Hy praat Vlaams. Sy, Afrikaans.
Liefdesbrieven/ Liefdesbriewe is ’n vertaling van die Amerikaanse dramaturg en romanskrywer, Pete Gurney se Love Letters, (première, 1988), en is al in 24 tale vertaal en gespeel. Wat hierdie produksie van Oktober in Suid-Afrika uniek maak, is die feit dat dit in twee tale op die verhoog afspeel, vandaar die dubbeltalige titel.
Deur hul liefdesbriewe aan mekaar speel ’n man en vrou hulle liefdeslewe oor 50 jaar uit. Hulle het totaal verskillende persoonlikhede: hy is ’n ambisieuse man uit ’n gebalanseerde huis met sy oog op die politiek, en sy is ’n skilder uit ’n minder gelukkige, maar baie welaf huisgesin. Hy dink rasioneel, ordentlik en bedaard. Sy is ’n ekstrovert, eensaam, koppig en heftig.
Melissa: “Andreas, weet jy wat dink ek is fout met ons? Hierdie briewe. Dis hierdie briewe. Dis wat dit is – volgens my beskeie mening. Ek ken jou beter uit jou briewe as vir jou persoonlik.”
Andreas: “Lieve Melissa. Ik voel me een echte minnaar als ik jou schrijf. Deze brief, die ik nu zit te schrijven met mijn eigen pen, op mijn eigen manier, komt van mij en niemand anders, en is een geschenk van mij aan jou.”
“Die laerskoolbriewe verklap op humoristiese wyse enersyds die onskuld van sewejariges, en andersyds die seksuele bewuswording van die twee geslagte. Namate die twee karakters in verskillende rigtings beweeg, voer ontroering en teerheid die botoon” (Republikein, 17 April 2014).
“Aan de hand van de brieven die de personages recht voor zich uitkijkend voorlezen, ontvouwt zich het bestaan van een man en een vrouw die elkaar heel hun leven lang hebben bemind en tegelijk telkens weer uiteenlopende wegen kozen. Hun brieven tonen het beloofde land van de jeugd, gemiste kansen, uiteengespatte dromen, maar ook blijvende liefde. Woorden vol omfloerste tederheid” (Rik Torfs in De Standaard).
Die twee rolle word vertolk deur Jo Decaluwe, direkteur van die Tinnenpot Teater in Gent, België, en Chrisna Beuke-Muir, senior dosent aan die Universiteit van Namibië.
Liefdesbrieven/Liefdesbriewe is vir die eerste keer in 2013 tydens die Windhoek Woordfees in Windhoek opgevoer, en daarna is dit tydens twee verskillende geleenthede (Maart/April en November) ’n stuk of 10 keer in België opgevoer.
Suid-Afrikaners kan die produksie sien in die laaste week van Oktober:
Pretoria, Pierneefteater, op 24 Oktober om 19:00.
Bloemfontein op 27 Oktober (navrae: Universiteit van die Vrystaat se Departement Drama)
Stellenbosch op 29 en 30 Oktober om 20:00 in die Klein Libertas Teater.

