LitNet Akademies-resensie-essay: Tyd om Boere-Arkadië te groet?

  • 0

 

Die Verste Uur
Steve Hofmeyr
Uitgewer: Zebra Press (2011)
ISBN: 9781770221642
Prys: R155
Klik hier en koop Die Verste Uur nou van Kalahari.com!

Op die oog af behoort Steve Hofmeyr se boek Die Verste Uur tot die wetenskapfiksie-genre: die roman se protagonis (Jamie Llewellyn van der Merwe) is immers ’n tydsreisiger. As jong fisikastudent ontdek hy die geheim van tydsreise wanneer hy gevra word om die huis van ’n vermiste wetenskaplike aan die kant te maak.

Hofmeyr maak min gebruik van die vreemdsoortige masjientjies en tegnologie wat mens van die genre verwag, veral in sy uitbeelding van die alternatiewe 21ste eeu wat Jamie ontdek. Behalwe die meer prominente plek van Hofmeyr se geliefde Afrikaans as tegnologiese voertaal in Jamie se ander wêreld, is dit grootliks “[s]ame shit, different universe” (83).

Indien die leser eerder Hofmeyr se uitgebreide musiekteoretiese verduidelikings – soos die Verligtingsera-diskoers oor gelyke tempering en die harmonie van die sfere (4-61) – as wetenskap of pseudowetenskap aanvaar, dan sou Die Verste Uur moontlik as musiekwetenskapfiksie kon staan, so in die gees van Hermann Hesse se Das Glasperlenspiel. Op die flapteks beskryf Deon Meyer dit immers met ’n buitensporig entoesiastiese gebruik van musiekterminologie: “Soms skerpe scherzo, soms heerlike grave, altyd gradioso [sic] – Die Verste Uur is ’n skerp, slim bravura simfonie van ’n storie. Hofmeyr is ’n maestro.” Dit is inderdaad deur sluimerend te luister na ’n plaatopname van die Barokkomponis Jean-Phillipe Rameau se musiek dat Jamie sy reis tussen die eeue vermag. Sy tydmasjien is ’n stuk musiek wat hom wegvoer na die liggaam van ’n afgestorwe oupagrootjie en hom die kans gee om die gang van die geskiedenis te verander.

Uiteindelik behoort Die Verste Uur tot ’n minder bekende soort letterkunde wat uchronia genoem word.1 Uchronia is spekulatiewe vertellings van alternatiewe geskiedenisse en van historiese tydsgrepe wat nooit gebeur het nie, maar wat moontlik wel kon gebeur het. Die beroemdste Suid-Afrikaanse voorganger van Die Verste Uur is die historikus Arthur Keppel-Jones se boek When Smuts Goes: A History of South Africa from 1952 to 2010: First Published in 2015. Keppel-Jones se futuristiese “geskiedenis” van Suid-Afrika is in werklikheid die eerste keer in 1947 gepubliseer as ’n distopiese vooruitskatting van die moontlike gang van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gesien in die lig van Afrikaner-nasionalisme se komende oorwinning in ’n algemene verkiesing.

Die intriges van Nadine Gordimer se July’s People en JM Coetzee se Waiting for the Barbarians is soortgelyke voorbeelde van uchroniese literatuur wat, kenmerkend van die genre, pessimisties is oor ’n bestaande geskiedenis en dus iets anders probeer skets. Gordimer en Coetzee se intriges maak staat op apokaliptiese gemoedstemminge en hulle voer hul geskiedenisnarratiewe deur tot op teleologiese punte waar kollektiewe paranoia (in hierdie spesifieke romans “wit” paranoia oor die “swart gevaar”) verwesenlik word. Daarteenoor is Die Verste Uur utopies en anachronisties in Hofmeyr se verlange om ’n historiese draaipunt van “sondeval” om te keer. Anders as Gordimer en Coetzee wil Hofmeyr in sý uchroniese vertelling die “goeie” utopiese geskiedenis ’n kans gee om te floreer.

