Lesers wat Hermann Hesse se fiksie waardeer, kan met sy karakters en hul innerlike ervarings identifiseer. Vir EL Doctorow (1994:151) is ’n roman “a printed circuit through which flows the force of a reader’s own life”. Hesse (1977:247) self het sy boeke as “Seelenbiographien” beskryf. Demian is inderdaad ’n biografie van Emil Sinclair se siel; Der Steppenwolf van Harry Haller s’n, ensovoorts. Dit is een van die redes waarom Hesse so geliefd by sommige lesers is – én gehaat word deur ander. By laasgenoemde is Hesse gewis ’n ondergewaardeerde Nobelpryswenner.
Die Nobelprys is op 10 Desember 1946 aan Hesse toegeken vir Demian en Die Morgenlandfahrt. Hesse was afwesig by die geleentheid. In ’n brief van 19 November 1946 aan Thomas Mann vertel Hesse dat 1946 vir hom ’n jaar van mooi gebeure was. Een daarvan was dat sy twee susters hom in Switserland besoek het. Dit het hom die geleentheid gegee om hulle te “klee, voer en troos” voordat hulle na die “donker Duitsland” toe moes terugkeer. In dieselfde jaar is die Goetheprys ook aan hom toegeken; die Nazi, Alfred Rosenberg, wat bygedra het tot die tanende gewildheid van Hesse in Duitsland, is in Nürnberg tereggestel; en Hesse het die nuus van die Nobelprys gekry. In die brief aan Mann skryf Hesse dan ook dat die enigste gebeurtenis wat “werklikheid” vir hom het, die besoek van sy susters is. Die ander gebeurtenisse het nog nie werklik by hom ingesink nie. Die implikasie dat die besoek van sy susters alles, insluitende die Nobelprys, vir hom oortref het, toon Hesse, in daardie tyd, as ’n mens vir wie mense belangriker is as erkenning. Hy het nou wel nie na Swede gereis om die Nobelprys in ontvangs te neem nie, maar dit was vir hom ’n beginselsaak om die brief van elke individu wat vir hom geskryf het, te beantwoord. Hierdie gerigtheid op die individu vind ook neerslag in sy fiksie. In Demian (Hesse, 2000:9-10) sê die verteller dat elke mens aandag verdien: elke mens is wonderlik en elke mens se storie is belangrik, ewig en goddelik.
Die fokus op die mens as ’n individu in sy prosa het dan ook tot ’n gekompliseerde resepsie gelei. Paul Bishop (2007:72) skryf dat Hesse se gewildheid hoogtepunte bereik het direk na die publikasies van Der Steppenwolf (1927) en Das Glasperlenspiel (1943); toe die Nobelprys aan hom toegeken is; toe vertalings van sy boeke in sowat 30 tale in die vyftigerjare verskyn het; toe sy boeke wêreldwyd belangstelling by nagraadse studente uitgelok het; sowel as tydens die oplewing van belangstelling in Hesse se fiksie in die VSA gedurende die sewentigerjare. Daar was wel ook verwerping en die afwesigheid aan belangstelling as gevolg van politieke redes; in 1958 het ’n misleidende artikel in Der Spiegel verskyn waarin Hesse uitgebeeld word as ’n soort kluisenaar wat uit voeling met die wêreld is; en, soos Paul Bishop (2007:72) sê: “[A]mong the Fachwissenschaftler, Hesse has never enjoyed a high reputation.” Dit het intussen ook al in ’n mate verander, soos wat Ingo Cornils (2009:2) in die inleiding tot A Companion to the Works of Hermann Hesse opmerk: “The view that Hesse is somehow not worthy of ‘serious’ literary engagement is rapidly changing, as a new critical edition of his works, a re-evaluation of his political thought in the context of global environmental developments, and an appreciation of his seemingly simple yet profound message give rise to new research around the world.” Kritiek teen Hesse se fiksie het dikwels daarmee te make dat sy werk as te sentimenteel en nie genoegsaam intellektueel gesien word nie. Volker Michels (2004:41) vind dat ’n mens dit nie kan ontken dat “Gemüt”, emosies, ’n meer prominente rol in Hesse se fiksie speel as in die geval van ander intellektuele skrywers nie – en dit is juis waaraan kritici soos Gottfried Benn, Marcel Reich-Ranicki en Klaus-Peter Philippi ’n hekel het. Die implisiete kriterium dat fiksie ter wille van literêre meriete eerder ’n onemosionele, intellektuele fokus moet hê, blyk eerder met ’n voorkeur of vooroordeel te make te hê. Hendrik Licht (2005:6) verwys ook na die potensiële verleentheid onder Duitsers wanneer hulle erken dat hulle Hesse se boeke waardeer. Licht sê “omtrent almal van [hulle]” het op ’n tydstip Siddharta en Der Steppenwolf verslind en dit was asof “’n mens jouself gevind het en die skrywer met jou siel gepraat het” – maar dit was so tussen die ouderdomme 15 en 19. Daar is ’n duidelike ooreenkoms met die verleentheid en die irritasie wat vakkundiges beleef: die aard van die fiksionele wêrelde is té “innerlik”.
