ’n dier rondgeskop het
en mekaar skielik wou bliksem
oor die stukke ysters wat hy weggooi.
Volgens ’n lig-beseerde hoer in ’n pruik
agterin sy paneelwa het die doringboom
’n irrelevante drommel summier gestuit.

