“He died.”
Dié SMS was kort en kragtig. Die koue rillings het soos resieskarretjies teen my rug afgehol. Wie kan dit wees? Hoekom is daar nie ’n naam by nie; net dié amper kliniese SMS.
Dit was ’n bewolkte dag in Oos-Londen. Die son het loer-loer gehinkepink op die verste punt van die horison. Net nou en dan sou die warmte van die Afrika son sy verskyning maak.
Naby die strandfront het ek en ’n paar kollegas in afwagting op ’n partytjie gestaan en wag. In die verte het drie bote op die Atlantiese Oseaan stadig en rustig, maar seker, voortbeweeg. Hul bestemming sal hulle wel bereik, het ek gedink.
Snaaks genoeg wou ek niks sterk drink nie. Geen alkohol nie – het ek reeds die oggend op pad na Oos-Londen besluit. Vir ’n gekuiery het ek ook nie kans gesien nie. My kop het kooi toe gestaan. Skuins voor 19h00 die aand was ek terug in King William’s Town – my aangenome tuiste sedert 2004. Presies 19h00 was ek in my bed.
’n Paar minute voor 00h00 het ek skielik wakker geskrik. Dit was Donderdag 5 Desember 2013. My Blackberry wat neffens my op die bed gelê het, het presies om 23:58 geblêr.
Die doodstyding slaan my tussen die oë. Ek antwoord met ’n “who” op die SMS wat lees: “He died”. ’n Vriend van my antwoord: “Mandela”. Who? “Nelson Mandela. Turn on your TV.”
Ek skakel die TV onmiddellik aan en daar staan president Jacob Zuma op ’n nuuskonferensie by die Uniegebou en lig die nasie (nee, die hele wêreld) in: Suid-Afrika se geliefde Nelson Mandela “has departed”.
Eks skakel heen en weer tussen die plaaslike en internasionale nuuskanale om seker te maak Zuma het nie die kat aan die stert beet nie. Met sy onlangse en aanhoudende flaters sou dit geen verrassing wees as die president weer aangejaag het nie.
Madiba het presies om 20h50 Suid-Afrikaanse tyd gesterf – kondig ’n duidelik bewoë Zuma aan. Dit was op daardie oomblik vir my duidelik dat dié skokkende nuus wel waar is. Hoe ek werklik gevoel het, kan ek regtig nie onthou nie. Of ek wel emosies gehad het, kan ek ook nie onthou nie.
Madiba se dood was nie ’n totale verrassing nie, maar dit het so onverwags gekom. Soos ’n dief in die nag het dit die ganse wêreld onverhoeds betrap.
Madiba was ’n uitgeslape politikus met ’n fynaanvoeling vir nuanse. Hy het elke oomblik gebruik om ’n fyn uitgewerkte skaakskuif te maak. Vra maar vir sakemanne as Madiba gebel het dan moes hulle hul tjekboeke gereed hou om te betaal vir die een of ander projek wat hy aangepak het. Met die moord op Chris Hani in 1993 het Madiba die politieke situasie goed opgesom en vir ’n bepaalde oomblik die nie-amptelike president van die land geword. Dit nadat dit geblyk het die volk gaan opruk en vergeldingsaanvalle teen die blanke minderheid loods. Hy het koelkop die gemoedere van die hele Suid-Afrikaanse nasie soos ’n ware staatsman gekalmeer.
Selfs met sy eie dood het hy almal onverhoeds betrap. Vir ’n lang ruk het Madiba nadat hy uit die hospitaal ontslaan is seker gemaak daar is geen nuus oor hom nie. By sy huis in Houghton, Johannesburg het hy gereed gemaak vir sy lang slaap. Hy het gewag dat die nasie en die internasionale gemeenskap stil geword het. Hy het gewag dat die daaglikse paniek oor sy moontlike afsterf amper uit die kollektiewe geheue van baie mense uitgegraveer was.
Net toe byna almal dink dit gaan goed met Nelson Mandela het hy ons almal verras deur sonder enige aankondiging die pad na die ewige slaap aan te pak.
Van die voorspelde “South Africa’s second revolution” soos die joernalis Lester Venter in sy boek “When Mandela Goes”(1997) geskryf het, het daar niks van gekom nie.
Madiba is op die piek van die berg en het ook nie vergeet om Suid-Afrika saam te neem nie. Ons is wel ’n paar duisend treë agter Madia, maar sterk op pad om ook dié besonderse mylpaal te bepaal.
Madiba is nie dood nie. Hy lewe vir ewig.


Kommentaar
Jason