Innerlik, ja, én diepsinnig, profound, soos die uniek artistieke en tydlose uitbeelding van die tema “getrouheid aan jouself” in Demian. Die hoofkarakter, Emil Sinclair, sê hy wou op ‘n manier lewe wat vir hom natuurlik sou wees (Hesse 2000:9,100). In Demian het hierdie “natuurlike lewe” daarmee te make dat ’n mens bewus moet wees van die “demone” wat jou lewe in ’n spesifieke rigting laat ontwikkel. Angus Fletcher (1970:42-3) verduidelik dat die woord daemon van die Griekse werkwoord daiomai afgelei is wat beteken “om te verdeel” of “om uit te deel”. Fletcher (1970:337) verwys na destruktiewe “sataniese” kragte, wat in Demian nie net figureer as onderdrukking deur obskure individue nie, maar ook as druk vanuit die ordentlike Christelike en konserwatiewe sosiale klas van Sinclair se ouers. Daar is egter ook iets soos konstruktiewe “messiaanse demoniese kragte” – wat in Hesse se boek verteenwoordig word deur karakters soos Demian, Beatrice, Pistorius en Demian se ma wat Sinclair in staat stel om hom “na homself toe” te lei.
Demian idealiseer ’n god, Abraxas, waarin goed en kwaad verenig is. Dit sou egter ’n wanopvatting wees om Abraxas op dieselfde vlak as God te plaas. Dit is ’n vervanging van die kunsmatige sosiale Christelike god in die konserwatiewe konteks van die fiksionele wêreld. ’n Interpretasie, bepaal deur spesifieke waardes en norme, van wie en wat God is, is niks minder as ’n degradering en ’n wanopvatting nie. Die aanbidding van so ’n sosiale god verontagsaam dan die gebod om nie ander gode te aanbid nie (Eksodus 20:3). Die konsep “duiwelsaanbidding” in Demian is dus minder kontroversieel as wat dit op die oog af lyk. Dit impliseer eerder dat elke mens erkenning behoort te gee aan die “boosheid” binne-in hom-/haarself. Dan moet die mens ook die onderskeid tref tussen wat reg en verkeerd is volgens ander mense en wat waarlik reg en verkeerd is vir die mens as individu.
Eerlike menslike ervarings wat herkenbaar in die werklike wêreld is, kenmerk Hesse se fiksie. Siegfried Unseld vertel dat toe hy Hesse eenkeer besoek het, was Hesse besig om ’n brief te beantwoord waarin iemand hom gevra het wat die belangrikste in die lewe is. Hy vra toe vir Unseld wat sy antwoord daarop sou wees. Unseld was oorbluf, waarop Hesse Confucius se antwoord aangehaal het: “Getrouheid aan jouself en om teenoor ander goed te wees.” Hesse se fiksie bied inderdaad “moments of sublime beauty and important clues for the understanding of the human psyche” (Cornils 2009:2). Dit is die blywende rede waarom Hesse se boeke waardering regverdig.
Bronne geraadpleeg en aangehaal:
Bishop, P. 2007. “Heavyweight of the Weimar Republic?” Issues of Literary Value and Canonicity in Hermann Hesse. In Saul en Schmidt (reds) 2007.
Bybel. 1983. Die Bybel: nuwe vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Cornils, I (red). 2009. A companion to the works of Hermann Hesse. Rochester, New York: Camden House.
Cornils, I. 2009. Introduction: From outsider to global player: Hermann Hesse in the twenty-first century. In Cornils (red) 2009.
Doctorow, EL. 1994(a). Poets and presidents: selected essays, 1977-1992. Londen: Papermac.
—. 1994(b). False documents. In Doctorow 1994(a).
Fletcher, A. 1970. Allegory: the theory of a symbolic mode. Ithaca: Cornell University Press.
Hesse, H. 2000. Demian: Die Geschichte von Emil Sinclairs Jugend. Frankfurt am Main: Suhrkamp.
—. 1977. Die Welt der Bücher: Betrachtungen und Aufsätze zur Literatur. Frankfurt am Main: Suhrkamp.