Die temporale kolk waarom Die Verste Uur se intrige draai, is ’n fiktiewe en suksesvolle “omvleuelingstaktiek” wat op 27 Februarie 1900 by Paardeberg uitgevoer is en gevolglik die Boere se oorwinning in die Anglo-Boereoorlog verseker het (75). In sy tydsreis neem Jamie tydelike besit van sy oupagrootjie Lewies se liggaam op die oomblik dat Lewies ’n hensop-opdrag ontvang. Bloot toevallig kry Jamie dit reg om van sy perd af te val en nooit dié bevel deur te voer nie. Te danke aan sy flater het die wit vlag van oorgawe nooit gewapper nie en het die Boere die kakies oorwin in die slag van Paardeberg. Post-27 Februarie 1900 staan die Suid-Afrikaanse en wêreldsgeskiedenis dus veranderd. Die Boere stig die Nuwe Zuid-Afrikaansche Republiek (NZAR) waarin die Boervolk (die gemeenskaplike etiket “Afrikaner” bestaan nog nie en sal dus ook nie) selfbeskikking kan uitleef.

Hofmeyr doen ontsettende moeite om die bloudruk van sy nuwe “Suid-Afrika” te skets. Sy kennis van die werklike Suid-Afrikaanse geskiedenis is indrukwekkend en dit gee ook gestalte aan die uchronie wat hy skep. So is die tweede hoofstuk van die boek (65-97) oorwegend vergesel van ’n tydlyn van die jare 1900 tot 1919 waarin die alternatiewe Boeregeskiedenis van die NZAR uiteengesit word. As ’n voorbeeld speel Jan Smuts steeds ’n belangrike rol in hierdie geskiedenis: nie as ’n kryger nie, maar eerder as burokraat en as skrywer van die boek Voortrekker-holisme (84).

Merkwaardig vir Hofmeyr se eie tyd, en vir sy konteks as populêre Afrikaanse sanger, is dat Jacobus Hercules de la Rey die eerste president van die NZAR word (81). Die nostalgiese verlange van hedendaagse Afrikaners vir De la Rey se leierskap word dus in Die Verste Uur vergestalting gegee.

Uiteraard is daar ook ’n aanpassing van die Suid-Afrikaanse struggle-geskiedenis in Hofmeyr se roman. Daar is geen ANC nie en ook geen protes van historiese figure soos Mohandas Gandhi nie: “Smuts verseker Gandhi dat geen lydelike verset nodig sou wees in die Republieke nie. Slegs paspoorte en werkspermitte. ‘This is not Durban, sir. We welcome all and sundry’” (87). Was die werklike geskiedenis se lydelike verset nie juis grootliks toe te skryf aan hierdie soort burokratiese diskriminasie nie? Satyagraha sou nie ontstaan het indien Gandhi as prokureur kon gewerk het sonder streng regulasie nie. En tog is Hofmeyr se “nieblanke” karakters doodgelukkig daarmee om buite die Boererepubliek te bly en daarbinne te werk met die nodige dokumentasie (70):

Langs die bougainvillea voor die ingang staan ’n polisiekonstabel in ’n ouerige blou uniform met sy hand op ’n swart man se skouer. Hulle skerts vriendelik. Die swart man haal ’n boekie uit wat hy oopvou en aan die konstabel wys. Die man met die snor knik en die swart man tel sy sakkie op en loop verder.

“Haai!” skree ek agter hom aan. Hy draai om. “Het jy so pas ’n pasboek vir daai cop gewys?” vra ek uitasem.

“Hè?” Die swart man lyk oorbluf. Maar ek moet uitvind. Want ek is seker ek gaan terugkeer 2011 toe. En dit voel asof ek het, maar alles is nie pluis nie.

“’Skuus, man. Kan ek asseblief jou pasboek sien? Are we back in Apartheid?”

Die man frons. Sy hand gaan in sy sak in. Saam met die dompas kom die mooiste Afrikaans by sy mond uit.

“Pas? Dis nie ’n pas nie, meneer. Dis ’n paspoort.”

“’n Paspoort? Hoekom? Why?”

[...]

“Ons wys dit by die grens, soos in enige ander land, meneer.”

