LitNet Akademies: Justus Roux in gesprek met Daan Wissing

  • 0

Justus Roux gesels met Daan Wissing oor sy artikel "Ontronding in Kharkamsafrikaans?" in LitNet Akademies.

Dis die eerste keer dat jy op LitNet publiseer. Wat was jou ervaring hiermee?

Dit was nogal ’n nuwe en vernuwende ervaring. LitNet Akademies as publiseerplatform maak dit moontlik om, anders as in die geval van die konvensionele papierpublikasies, vrylik van (gekleurde) figure, klank- en selfs videomateriaal gebruik te maak. Vir die fonoloog/fonetikus is dit ’n baie kragtige hulpmiddel. Nou kan ek die leser self laat luister na die uitspraak van gevalle en verskynsels waaroor ek bewerings maak; hulle kan dus ook self oordeel. Ek het hierdie moontlikheid op beperkte wyse in die Kharkamsartikel (2011-09-01) gebruik, maar in die hieropvolgende artikels oor die vokaalstelsel van Afrikaans beoog ek om dit op veel groter skaal te gebruik.

Hoe het hierdie navorsing oor Kharkamsafrikaans tot stand gekom?

Tony Links se boek So praat ons Namakwalanders (1989) was aanleiding tot my belangstelling in ’n bewering dat die Namakwalanders – meer spesifiek die inwoners van die klein dorpie Kharkams – glad nie die abnormale (of “gemerkte”) geronde vokale (die vokale van die woorde muur, neus, put) ontrond nie. Hy grond die uitspraak op opnames wat hy van die spraak van ouer sprekers (van 76 jaar of ouer) gemaak en ontleed het – en sekerlik ook op sy eie ervaring as Kharkammer van geboorte. Hierdie uitspraak is baie sterk en besonder interessant, veral teen die agtergrond van die gegewe dat Afrikaanssprekendes van, ek wil sê, die res van die land op groot skaal ontrond. Ontronding van hierdie vokale beteken dat muur uitgespreek word as “mier”; neus as “nees”, en put as “pit”. Duidelik merkbare ronding word wel nog aangetref by sommige radio- en televisiepersoonlikhede – maar dan ook hoofsaaklik beperk tot die oueres (sê van 45 jaar en ouer). In ’n ondersoek waarmee ek tans besig is van die uitspraak van twintig vroulike Afrikaanssprekendes (die meeste is in die ou Transvaal gebore en het hier groot geword) van gemiddeld 86 jaar oud kon ek byna geen ontronding vind nie, altans nie in die woorde wat hulle moes lees nie; dit teenoor soortgelyke opnames van twintig jong (20 jaar gemiddeld) vroulike sprekers, ook hoofsaaklik van die noordelike streke van die land (hulle het dieselfde woorde in dieselfde taak gelees). Ek doen later volledig verslag hiervan binne die groter konteks van die vokaalstelsel van Afrikaans.

Hoe het jy die samewerking en begrip van die Kharkammers ervaar?

Dit was nogal ’n besonderse ervaring. Die veldwerk het ’n heel eie lewe gehad. Ek het maar gedink om in die dorpie van kafee tot garage tot slaghuis te ry, en dan om ouer mense so op straat te “konfronteer” met ’n opnemer en ’n vel papier. Dit sou, agteraf besien, glad nie gewerk het nie. Om mee te begin: Kharkams – in die hartjie van Namakwaland, so ’n 30 km vanaf die meer bekende (en berugte!) Garies, af van die grootpad, pragtig geleë teen ’n rantjie – het geen kafee of garage of slaghuis nie, eintlik net ’n klein-klein algemene handelaar, waar daar buitendien toe niemand opgemerk is nie, wat nog oumense, in wie ek primêr belang gestel het. My plan sou dus glad nie gewerk het nie. Maar gelukkig ontmoet ek toe vir Willem Tieties by die garage in Garies, waar ek die pad gevra het Kharkams toe. Hy is ’n inwoner van Kharkams; het ’n lift gesoek Kharkams toe. Hy kon my onderweg meer vertel van die dorpie en sy inwoners, en kon my na die huise van die oudste inwoners toe begelei. Sy teenwoordigheid, asook die vermelding van Tony Links se naam – in die eerste groepie was daar reeds twee familielede van hom – het gesorg vir die nodige ontspanne atmosfeer vir die opnames, wat selfs heel prettig en humoristies was met al die tussenwerpsels en opmerkings van die ander. (Ek moes soms bietjie halt roep en redigeer aan die opnames.)

