LitNet Akademies-resensie-essay: Stil punt van die aarde deur Johann de Lange

  • 2

Stil punt van die aarde
Johann de Lange

Human & Rousseau
ISBN 978-0-7981-6491-7
ISBN 978-0-7981-6492-4 (epub)
ISBN 978-0-7981-6493-1 (mobi)

Koop Stil punt van die aarde by Kalahari.com


I Vooraf

Sedert die toekenning van die Hertzogprys aan Johann de Lange het hy van krag tot krag gegaan. ’n Bundel met kwatryne, ’n seleksie uit sy “bestes” en twee stewige bundels na die prys. Die digter bly steeds selfvernuwend met sterk vormbeheer. Ek is tans besig met ’n studie oor De Lange se digkuns en prosa. (Sien Addendum I.)

De Lange is ’n gekanoniseerde digter en sy werk as vertaler bied eweneens verdere navorsings- en bestuderingsmoontlikhede, omdat hy telkens bekende en minder bekende gedigte uiters behendig vertaal op sy blog, Kaapse paragrawe.

In sy bekende studie An appetite for poetryEssays in literary interpretation (Fontana, Londen, 1989) skryf Frank Kermode insigryk oor die prosesse van kanonisering. Hy wys onder meer op die kille ontvangs van The waste land in die VSA, en hoe ’n tydgenoot soos William Carlos Williams hierdie gedig “the great catastrophe to our letters” genoem het (97). Wanneer ’n mens die resepsie van De Lange nagaan, vind jy eweneens dat die digter negatiewe kommentare moes afweer – nie net rondom sy gedurfde tematiese nuutheid nie, maar ook kritiek gelewer op vormtegniese kwessies.

Resepsies vergaan, maar bundels bly staan …

Op die voorblad van Stil punt van die aarde is daar ’n menslike voetspoor sowel as andersoortige spore – ’n semioot sou dit kon lees as teken van die spore wat hierdie digter al in ons digkuns getrap het. Die kunswerke op die voor- en agterblad, Walking through the low veld, en detail van Aquinas’s Discourse onderskeidelik, beide deur Judith Mason, aktiveer ook ánder kodes: haar briljante kunswerke rondom Dante se Goddelike Komedie, sowel as die wyse waarop kunswerke en digkuns hier in gesprek tree – op verskeie maniere – met die filosofie en metafisika.

Ammoniet

Kamer na kamer word ontruim
om ál groter ruimtes te beset.
Wie sou ooit dink dat die siel
soveel kastele nodig het? (33)

Spoor
na ’n skets van Judith Mason

Veerlig jou voetval
deur die bestippelde bosveld
waar distels & leë papie-
doppe ritsel of roer,
goue sydrade los-
waai van tamboekiegras
& waaisand die voet-
beentjies van ’n blouapie ontbloot.

Blouglanse & skemerbruintjies
fletter sig-sag. Weldra kom die skemer
soos ’n flap in die riete sit.
Van die middag bly nog net
die fynste skadu’s oor
wat kwartel & tarrentaal.   (46)

Vir ’n leesoefening het ek die vorige bundels besoek om spore van die pas verskene Stil punt van die aarde-motief daarin terug te vind, en vir myself ’n vers uit elke bundel geneem om my argument te staaf. Die gedagte van die “stil punt” speel in op Eugenio Montale se bekende gedig “Die geel van suurlemoene”:

[....]

Kyk, in hierdie stiltes waar dinge
oorgee en op die rand skyn te wees om
hulle finale geheim te verraai,
voel ons soms ons is op die punt
om ’n fout in die Natuur bloot te lê,
die stil punt van die wêreld, die swak skakel,
die draadjie wat, eers losgetorring, eindelik sal lei
na die hart van ’n openbaring.

Die epifaniese moment is iets wat dan ook regdeur die digkuns van De Lange aangestip kan word. 


Uit Akwarelle van die dors (1982):

Samesyn

Die vulkaan
toring

bo die donker
woud.

Diertjies jeuk
in die bome. (20)


Uit Waterwoestyn (1984):

Siklus

Die maan het nie ’n gewete nie.
Sy waaier oor my klein voetspore.
In hierdie landskap is ek sterflik.
Die maan verander alles in klip.
Ek gaan lê soos water. Soos water. (35)


Uit Snel grys fantoom (1986):

Storm oor die see
’n sonnet

Die lug smeul van ’n oerromanse
rookgrys donkerblou swart & aswit
met die dowwe gloeiing van ’n son.
Tussen lug & water is geen skans,
elke ding is perlemoer & glit
met die yshitte van ’n oerbron.

lets hiervan laat my aan liefde dink:
iets harder as gips & skitterwit,
sagter & feller as hierdie son:
als wat grys is, laat dit glim & blink.
Medusa & Poseidon! (10)


Uit Wordende naak (1990):

Vertrek

Die aarde wil
ons nie laat gaan
sy hang ons aan:
vliegmotore dreun & ronk
die nate kreun
hy veg & tors
hom van die taai grond los
hy dors die wind
hy loei
& beur & klim
hy skop teen teergrint
die vliegveld steier weg

: nou is ons ’n stippel
wat klein akkers eg. (9)


Uit Nagsweet (1991):

