Patrick White (1912–1990), Australië se enigste Nobelpryswenner vir letterkunde (totdat JM Coetzee in 2006 Australiese burgerskap toegestaan is), het hierdie gesogte toekenning in 1973 ontvang. Die Nobel-komitee het sy “epic and psychological narrative art” geloof en sy werk as die bekendstelling van “a new continent into literature” beskryf.
Hierdie stelling het meer as een interpretasie en is nie beperk tot die mees voor die hand liggende (en foutiewe) suggestie dat White die eerste Australiër van letterkundige waarde was nie. Inteendeel, White het as’t ware die Australiese kontinent herskep in sy skryfwerk. Hy was ’n merkwaardige nuwe stem binne die wêreldliteratuur gedurende die middel- 20ste eeu, en het die plaaslike en die globale laat vervloei om uiting te gee aan ’n oorspronklike en postkoloniale modernisme.
Sy kennis van Duitse filosofie, Franse simboliek (hy het Duits en Frans as hoofvakke by Cambridge geneem), sy ervaring van Egipte, Palestina en Griekeland gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en sy ervaring van Britse sosiale kringe en die opbloei van Londen se moderne-kuns-beweging blyk duidelik uit sy skryfwerk. Hy keer ná die oorlog na Australië terug en kombineer hierdie invloede met sy satiriese oog vir koloniale Australiese snobisme en na-oorlogse suburbia en sy blywende liefde vir die stille, uitgestrekte Australiese landskap. Die milieu van sy mees aangrypende werke is Australië, alhoewel sommige van sy romans ook in Europa en Amerika afspeel.
White se omvattende letterkunde omskep nie net Europese tradisies in hulle plaaslike Australiese variante nie, maar verklaar ook Australië as ’n geldige konteks vir (verskuiwende) letterkundige konvensies en filosofieë van Europese afkoms.
Alhoewel White ook ’n baie produktiewe dramaturg was, is hy meestal bekend vir sy romans. Gedurende ’n oeuvre wat oor die middeljare van die 20ste eeu strek, vanaf 1938 tot 1986, het hy twaalf romans en twee kortverhaalbundels gepubliseer. Hy is die bekendste vir sy metafisiese romans van die vyftiger- en sestigerjare: The Tree of Man, Voss, Riders in the Chariot (die eerste roman ooit wat die traumatiese onderwerp van die Nazi Holocaust ondersoek) en The Solid Mandala.
Nietemin spreek sy romans van die sewentigs van ’n skrywer op die kruin van sy sukses: The Vivisector beskryf die lewe en die ondervindings van ’n kunstenaar (en ook in ’n sekere mate die kreatiwiteit van die skrywer self) en is geïnspireer deur die brutale ekspressionisme van die Londense skilder Francis Bacon; The Eye of the Storm is ’n uitbeelding van ouderdom en narsissisme; A Fringe of Leaves ondersoek die motief van die verval van die beskawing (dit is geïnspireer deur dieselfde historiese skipbreuk wat gelei het tot André Brink se ’n Oomblik in die wind). White se laaste groot werk, The Twyborn Affair, is sy mees volgehoue uitbeelding van gay-verhoudings en die uitvoering van gender – temas wat net vlugtig in sy vroeëre werke voorkom. White het hierdie roman as sy “coming out”-roman beskou en dit ondersoek gender en seksualiteit op ’n interessante manier – nog voor die opbloei van die poststrukturele queer-teorie van die negentigs.
White se styl is moeilik om te omskryf en soms ewe moeilik om te lees. Onder die invloed van gerekende modernistiese skrywers soos Joyce, Woolf en Lawrence gebruik hy tegnieke van vrye indirekte spraak en bewussynstroom.