Soos ek gesê het, was my aanvanklike bedoeling om die spraak van die oudste inwoners van Kharkams te vind vir latere ontleding en toetsing van Links se uitspraak oor die afwesigheid van ontronding. Die feit is dat ek nie tien bejaarde sprekers in die dorpie kon vind nie, selfs nie met die vlytige hulp van Willem Tieties nie. (Tien sprekers is gewoonlik genoeg vir navorsing soos hierdie.) Dit het my op plan B gedwing, en het later ook tot Plan C gelei. Ek kon, in die groepies mense na wie ek verwys het, wel ’n paar oueres vind, en het toe ook maar die ander, jongeres (vroeg- en bietjie minder vroeg-middeljariges) se uitspraak opgeneem. Dit het agteraf interessant geblyk te wees om die uitspraak van verskillende groepe volwassenes te bestudeer en met mekaar te vergelyk. Dit het my laat dink: dan moet ek mos ook na die héél jonges kyk. En dit laat my toe onthou: ons is by ’n skooltjie verby – Hoërskool Kharkams. Met die vriendelike hulp van die adjunkprinsipaal, me Brink, kon ek sonder moeite in ’n japtrap vyf meisies en vyf seuns se lesings opneem. Dit het geblyk ’n baie belangrike toevoeging tot my aanvanklike planne te gemaak het.

Waarom gebruik jy die SAMPA fonetiese simboolstel en nie die meer bekende IPA-simbole nie? Ek wonder of die gemiddelde lesers – selfs fonetici –nie meer vertroud is met laasgenoemde nie.

Ja, ek het ook gewonder of ek dit moet doen. Maar noem dit dan nou maar my bydrae tot die “opvoeding” van sodanige lesers. SAMPA (Speech Assessment Methods Phonetic Alphabet) is ’n fonetiese alfabet wat masjien-leesbaar, en dus ook op ’n normale toetsbord tikbaar, is wat in 1987–1989 ontwikkel is. Dit word al hoe meer in studies soos hierdie gebruik. Dit maak natuurlik die lewe vir die fonoloog/fonetikus sover dit die gebruik van fonetiese tekens in gewone tekste betref, baie makliker.

Die tipe leesmateriaal, en die tempo waarteen dit gelees is (eintlik geproduseer is, want sommige van die woorde is nie gelees nie maar gewoon gesê) speel ’n belangrike rol. Dit sou moontlik bietjie duideliker kon uitkom?

Goed, dis waar. Die interaksie van die faktore (soos tempo waarteen gepraat word en ook ander, soos die gebruiksfrekwensie van woorde, wat alles ’n rol speel by die uiteindelike voortbreng (uitspreek) van taal oor die algemeen) is besonder ingewikkeld. Indien mens na spraakvariasie kyk, sou mens tipies op sistematiese wyse sodanige faktore kontroleer, sê maar die tempo waarteen gelees en gepraat word. In die betrokke geval het ek nie in variasie van hierdie aard belang gestel nie, dus het ek probeer om die tempo waarteen spraak voortgebring is (sê en lees) konstant te hou, en dit wel teen ’n “normale” tempo. Ek weet dis problematies om dit te beheer. Ek kon dus maar staatmaak op dat die sprekers aan my versoek om “gewoon”, “teen gemaklike pas” te praat, sou voldoen. Indien dit na my oordeel te vinnig of te stadig was, het ek gevra om die taak te herhaal. Ek het ook gevra dat hulle alles twee maal doen, die eerste keer teen sodanige “normale” tempo, en die tweede “bietjie vinniger”. Ek kon toe agterna darem so min of meer die stukke uitkies vir ontleding wat – toegegee, volgens my oordeel (die geleerde woord is “impressie”) - ongeveer teen dieselfde tempo gespreek is (spreek = praat of lees).