Parabool

in die skemer
hoe het jy nie geskyn nie

met die fatale krag
van ’n jong planeet
my aangetrek
uit my afsydige wentelbaan

– ’n wit komeet –
van koers gedwing
uitgeslinger oor die maanskap
van heup & bors

die krater waar jou hart moes wees
die koue sonne van jou oë

toe weer koers gekry
welwetende hoe ek
in die jare wat pluimstert kwyn
in ander gedaantes

jóú telkens rakelings
sal mis
jy draai weg in jou skadu in
& wys die kant wat ek bemin (56)


Uit Vleiswond (1993):

Aftelrympie

Leningrad, 7.15: kadette draf
banklangs die lang Neva-rivier

7.30: ’n geel son klim
bo die rokerige Wladiwostok

Russiese letters weerhakig
soos doringdraad sluit my uit

skraal berkebome in die verte
donker khavyah op ’n ryke se tafel

iemand sê ingehoue: Jy kan hoor
hoe jou asem verys    luister (62)


Uit Wat sag is vergaan (1995):

Japannese lente

Lente in Tokio is vlietend
soos ’n romanse. Milder lug
& sonsigbare parke
in voorstede
waaier meteens oop;
die dae rek somer
tegemoet.

Kuslangs
meer brutaal: die ingeburgerde ys
kraak & bars, riviere sidder nat-
neus & die vogtige aarde
gaap stomend oop.

Die wit peerboombloeisels
op die heuwels van Kanazawa
het reeds oopgegaan
twee weke gelede in Tokio.

Toeriste leef soos ekspatriate.
Drink saam, speel mahjong
of voetbal. Verlange
na ’n vaderland
of moederstad maak plek
vir verwondering.
Ou lojaliteite raak oorgroei
deur nuwes. Skiet wortel.
Raak ingegrawe. (12)


Uit Die algebra van nood (2009):

Riviermond

’n optelgedig

Die water vloei vinnig
by die riviermond
waar die kuslyn
klad met die lug
& golfies inwaarts
waaier van die see.

Vir die baaier
is geen waarskuwings
opgerig teen haaie
wat die kanaal binne-
swem & patrolleer.

Kort voor
sononder kom die voëls –
skarrel met die sand-
bank langs, wik-&-pik;
maar voor lank
het skemer elkeen ingesluk. (52)


Uit Weerlig van die ongeloof (2011):

Stiltes tussen ons

Stiltes tussen ons oorbrug jy met gespanne frases,
doringdraad waaraan woorde bitsig blink
& in my rugvel byt as ek gebuk-
kend onderdeur wil hink. (18)


Uit Vaarwel, my effens bevlekte held (2012):

Woorde

Most important is to be able to enter a word like a continent.
Ted Hughes

Gaan elke woord binne
soos ’n kontinent,
sê ’n digter. Behoedsaam,
vol verwondering & oop

vir nuwe horisonne,
navigeer die foutlyne
tussen woorde, kyk
hoe elk in die ander pas,

teen mekaar beur
& steil paradokse lug-
waarts stu: ’n Alp of ’n Andes piek na piek
opstoot uit ’n oer-oseaan.

Woorde is my kontinent,
& poësie is my republiek. (9)


 

Dit is dan ook Frank Kermode wat wys op die leesproses as een van divinasie (“Divination” heet die sewende hoofstuk in die genoemde studie): die leser, weet ons, wat van agtertoe na vorentoe lees, kan patrone oopdek in ’n digkuns. Hierdie leser verander van waarsêer in semioot. Hierom sal die keuse van gedigte vir elke leser anders wees, afhangend van hóé jy die wiggelstok lees.

Maar, skryf Kermode, hierdie twee maniere van lees, naamlik primordiaal en semioties,  skakel mekaar nie uit nie. In sy woorde: “All the same, it would be wrong to think of science as the enemy of divination” (153). Hy betrek ook Roland Barthes se siening van die scriptible-teks, soos uitgebreid verduidelik in S/Z (Hill and Wang, New York, 1970/1974), ’n studie waarin Barthes kodes aanstip om die teks te verduidelik, maar ook verwys na die leser se rol as “soothsayer”.

Woorde is my kontinent,
& poësie is my republiek.

Dit is ’n belangrike mantra in die digkuns van De Lange waarin die wóórdgevoelige digter telkens die be-teken-isse van woorde ontsluit en nuut maak. Sy gesprek met ander digters maak die proses dan ook oneindig vir die soekende of speurende leser.

“The thing seen becomes the thing unseen,” skryf Wallace Stevens (Adagia). Of soos Kermode ’n hoofstuk betitel: “The Plain Sense of Things”.

Die epifaniese vers stel sig ten doel om die on-verwoordbare te verwoord, soos ons dan sien in die openings- of programgedig in die jongste bundel:

Dink & dank

Iewers ontspring dink & dank
aan dieselfde bron & klank.