Die denkfout in hierdie scenario is juis dat Apartheid (of afsonderlike ontwikkeling) se ganse mikpunt was om hierdie soort vriendelike buurmanskap te verseker. Verwoerd het dit nét so aan die wêreld probeer verkoop en sy bemarkingsveldtog het genoeg “wit mense” oortuig sodat die wrede sistemiese projek van “swart” trekarbeid en “swart” tuislande uiteindelik aangepak was. Hofmeyr se Boeregeskiedenis benodig nie so ’n Argitek nie, omdat “[u]itlanders, swartes en ‘Engelsgesindes’” reeds in 1900 weg van die Boere se grondgebied af vlug en sodoende vir die Boere ’n kiersersmeerderheid verseker (79). Voorts beskryf Hofmeyr dat voortvlugtende uitlanders deur Louis Botha teruggelok word met “vergoedingspakkette en beloftes van beskerming”. Ten spyte hiervan is Botha dit eens: “[S]temreg sal slegs die voorreg van Boere wees.”

In Hofmeyr se NZAR heers xenofobie en is daar ’n burgerskapsmoratorium wat ’n “gesonde Boerestaat” verseker, saam met immigrasiebeleide wat die res van die wêreld beny (90 en 93).

Gekwalifiseerde burgerskap, xenofobiese burokrasie en ’n monokulturele nasionalisme was almal kenmerke van Apartheid. Anders as in die werklike geskiedenis is die “nieblanke” karakters in Die Verste Uur dus doodgelukkig en tevrede met diskriminasie. Die Verste Uur is uiteindelik ’n konjunktiewe fantasie oor die Suid-Afrikaanse “wit mens” se suksesvolle implementering van Apartheid (net sonder daardie etiket) en van ’n Boerestaat. Aldus: same shit, different universe.

Op byna elke bladsy verdeel Die Verste Uur se tipografie in twee of drie rye (visueel soortgelyk aan JM Coetzee se Diary of a Bad Year). Dit stel Hofmeyr in staat om sy storie te laat ontvou sonder enige belemmering vanweë die teoretisering en ontwerp van sy nuwe wêreld.

Soos wat die Kanadese skrywer Margaret Atwood verduidelik, is van die grootste valstrikke van utopiese skrywes juis die problematiek van relaas gee: “Die skrywer raak té opgewonde oor rioleringstelsels of laaibande, en die storie kom tot stilstand terwyl hierdie sistemiese skoonhede verduidelik word."2 Hofmeyr oorkom hierdie slagyster juis deur die narratiewe verloop in ’n visueel gesplete vorm aan te bied sodat utopiese bloudrukke en musikale tydsreise nooit Jamie se sentrale narratief onderdruk nie. Dit is ’n vindingryke en oorspronklike oplossing vir ’n moeilike probleem.

Of is dit?

Die Verste Uur is merkwaardig soortgelyk aan die Britse komediant Stephen Fry se roman Making History, ’n gay-fantasie waarin Fry verduidelik hoe die wêreldgeskiedenis anders sou gewees het indien Adolf Hitler nooit gebore was nie. Opvallend is beide Fry en Hofmeyr se alternatiewe 20ste-eeuse geskiedenisse oorlaai met fascisme en outoritêre magsbeleide. Op ’n tematiese vlak sny die twee boeke by mekaar aan wanneer Hofmeyr se Boere hulle skaar by die Duitsers in beide die Eerste en Tweede Wêreldoorloë (77).Ook het Die Verste Uur ’n soortgelyke vorm aan dié van Making History. Fry se roman is in ’n virtuose en grootskaalse tweeledige vorm en dit eindig presies waar dit begin het. Die eerste boekdeel is gewy aan die werklike geskiedenis en aan die ontdekking van hoe om dit te verander, terwyl die tweede boekdeel ’n alternatiewe uchroniese geskiedenis uitbeeld en dit uiteindelik verwerp. Hofmeyr doen dieselfde as Fry, maar op ’n baie kleiner skaal. Verder maak hy in die kort derde deel van sy roman gebruik van ’n tipe da capo, wat ’n sikliese struktuur te skep. Die moontlike verbintenis met Fry is nog meer interessant wanneer rekening gehou word met die musikale inhoud van Die Verste Uur, want die klein brokkies musiekgeskiedenis in Hofmeyr se roman herinner my ontsettend baie aan ’n ander boek van Fry, The Incomplete and Utter History of Classical Music. Indien die spitsvondige, gesofistikeerde, Engelse, gay en Joodse Fry ’n intellektuele model vir Hofmeyr is, moet Hofmeyr miskien as ’n meer oop, meer belese en meer gesofistikeerde skrywer beskou word as wat sy stereotipering as Afrikaner-aktivis suggereer. Sy “trotse Afrikanerskap” strek miskien baie verder (of is dit dunner?) as wat die mediastereotipe van hom toelaat.