Jy noem by herhaling die rol wat gebruiksfrekwensie in ondersoeke soos dié kan speel. Verduidelik bietjie meer.

Ek het hier bo gebruiksfrekwensie as faktor by uitspraak genoem. Ja, dis belangrik om dit ook in die oog te hou. Om dit met ’n voorbeeld te illustreer: dit is veel meer waarskynlik dat die “r” in woorde met ’n hoë gebruiksfrekwensie, soos die bywoorde hier en daar, in normale omgangstaal nie uitgespreek sal word nie as die “r” in die woord beur, wat selde gebruik word. Alhoewel, dit is ook nie so eenvoudig nie; mens moet versigtig wees, want daar is ook ander faktore wat ’n rol kan speel, soos die soort woord, grammaties gesien. Beur is ’n werkwoord; die ander twee is voornaamwoorde. Werkwoorde is – soos selfstandige naamwoorde – sogenaamde inhoudswoorde; die ander genoemde twee is funksiewoorde. In die sinnetjie “Keer hier” is “Keer hie’” meer waarskynlik as “Kee hier”. Dieselfde beginsels is ter sprake in die geval van ontronding. Mens sou eerder kon verwag dat die “u” van die werkwoord rus sal ontrond as dié van die eienaam Rus (inwoner van Rusland). Hier is die tipe woord konstant (beide is inhoudswoorde), maar Rus se gebruiksfrekwensie is ongetwyfeld laer as dié van rus. Dit is waarom ek in die artikel sê dat die “u” van die veel-gebruikte woord hulle dalk meer kan ontrond as dié van nul. Taal is vreeslik ingewikkeld.

Sou daar ’n verklaring wees vir die feit dat /9/ (in byvoorbeeld nul) eerder ontrond as wat die geval is met /y/ (in byvoorbeeld uur)?

Teen die agtergrond van die vorige vraag en antwoord: gestel die gebruiksfrekwensie van dié twee woorde is ongeveer dieselfde, dan sou dit moontlik wees dat die vokaal van nul meer aan ontronding blootgestel is omdat hierdie woord nie ’n hoofinhoudswoord is soos uur nie. Maar meer waarskynlik is daar ’n fonetiese verklaring voor – soos jy tereg voorgestel het. Die vokaal van nul (/9/) is ’n meer neutrale vokaal as dié van die voorvokaal uur (/y/). En neutrale vokale is nader aan die geronde agtervokale (soos dié van bos, os en oes). Agtervokale is, kan jy sê, per definisie gerond. Algemeen gesê: hoe minder voor ’n vokaal hoe meer gerond is dit. Die neutrale vokaal /9/kan dus, volgens hierdie argument, meer geredelik ontrond as die voorvokaal /y/ van uur. Dit is egter bloot spekulasie, weliswaar op grond van breër taal- en fonetiese kennis; dit sal eksperimenteel dieper ondersoek moet word.

’n Paar kleiner onduidelikhede (miskien foutjies?) ...

Jy noem die vokale /y/ en /9/ gemerkte geronde voorvokale. /9/ is tog nie ’n voorvokaal nie?

Nee, dit was inderdaad onpresies gestel – dis selfs ’n fout. /9/ is ’n neutrale vokaal. Dit moet presieser, soos weliswaar elders in die artikel, saam met /y/, nonagtervokale genoem word.

Hoe oud is die spreker in Klankgreep 1? Jy meld slegs dat hy “oud” is.

O, ek het nagelaat om dit te vermeld. Hy was 68 ten tyde van die opname.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top