Sy dit die rook van ’n pasgeslagte offer
wat úit- & óp-adem na die Son,

of bo die kim die sein, die yl rokie
van die San wat na die sterre klim,

of die sakramente wat ons eet & drink:
seën gaan uit na alle Syn, hoe nietig ook,

& heilig álles wat klip is of vlesig of groen,
klein of groot, bont, of sondronk & bruin,

elke vorm denkbaar waar ook die Al dink
is dankbaar deel van dieselfde brein. (9)

Dit is dan hierdie samesyn wat ons reeds in Akwarelle van die dors vind; dit is ook klip teenoor water, maar die gedig word ’n besegging van dit wat in wese ónverwoordbaar is. Die spreker is deurentyd bewus van hierdie paradokse. Die aarde wil ons nie laat gaan nie en ons bly deel van hierdie bestel in ’n graf:

: nou is ons ’n stippel
wat klein akkers eg.

Die vers “Japannese lente” aktiveer dit wat die epifaniese vers vergestalt: iets waaier oop of gaan in die gemoed van sowel die spreker as die leser oop. Die “foutlyne” tussen woorde (“Woorde”) voorspel reeds die bemoeienis met die epifanie wat ons aantref in Stil punt van die aarde.

Die foute en swak skakels, soos die Montale-vers dit beskryf, is ’n tematiek wat regdeur De Lange se digkuns loop.

?πιφ?νεια, epiphaneia.

“In the best of Hugo, the ghosts of self, an inaccessible other, and landscape come alive in a strange, yet beautiful marriage of time, place, form, and emotion, reconciled within an epiphanic gesture of rhetorical embrace that melts a painful past and present with a hopeful future in a frozen instant of symbolic homecoming” (87), aldus Jiri Flajsar in sy studie Epiphany in American Poetry. (University of Olomouc, Moravia, 2003). Hierdie uitspraak kan net so van toepassing gemaak word op die digkuns van De Lange, soos die klinkende slot van “Japannese lente” lui:

Toeriste leef soos ekspatriate.
Drink saam, speel mahjong
of voetbal. Verlange
na ’n vaderland
of moederstad maak plek
vir verwondering.
Ou lojaliteite raak oorgroei
deur nuwes. Skiet wortel.
Raak ingegrawe.

Die “intimate and unidentifiable” waarvan Eliot praat en die digkuns as ’n proses waarin paradokse saamgesnoer word.

 

II O lig van die wêreld, dra my

Hierdie jongste bundel van Johann de Lange staan in die teken van besinning en bestekopname. Die digter is sedert Die algebra van nood (2009), Weerlig van die ongeloof (2011) en Vaarwel, my effens bevlekte held (2012) op ’n besondere wyse in sowel ’n selfgesprek as ’n gesprek met ander digters gewikkel. Hierdie procédé is bekend aan sy werk vanaf sy debuut, maar nou het ons die ouer, meer selfversekerde digter wat onder meer ook die religieuse en primordiale ontgin.

Die motto by die eerste afdeling, “Josefskleed”, aktiveer reeds hierdie gesprek:

I caught the sudden look of some dead master
Whom I had known, forgotten, half recalled,
Both one and many; in the brown baked features
The eyes of a familiar compound ghost
Both intimate and unidentifiable.

– TS Eliot

TS Eliot
DJ Opperman

Met Eliot word die leser onmiddellik terug geneem na die beroemde essay “Tradition and the individual talent” en Eliot se sienings oor die skryfproses.1 “Die hart se San Andreas-fout” (“Ars poetica”, Wordende naak) word nou die “stil punt van die aarde”, ’n aarde wat druisend enige wetenskaplike navorsing ómverwerp met tsoenami’s en natuurrampe. Die mens is dankbaar voor die Syn en Al: ons drink ons wyn en hou ons harte van gode rein, soos Van Wyk Louw elders gedig het. Maar vir De Lange is die mens deel van ’n groter kosmos; alles vorm deel van ’n groot geheel. NP Van Wyk Louw word ’n gespreksgenoot in behendige parodieë soos:

4. Voordag 

Voor die oop venster met die oggendlig blouswart agter hom
– swaarder van lyf as toe sy torso in smal heupe kon voeg
soos ’n Griekse beeld, sy elke frase ’n goue spreuk –
bly elke gesteelde aanblik steeds heer-, heer-, Heerlik genoeg. (17)

Ook Opperman kom aan die woord:

’n Digter het gewaarsku

’n Digter het met reg gewaarsku: Kuns is boos.
Die kunstenaar moet diep leer kyk, & onbewoë.
Hoe heg ook die verband, soos tussen vel & roos,
die heling lê in afstand, nie in mededoë. (10)

Opperman se kunsteoretiese siening word geaktiveer: skryf as afstand, as ’n wisseling van lywe en eenwording met alles om jou. En daarmee is die gesprek ter tafel gelê: ’n balans word gesoek tussen Louw se filosofiese sieninge en Opperman se konkrete, afstandelike manier van dig. Opperman word ter harte geneem:

Trapsuutjies op ’n spieël

Sy oë skandeer panoramas
van hemel & aarde,
sy stert is die springveer
van ’n wekker. Hy is fyn geskub,
livrei van groenspaan
op sonnewyster & weerhaan.
Die tong van só ’n digter
is ’n boekrol, ’n taai spier
wat in die verste uit-
hoeke van ’n vers
die soetste sinne kan haal.
Sal hy van streek verander,

of suutjies, voetjie
vir voetjie op sy ewe-
beeld balanseer
– op die onsienbare lyn –
& in ’n kwiksilwer
vergetelheid verdwyn? (18)