Die vreemde plaatopname van Rameau se verlore musiek wat Jamie ontdek, is uiteindelik die groot kontinuïteitsfout van Die Verste Uur. Jamie se vermoë tot tydsreise lê verborge in die klanke van 300 jaar oue Franse Barokmusiek. Deur sluimerend te luister na ’n groepering van drie menuette, wat verwerk of saamgestel is uit Rameau se “verlore” operapartituur Daphnis et Eglé, kry Jamie dit reg om, via die gekodeerde geheue van sy eie DNS, besit te neem van sy oupagrootjie se liggaam. Die menuette wat Hofmeyr beskryf, bevat ’n spesifieke fiktiewe akkoord wat “nie op ’n moderne instrument gespeel kan word nie” en wat ook nêrens anders in die Rameau-oeuvre te vinde is nie. Hierdie akkoord verskyn twee keer in die groep van drie menuette, met die tweede verskyning presies agt minute na die eerste een – en wanneer ’n luisteraar die menuet waarin hierdie vreemde akkoord herhaal word “slapend ingaan, gepantser met niks meer as die onderbewussyn nie, skeur die hemele vir [hom] oop” (58).

Daar is kritiese waarnemings wat gemaak kan word oor Hofmeyr se Rameau-akkoord. Eerstens, hoe is dit moontlik dat Jamie en die wetenskaplike Arnold du Plessis kan luister na ’n langspeelplaat waarop ’n akkoord voorkom wat nie op moderne instrumente gespeel kan word nie? Die menuette is beslis nie in Rameau se leeftyd (1683-1764) opgeneem nie, en tog kom dit voor of Hofmeyr iets in daardie trant impliseer – veral wanneer hy skryf oor karakters se kwelling omtrent Rameau se kopiereg min of meer ’n honderd jaar voordat kopiereg op musiek eens bestaan het (29). Daar bestaan moderne herkonstruksies van Rameau se musiek wat in hul dosyne deur aanhangers van die Vroeë Musiekbeweging opgeneem is, maar hierdie herkonstruksies is uitsluitlik pogings van die 20ste- en 21ste eeue en hulle is ook glad nie só esoteries van aard, of noodwendig só akkuraat, dat hulle geheime “tyd-akkoorde” wat Rameau ontdek het, sou kon realiseer nie.

Dit is vreemd wanneer Hofmeyr skryf oor die ontdekking deur een van sy karakters (in die Paryse boekwinkel Shakespeare & Co) van die Rameau-menuette-plaat, omdat hy stipuleer hoekom hierdie ontdekking van ’n metode tot tydsreise niemand sou pla nie: “Niemand ken Rameau nie. Miskien oor hy sy beste werke verlê het” (53). Glad nie waar nie. William Christie en sy orkes, Les Arts Florrisants, het Rameau se uitvoering en opname lankal reeds in ’n globale bedryf verander. Rameau is ook lank reeds algemeen in die musiekgeskiedenis bestudeer. Die partituur vir Daphnis et Eglé is ook nooit verloor of weggegooi nie – veral nie die instrumentele suite-verwerkings daarvan nie. Dit bestaan steeds.