Karakterperspektief is belangrik vir White en sy skryfwerk is dikwels ’n komplekse prisma van dubbelsinnige perspektief. Selfs sy oomblikke van skynbaar alomteenwoordige derdepersoon-vertelling is bedrieglik en bevat dikwels dubbelsinnige frases wat die leser vlugtig toegang gee tot ’n karakter se binnewêreld, maar nooit ten volle nie. Die gevolg is ’n bewustheid van vertelling wat nietemin deurgaans sy eie gesag ondermyn.
White se werke kompliseer dikwels die outoriteit van outeurskap. Dit word beklemtoon as arrogant en onvolhoubaar – ’n funksie van die selfbevestigende, dog bedreigde koloniale denkwyse.
Die mees opvallende aspek van White se styl is dalk sy skerp oog vir fisiese besonderhede. White beeld die wêreld as geheimsinnig uit deur die verbeeldingryke en vervreemdende mag wat hy aan materiële voorwerpe toeken. Dit verleen ’n komplekse metafisiese kwaliteit aan sy fiksie, en die wêreld word uitgebeeld as buite die bereik van menslike kennis, tegelykertyd deurweek met geestelike vrede en ’n diaboliese en onverbiddelike krag.
In hierdie opsig is White, wat sy fiksie betref, baie aan Blake verskuldig. Sy fiksie spreek van die bestaan van ’n God, maar plaas die geestelike in die materiële wêreld, en ook binne dié van White se taal, wat dikwels ekspressionisties verwronge en ritmies poëties is.“God” is vir White bloot ’n sinoniem vir “andersheid”, ‘n motief van volgehoue belange vir setlaarskrywers wat worstel met die komplekse kwessie van hulle plek binne die gekoloniseerde terrein.
Volgens White is beide die fisiese en die metafisiese noodwendig onuitdrukbaar en taal moet vervolgens onder druk geplaas word om hierdie inherente tekortkominge te benadruk en om so na as moontlik dit wat nié uitgedruk kan word nie, voor te stel.
Vir die Suid-Afrikaanse leser bied White interessante parallelle. Sy vroeë roman The Aunt’s Story vind inspirasie by Olive Schreiner se The Story of an African Farm en gebruik aanhalings uit Schreiner se werk as opskrifte vir die eerste drie afdelings. Hierdie roman het ook as fokuspunt ‘n jong vrou wat op ‘n Australiese plaas grootword en toenemend haar greep op die werklikheid verloor. The Aunt’s Story het dus interessante raakpunte met die Suid-Afrikaanse plaasroman en selfs die droë, ontstellende waansin van JM Coetzee se Magda in In the Heart of the Country (wat veel later verskyn het).
Coetzee self is ’n bewonderaar van White se werk. In sy inleiding tot ’n onlangse Penguin Classics-uitgawe van The Vivisector wys hy op “the power of White’s idiosyncratic verbal style”, die krag van die prosa “that itself bears the marks of struggle”, en die verbeeldingryke besonderhede van White se “painterly vision of the world”.
Coetzee het White se Voss gedoseer terwyl hy aan die Universiteit van Kaapstad gewerk het en deel duidelik White se belangstelling in skryfwerk wat om onuitdrukbare andersheid maal.
Dit is interessant om te let op die ooreenkomste tussen die uitbeeldings van honde in White se Voss en Coetzee se Disgrace: albei skrywers stel belang daarin om menslike aansprake te ondermyn en om veragtelikheid en nederigheid uit te beeld.
As daar een oorweldigende rede is om White te lees, is dit vir die prag en poëtiese kwaliteit van die prosa. Moenie werke met opwindende storielyne verwag nie; White se interessantheid lê in sy linguistiese besonderhede, sy kennis van die transkulturele, sy skerpsinnige en snydende waarnemings oor karakter en sy poging om die leeservaring visioenêr te maak. Maak tyd vir White. Voss is ’n goeie beginpunt – Ted Hughes het, nadat hy Voss gelees het, White as een van die 20ste eeu se mees invloedryke digters beskryf. Sy skryfwerk verskuif persepsies.