“Diepgang” – opgedra aan die Louw-kenner Réna Pretorius – moet as ’n kode gelees word vir die simfoniese struktuur wat die leser te wagte kan wees.2 Tog is die skryfproses iets sjamanisties, iets wat buite woorde bestaan waaraan die digter moet woorde gee:

2.
Die sjamaan noem dit
tsai yoshtoyoshto
oftewel, taal dubbeld verdraai:

“Terwyl ek sing, bring die taalstringe
dinge nader, maar nét nié
naby genoeg nie –

met gewone woorde
sal ek my vasloop
in die dinge sélf –

dus sirkel ek óm die sirkels,
só sien ek dinge
duideliker, soos hulle is.” (“Sjamaan-taal”, 14)

WH Auden
Karel Schoeman

Gesprekke met Auden en Henry James en die herdigting van ’n Karel Schoeman-gegewe in “Op ’n eiland” aktiveer die gesprekke met en oor kunstenaars.

Op ’n eiland
And the ports have names for the sea
WH Auden

optelgedig uit Op ’n eiland van Karel Schoeman

Dit is ’n lang reis van Piréus
na die eiland. Die skip is oud
& lendelam, sukkel traag
van hawe na hawe, vertoef
soms terwyl die son neerbrand,

totdat die fluit weer blaas
& die reis voortgesit word.
Hawens, stadjies, eilande dryf verby,
blou bergkamme teen die lug,
vensters flits boodskappe terug.

Daar is eilande
deur geen mens bereik,
wit strande deur geen voet betree,
helder fonteine waarvan niemand
ooit gedrink het nie.

Daar is streke
op geen kaart vasgelê, kuste
waaraan nooit ’n naam gegee is nie,
waar geen oor die roep van voëls
of die slag van branders hoor nie,

afstande ongemeet
& dieptes ongepeil –
o ja, daar is eilande,
& dit is ’n lang reis
van die eiland na jou. (21)

Dit is egter ’n ou liedjie op ’n nuwe melancholiese deuntjie. Die onbeantwoorde liefde kry nou ’n nuwe dimensie: die reis na die geliefde is ’n lang (eensame) reis. 

In die tweede afdeling, wat “Spore” heet, word die naskryf (in stof) weer geaktiveer. Die woord as teken, as be-teken-is wat die leser noop om semioties en stip te lees. Dus word enoncé/énonciation (utterance), soos Barthes dit formuleer, die uitgangspunt.3 Die woord in sy Dinglikheid kom telkens aan bod. In sy bundel Image-Music-Text verwys Barthes ook na die grein van die stem (le grain de la voix, 179). Taal – aldus Benveniste – is die enigste semiotiese sisteem wat ’n ander semiotiese sisteem kan interpreteer (en hier misbruik ek Barthes wat oor die verhouding tussen taal en musiek skryf) om die digterlike prosedure van hierdie digter te verwoord: hy gebruik sisteme van ander digters, maar hy aktiveer dit binne ’n nuwe sisteem met sy eie enonsiasie. As ons dus Louw se manier van doen of Schoeman se woorde ken, word die nuwe gedig ’n interessante herkenning. Hy het The sacred wood ter harte geneem en gee nuwe lewe aan die tradisie binne sy digkuns.

Die digter is dus bewus van denkbeelde van die digkuns – soos ’n motto waarsku – en Catullus praat met die digter op Diemersdal (met ’n variasie op Carmina 46)! En “Paradysboomslang” (36) eindig met:

’n musikale frase,
’n glissando
glansend uitgespeel.

Helder waarsku hy:

’n Blaar van Coleridge se boom

Net die een rooi blaar, die laaste van sy stam,
’n enkele rooi kryger, puntig soos ’n hanekam;
hy hang so lig, hy klim so hoog; – my klein rooi vlag
wapper aan die uiterste twyg in verset teen die gram-
skap van die winterlug: laag, omsingelend & byna nag. (29)

Daniel Hugo
Johann Lodewyk Marais

Eliot oor Coleridge kom in die herinnering en die digterlike stamboom word hier geaktiveer. Die digter het egter ’n klein vlag wapperend aan die uiterste twyg en die verset teen die winterlug kan binne bundelverband gelees word as ’n opstand teen die dood. En “rooi vlag” – as ek nou mag oorinterpreteer – verwys ook na Šklovsk? se beroemde uitspraak dat die vlag wapperend op die gebou niks te make het met die vlag in die gedig nie.4 Ons moet dus lees vir tekens of priyom. Tydgenote – soos Daniel Hugo en Johann Lodewyk Marais – word aangespreek, juis vanweë hul beide se woordgevoeligheid. Digterlike gesprekke word egter konkreet vergestalt (“Twee trapsuutjies”, 34) en insekte, visse, ’n dolfyn, bye, ’n vuurvlieg word voertuie vir die digterlike verbeelding. Sy duimsketse by die vier seisoene aktiveer Louw en Opperman se beroemde seisoenverse – maar nou met ’n ironiese wending! Ook die selfgesprek met sy eie Vroegherfs/laatherfs-verse – wat regdeur sy oeuvre loop – kom aan bod. Judith Mason – met ’n ontwerp op die voorblad en die agterblad – aktiveer eweneens die spoor-gedagte. 