Boonop word die tyd-akkoord beskryf as ’n “dissonante dog genotvolle kombinasie van klawers” wanneer musiekteoretici soos Rameau eerder akkoorde as kombinasies van “tone” sou beskryf het. Hoe goed ken Hofmeyr en sy lesers Rameau? Die blote stipulering dat die eerste verskyning en die herhaling van die tyd-akkoord deur presies agt minute geskei word, met die implikasie dat die werk doelbewus so gekomponeer was, is ondenkbaar. Alhoewel daar reeds in extremis ondersoek ingestel is na die metronomiek van dansmusiek uit die Franse Barok, en alhoewel sommige puriste outokratiese vasgestelde idees daaroor het, sal dit baie moeilik wees om twee groepe musici te vind wat Rameau se geesdriftige musiek teen ’n gedwonge voorspelbare beat uitvoer sodat twee akkoorde (met ’n hele klomp musiek tussenin) presies agt minute uit mekaar gespeel word. So ’n presiese skeiding sou blote toeval móés wees, en nie so deurdag en berekend as wat Hofmeyr van Rameau voorstel nie. Om regverdig te wees, Hofmeyr sê nêrens dat Rameau op soortgelyke tydsreise was nie. Tog is dit dan onnodig om 58 bladsye van die roman te wei aan die geskiedenis oor en teoretiserings van Rameau. Indien Rameau self nie eens bewus was van sy “ontdekking” van ’n tyd-akkoord nie (die ontdekking of opname van die tyd-akkoord word nooit gekonstateer nie), dan is Hofmeyr se verhandeling van Rameau se geskiedenis en musiekteorie oortollig tot sy roman.

Dit lei uiteindelik tot die vraag van wat Franse Barokmusiek nou eintlik met ’n Afrikaanse roman te doen het: Hoekom gebruik Hofmeyr Rameau as truuk om ’n tydsreis na die Boereoorlog en ’n alternatiewe 21ste eeu moontlik te maak? My gevoel is dat Hofmeyr in sy utopiese skrywe aangetrokke is tot Rameau se eie reinigingsinstink, tot die manier waarop Rameau ’n Arkadiese element van die natuur deur middel van sy musiek in die beskawing wou vasvang. Vandaar die roman se oorbeligting van Rameau se harmoniese eksperimente en sy pogings om gelyke tempering te realiseer. Rameau, en klassieke musiek, is ’n konserwatiewe metafoor vir sosiale harmonie – vir die tipe utopiese gemeenskap wat in Hofmeyr se NZAR voorgestel word. In hierdie lig is dit moeilik om Hofmeyr se eie loopbaan as musikant te ignoreer: Rameau en Hofmeyr is nie karperde wat sommer maklik langs mekaar ingespan word nie – en tog, hier is hulle.

Hofmeyr se soeke na ’n draaipunt in die Boereoorlog, en sy verbeelding van ’n alternatiewe Boerebeskawing, is simptomaties van ’n apokotastatiese instink wat lank reeds deel uitmaak van die Afrikaner se gemeenskaplike psige. Apokotastase is die verlange om terug te keer na ’n onskuldige en ongeskonde oerkondisie. Tydsreise is nostalgiese literêre sinjale wat dui op die verlange om hierdie primordiale toestand te herstel en om ’n pastorale harmonie te bewerkstellig. Tog is hierdie denkbeeldige veilige plek ’n konjunktiewe Prokrustesbed waarop die werklike geskiedenis se Afrikaner en miljoene ander mense met geweld gedwing is om te slaap. Niemand pas op hierdie bed nie en niemand sal ooit nie. Die Verste Uur slaag nie daarin om hierdie historiese dilemma oortuigend te fiksionaliseer en só ander insigte te bewerkstellig nie. Die tyd het miskien aangebreek om pogings tot ’n Boere-Arkadië finaal te groet.

 


1 Die woord uchronia (u-chronos: nie-tyd) is ’n neologisme wat afgelei is uit die woord utopia (u-topos: nie-plek). Charles Renouvier (1815-1903) het dit die eerste keer gebruik in sy fantasie-traktaat Uchronie: L’Utopie dans L’Histoire (1876).

2 “The author gets too enthusiastic about sewage systems or conveyor belts, and the story grinds to a halt while the beauties of these are explained.” Atwood, M. “Writing Utopia.” Uit Curious Pursuits: Occasional Writing, bl. 94.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top