In die derde afdeling word die verwonding van die digter (ja, die wordende naak) geaktiveer met die lieflike motto’s:

I am Orpheus going down again
Tony Harrison

As a torn paper might seal up its side,
Or a streak of water stitch itself to silk
And disappear, my wound has been my healing,
And I am made more beautiful by losses.
Howard Moss

In hierdie afdeling staan daar skokkende en onthutsende verse oor verkragting, lesbiese selfvervreemding en homoërotiek. “Jake van Londen” se ekshibisionisme voor ’n webcam word beskryf:

Jake van Londen
kanttekeninge van ’n skopofiel

In sy karige kamer rug teen
die muur sit-lê hy op sy bed
& draadtrek voor sy webcam
vir die gesigloses wat voyeur:
jonk, & bruingebrand,
sy tril onbesny, sy balle,
rond & donsig, op-
getrek. Soms afgetrokke vinger hy
sy voorvel, gesig onleesbaar,
laat los om te ruik of vinnig iets
op die sleutelbord in te tik.
Van oral stroom begeertes
op sy laptop & sy iPad in:
“wys my jou okselbos –
rol jou voor-
vel heeltemal terug –
trek jou knieë hoog op &
wys my jou aars –
wanneer skiet jy vir ons?”
when I have 4 000 tokens
maar hy gee tog bes op 3 000
skuif nader aan die kamera
& gooi wit aandagstrepe
oor sy maag.
Hy trek ’n handdoek aarsel-
hand nader, glimlag verlig,
vir die oomblik in krediet,
voor hy met sy duim
’n taai toets druk
& in die gitswart ruim verskiet. (53)

Die reeks pa-verse in die oeuvre word versterk met die volgende aangrypende gedig:

3. Daddy

Ek onthou die dag toe ek na óns verhaal
se slot kom soek het, Pa, die eerste keer
sedert jy so onverwags weg is, so finaal.

In my gedagtes bly dit gister
toe ek alleen hier sit & blaai het
deur die ouderwetse doodsregister

waarin elke verslaande naam
opgeskrywe staan, ook jóú lewe,
deur datums met hakies omkraam,

soos die handvatsels met silwerbeslag
waaraan ek & jou broers jou gedra het,
na die tyd waar álle verlore vaders wag. (58)

Hierdie hele afdeling aktiveer die digter se baanbrekerswerk met betrekking tot (homo)erotiek, en die skokkende tematiek word in beheer gehou deur besonderse taalgebruik.

Kan dit beter, sterker, dwingender?

Halfkroon

Ek verkies my manne losbal & onbesny,
nie te knap gefluit, maar heerlik los gebrei,

’n fluwelige roos van vlees wat teer
in ’n vuis ontplooi. Ek hou van hulle ongeskeer

met okselboste & ’n ruie sweettaai spoor
wat oopsprei waar die lul in feromone smoor.

Die voorvel sag soos seemsleer & ’n omberbruin,
met die rand ’n fluwelige kartellyn-

strop oor & om die geronde velling getrek,
& styf om die breë sponsige skag gestrek.

Bo die ruie vag lê hy roerloos aan in dooierus,
die kroon stulp effe uit, onthul ’n soepel lus

die grootte van ’n pennie, of die halfkroon
van ’n roemer, die ene testosteroon. (60)

NP Van Wyk Louw
Hennie Aucamp
Francois Hougaard

Van Wyk Louw (“Nog in my laaste blowjob”, 61) en Aucamp maak ’n draai. En Francois Hougaard sal hom wat verbeel met ’n pragvers wat oor hom handel:

Voorgee
na ’n foto van Francois Hougaard

1.

Oefenlopie op die rugbyveld: swart stoppelbaard,
gespierde bolyf, boarms blouswart getatoeëer.
Die kaal bolyf sonbruin & onbehaard,
die naeltjie bo die stywe oefenbroek stimuleer –

bal eierrond in beide hande: gaan hy in dié breukdeel
skop, aangee, lóóp? keps gooi ’n skadu oor oë & voorkop –
& soos dié van ’n jong hond gretig na speel:
die pienk tongpunt uit vir ’n laagvat of afskop.

2.

O skrumskakel, laat my smak-
kend ’n soen plak op beide jou rooi-
kopertepels, of my tong kwis-
pelend jou kaal naeltjie aai. (65)

“Haarsny” (66) – met ’n Brokeback mountain-agtige plaasagtergrond – verbeeld jeugdige begeerte uiters ontroerend. 

In die vierde afdeling (“Ballinge”) word eensaamheid onder die loep geneem. Dit word voorberei deur enkele verse – oor verslawing en cruising in vorige afdelings – en in hierdie vers tot ’n klimaks gebring:

Ballinge

Palms in Stockholm of Amsterdam
word voor die eerste sneeu soos siekes

knus omswagtel. By Sandy Bay
word die rooikransbosse (nes moffies)

amptelik tot indringers verklaar,
opeengehoop & brand gesteek, en masse.

In strafkampe, in ’n ander eeu, is ander stam-
bome verbrand, & as laat neerstuif op vuil sneeu.

Party ballinge verplant soms seer
moeilik, skiet nooit wortel, terwyl ander floreer.

Oorlewendes raak soms ingeburger, aard
in ’n nuwe vaderland, of stap van die waterkant

met elke jassak swaar van woorde
onder die troebel Seine in, na die ander kant. (77)

Hierdie gedig is ’n sentrale vers binne bundelverband: Celan se selfdood en die digkuns as iets waaraan die digter swaar dra, word opgeroep. Soos Oscar Wilde bly die digter onseker oor hoe hy deur ander getakseer sal word (80).

In die vyfde afdeling (“Sange”) dink ons opnuut aan Orpheus wat Eurydike moet verlos met sang en die “grein van die stem” is hier ligter. Daar is mantras, ’n inbeweeg in Oosterse denke, ’n aanvaarding van die lewenslot, ’n wete dat ’n mens jou eie lig moet wees. 

Hierom die spirituele versoek – wat Cussons eggo:

Plektrum

Here, vat my nét so, vas én vry,
laat u Musiek uit u vingers gly,
laat my gees vibreer & ingestem meetril
& uit snare van my taal ú musieke haal. (92)

Thom Gunn
Ingrid Jonker
Johannes Kerkorrel

In die slotafdeling, “Beseringstyd”, kyk die digter terug op sy lewe. Ook word dit ’n besef hoe kortstondig die lewe is: geliefde mense en digters word besing, soos Thom Gunn, Ingrid Jonker, Johannes Kerkorrel ... Daar is ook ’n afskeid aan die self, die jonger digter soos beskryf in die vers oor Dickinson as ’n daguerrotipe: hiermee aktiveer hy sy vorige vers oor haar en word die twee verse spieëlbeelde van mekaar.5

Andy Warhol se sifdrukke word metaforiek vir die digterlike bedryf: iets anders/groters gebeur terwyl die digter/kunstenaar besig is met sy werk ...

Pavarotti mag uitgekryt word dat hy kuns verbaster het, maar die digter loof hom vir sy gulheid en dat hy soos ’n bedrewe pokerspeler sy hand (kon) terugspeel. Ook dus nie sy hand gewys nie – nes die digter, wat net vir ons tekens of spore gee wat ons moet navolg.

Luciano Pavarotti (1935–2007)

Die groot Luciano Pavarotti is dood-
stil 71 jaar ná sy eerste asemstoot:
sy volgehoue hoë C, gewigtige register,
voorliefde vir ryk disse & bywywe
tussen bedrywe is vir dié bebaarde bejaarde
vermaarde vermaker verby, sy omvang
imposant, álles groter as lewensgroot,
tot by fyntjies die wit servetsakdoek.

Hy was glo ’n goeie pokerspeler,
maar voor massiewe sokkerskares
het hy hart op die mou áls aan gees
& vlees gegee. Party sê hy’t opera verbaster
maar dis laster: hy’t sy gawe gul uitgedeel,
sy hand bedrewe teruggespeel. (102)

En uit die gevormde kuns is daar wel kuns te make, soos in die behendige gesprek met Johan van Wyk se “Perspektief. Die balkon van Manet”-vers uit Heldedade kom nie dikwels voor nie word nou getransporteer na die makabere dood van Terre’Blanche. In “Double exposure” (109) weerklink Auden oor die meesters wat gelyk had oor ons pyn. JFK en 9/11 (twee momente wat die geskiedenis verander het) word saamgesnoer – dit is immers die waarmerk van die ware digter: die tegelykertydsaspek.

Lykdigte – oor Wessel Pretorius en ’n geliefde kat – ruk aan die hart.

Yoshi
One does not meet oneself until one catches
the reflection from an eye other than human.
Loren Eiseley

Lenig van lyf, is die kou
van jou ribbekas, jou skouerblaaie,
die lang voor- & agterpote
waarmee jy so ligvoets stertorent
kan darteldraf
áls van jou soepel
rugstring
gesuspendeer.
Met jou ore vórentoe gespits,
jou blou oë luisterstil
kan jy muisvoëls teiken,
of met fyn neusvleuels tril-
lend die buurtnuus uitsnuffel.
In jou keel klop ’n slagaar
ritmies, so delikaat gekalibreer
ek kan die bloed van hartkamer
na hartkamer volg.

† 25 Desember 2002 – 12 April 2011

Foto: http://johanndelange.blogspot.com

Soos ook die huldeblyk aan die bekende gestorwenes:

O lig van die wêreld, dra my
na Mary Oliver

Ingrid wanhopig vasgerank
in die wier & gras van Drieankerbaai
beenaf Ernst veg met fantoompyne nag ná nanag
Barrie met sy pille & sy bottel gas
die stemme in sy kop uiteindelik gestil
Koos in pajamas praat met die dooies om sy bed
Eugène Marais buite in die reën met die dubbelboor
het die slang wat hom in die aar gebyt het opgespoor
Stephan, sy pyn privaat, onverhoeds & alleen
op sy dubbelbed betrap
Casper in ’n hospies buite bereik van sy antwoordmasjien
Ralph wroeg & wurg eensaam aan ’n bitter wattelbos
Ina uit haar verlate tuin verban
waar voëls nie langer sing & onkruid gedy
& Sheila, broos & halfblind, die gelouterde lyf oplaas bevry,
moet alleen die vlammende oortog maak –

O lig van die wêreld, dra my! (116)

Die bekende Amerikaanse digter Mary Oliver6 se vers oor die groot Britse natuurdigter John Clare (1793–1864) word hier binne ’n Afrikaanse werklikheid gesitueer, en word tegelyk ’n elegie vir gestorwe kollegas as elegie vir die lewe self.

Sowel die katabasis­ as anabasis-aspek word geaktiveer: sowel afdaal in die hel (soos ons weet uit die reeds gepubliseerde Orpheus-verse) met ’n terugkeer in die gedig as verlossing uit die hel, word so geaktiveer. Oor die Orpheus-verse is daar uitvoerig geskryf: “Die gesprek met die vader(s) – Die Orpheus-mite in die digkuns van Johann de Lange”. (Besoek 18 Januarie 2014).

“One cannot kill the Father who is already dead,” argumenteer Gallop in navolging van Juliet Mitchell se siening van die komplekse verhouding tussen feminisme en Freud (1982, 14). Oedipus-De Lange kan nie die vader-Laius verslaan nie: die vader het hóm deur sy voortydige dood as kind versaak en hierom moet daar ’n nuwe mite gevind word om die vader te besweer”,  soos ek dan ook in bogenoemde artikel uitwys. 

Die vaders – die werklike vader en die digterlike vaders – het reeds vertrek. Hierom kan die digter alleen in die domein van die spirituele met hulle “afreken”. Jung skryf oor die verhouding tussen die katabasis en anabasis.7

Verwonding word verwoording.

*

’n Bundel met kwatryne, ’n seleksie uit sy “bestes”, Judasoog (2010) en twee stewige bundels voor hierdie jongste vestig die digter as selfvernuwend steeds met ’n sterk vormbeheer. Die verse is toeganklik sónder om geheime prys te gee, en selfs waar onbekende woorde in ’n gedig gebruik word, is dit duidelik uit die konteks wat die digter bedoel.

So bely die digter sy werkwyse:

Bekentenis van die vrugtedief

Meester van die beleë Woord,
ek steel soms honger uit u boord:
elke vrug droom stil in sy stroop,
gedeë soos ’n sterfbedwoord. (23)

In ’n private mededeling aan my skryf die digter op 18 Februarie 2014: “Die twee omslae gee jou ook die spanning waarbinne die bundel opgestel is: die voorblad met die menslike voetspore, die spore van wat verbygegaan is, afgesterf, van aardse sterflikheid, teenoor die kosmiese spoor op die agterblad, die melkwegspiraal wat in die palm van die kunstenaar wentel & die begeerte om te verstaan, om ánderkant die aardse te beweeg. Sterre & planete is die spore van die kosmiese skeppingsproses & spreek ook die soeke na God & die goddelike in die bundel aan.”

Spore en tekens sou ’n verdere stuk navorsing behoef: spore in die natuur, maar ook spore (of verwysings na ander digters en gedigte). Die Derrideaanse trace (spoor) aktiveer ook die selfgesprek. Die kunswerke van die verskillende bundels vertel ook ’n verhaal: hoe elke voor- en agterblad kodes deurgee vir die leser.

Pigment
vir Helize van Vuuren

Daardie donker rooibruin pigment
deur klein-klein boesmanhandjies aangewend
onder die oorhangende goed
versteekte tong van klip is elandbloed. (41)

In hierdie gedig vir die Boesman-kenner Helize van Vuuren hoor ons ook Stockenström saampraat. De Lange se vertalings van Stockenström se poësie verdien eweneens verdere aandag.

Soms kom daar ’n bundel oor jou lessenaar wat ’n unieke plek inneem en die leser se chakras dwingend deurmekaar krap. Stil punt van die aarde is so ’n bundel. Eliot se uitsprake oor wat van die digter verwag word, word nogmaals in hierdie uitsonderlike bundel bestendig.

Eindnotas

1 TS Eliot. 1921. “Tradition and the individual talent”. Besoek 18 Januarie 2014.

No poet, no artist of any art, has his complete meaning alone. His significance, his appreciation is the appreciation of his relation to the dead poets and artists. You cannot value him alone; you must set him, for contrast and comparison, among the dead. I mean this as a principle of æsthetic, not merely historical, criticism. The necessity that he shall conform, that he shall cohere, is not one-sided; what happens when a new work of art is created is something that happens simultaneously to all the works of art which preceded it. The existing monuments form an ideal order among themselves, which is modified by the introduction of the new (the really new) work of art among them. The existing order is complete before the new work arrives; for order to persist after the supervention of novelty, the whole existing order must be, if ever so slightly, altered; and so the relations, proportions, values of each work of art toward the whole are readjusted; and this is conformity between the old and the new. Whoever has approved this idea of order, of the form of European, of English literature, will not find it preposterous that the past should be altered by the present as much as the present is directed by the past. And the poet who is aware of this will be aware of great difficulties and responsibilities.

2R Pretorius. 1987. Ryk domeine. Kaapstad: Human & Rousseau.

3 Roland Barthes. 1977. Image-Music-Text. New York: Hill and Wang.

4 Victor Ehrlich. 1980. Russian Formalism. A doctrine. Den Haag: Walter de Gruyter.

5 Emily Dickinson (1830–1886)

In die kamer te Amherst, ek.
Die aand vang my in ’n raam waar-
uit die laaste lig weggevlieg het.
Ek maak bymekaar my stapeltjies
vergetelheid. Skik en lint dit.
Bêre weg. Ek wat ’n lewe
sonder voorval lei,
die liefde net op sig ken,
met my alleenwees soos ’n migraine.
My wêreld is presies, rond met speke.
Ek reis nêrens heen, en oral:
in hierdie sel ontwar ek
’n heelal, ’n aardbol; in hierdie sel
is liefde en dood geesgenote.
Uiteindelik is seker net dit:
ek, in die kamer, voor die ruit:
afwerend, alleen, hier.

(Snel grys fantoom)

6 The Poetry Foundation. Mary Oliver. Besoek 9 Februarie 2014.

Mary Oliver. “Poetry by Mary Oliver. The Journey, WildGeese, Morning Poem and Others”. Besoek 9 Februarie 2014.  

7 CG Jung. 1969. On the nature of the psyche. Princeton: Princeton University Press.

8   Die geel van suurlemoene

Eugenio Montale

Luister na my, die prysdigters
beweeg slegs tussen plante
met rare name: palissander, liguster en akant.
Maar ek verkies paaie wat lei na grassige
slote waar seuns
’n paar verhongerde palings
opskep uit halfdroë poele:
paadjies wat met die oewers langs loop,
af tussen die rietpolle deur
en eindig in boorde, tussen die suurlemoenbome.

Beter as die gekwetter van die voëls
stil raak, ingesluk deur die blou:
nou kan ons meer hoor van die fluisteringe
van vriendelike takke in nie-heeltemal-stil lug,
en die gewaarwordings van hierdie geur
wat sigself nie kan losmaak van die aarde nie
en ’n rustelose sagmoedigheid in die hart laat neerstuif.
Hier, deur een of ander wonderwerk, kondig die oorlog
van troebel drifte ’n wapenstilstand aan;
hier kan ons armes ook ons deel van die rykdom kry,
wat die geur is van die suurlemoene.

Kyk, in hierdie stiltes waar dinge
oorgee en op die rand skyn te wees om
hulle finale geheim te verraai,
voel ons ons soms op die punt
om ’n fout in die Natuur bloot te lê,
die stil punt van die wêreld, die swak skakel,
die draadjie wat, eers losgetorring, eindelik sal lei
na die hart van ’n openbaring.
Die oog neem sy omgewing in,
die verstand bevraagteken orden verdeel
in die parfuum wat versprei word
wanneer die dag op sy lomerigste is.
Dit is in hierdie stiltes
wat jy in elke vlietende menslike
skaduwee iets sien van ’n verstoorde Goddelikheid.

Maar die illusie faal, en tyd bring ons terug
na lawaaierige stede waar die blou
net gesien word in kolle, bo tussen die dakke.
Dan put die reën die aarde uit;
winter se eentonigheid lê swaar op die huise,
die lig raak suinig – die gees bitter.
Tot op ’n dag deur ’n halfoop hek
in ’n binnehof, daar tussen die bome,
sien ons die geel van die suurlemoene;
en die kilte in die hart
smelt, en diep binne ons
blaas die goue beuels van sonlig
hulle liedere voluit.

(Vertaal deur Johann de Lange)

 


 

Addendum I

Die volgende tekste van hierdie digter het verskyn:

Digbundels

Akwarelle van die dors (1982)
Waterwoestyn (1984)
Snel grys fantoom (1986)
Wordende naak (1990)
Nagsweet (1991)
Vleiswond (1993)
Wat sag is vergaan (1995)
Die algebra van nood (2009)
Judasoog: ’n keur (2010)
Weerlig van die ongeloof (2011)
Vaarwel, my effens bevlekte held (2012)

Kortverhale
Vreemder as fiksie (1996)
Tweede natuur (2000)

As samesteller
Soort soek soort (1997)
Die dye trek die dye aan (1998, medesamesteller Antjie Krog)
Die skyn van tuiskoms (2010, ’n keur uit Lina Spies se poësie)
As die woorde begin droom (2011, ’n keur uit Wilhelm Knobel se poësie)

As vertaler
The wisdom of water (2007, Selected poems by Wilma Stockenström)
Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman (2013)

Johann de Lange het die volgende toekennings vir Afrikaanse poësie ontvang:

Ingrid Jonker-prys (1983) vir Akwarelle van die dors
Rapport-prys vir poësie (1990) vir Wordende naak
Hertzogprys vir poësie (2011) vir Die algebra van nood.

 


 

Addendum II

Die volgende artikels maak deel uit van my studie rondom De Lange se oeuvre. Hulle is te lese op my blog, Woorde wat weeg:

Die foto of skildery as interteks

Die Marilyn Monroe-figuur in die digkuns van Johann de Lange

Die gesprek met die vader(s): Die Orpheus-mite in die digkuns van Johann de Lange

Die prosa van Johann de Lange: Die versplintering van die “ek”

Vervreemding én nostalgie

Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange: Polemieke en enkele onderhoude

Die digter as Lorelei: Die fenomeen Ingrid Jonker en haar tweede lewe in enkele verse van Johann de Lange

NP Van Wyk Louw en die kanon (NP Van Wyk Louw-gedenklesing, 2012)

Die makabere of grensoorskrydende – die verheerliking van die aaklige of sinistere in die digkuns van Johann de Lange

Die man agter die foto

Nagsweet en die aanwesige/afwesige vader.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top