Dit is asof die draaiboek vir onlangse gebeure langs die Koster-Derby-pad deur ’n satirikus geskryf is – ’n groteske oordrywing van die werklikheid met die doel om die regering van die dag aan die kaak te stel. Helaas nie. ’n Berig in Beeld van 16 Junie 2012 dien as verdere bewys dat die hedendaagse Suid-Afrikaanse werklikheid Teater van die Absurde geword het.
Om drie-uur die oggend nader twee swaarvoertuie mekaar uit teenoorgestelde rigtings, die een swaar gelaai met bier, die ander met bevrore hoenders. Beide voertuie swaai op dieselfde oomblik uit om slaggate te vermy – holtes wat later deur die plaaslike polisie as “dongas” beskryf is. Met die uitswaai verloor beide lorries hulle vrag, en land die een op die treinspoor, reg voor ’n aanstormende goederetrein vol petroleumgas. Wonder bo wonder was daar geen lewensverlies of ernstige beserings nie – vandaar die ligte trant van beriggewing. Tog is die skade van enorme omvang, veral omdat die trein ontspoor het. En natuurlik kla plaaslike inwoners al geruime tyd oor die toestand van die pad. Aldus die berig in Beeld.
Daar het glo vir geruime tyd ’n sterk bierreuk bo die ongelukstoneel gehang. Die enigste mense wat voordeel uit die situasie getrek het, was ’n aantal locals wat glo bokse en bokse bier en bevrore hoender weggedra het. For free. Vrugte van die ANC-bewind.
Mens hoop van harte dat diegene wat skade gely het, die betrokke departement hof toe sal sleep. Dit moet nie daar stop nie. Iewers tussen stapels opgehoopte lêers, geïgnoreerde klagtes en ydele beloftes skuil ’n skuldige amptenaar of politieke ampsbekleër wat gejag moet word om regtens verantwoording te doen, al is dit net om te verseker dat hy of sy nooit weer die daglig van ’n onverdiende, vet salaristjek sal aanskou nie. Laat die ANC maar kopkrap oor die betrokke persoon se herontplooiing.

Die vroegoggend-debakel langs die Kosterpad is geen frats nie. Nuusberigte van growwe pligversuim slaan soos masels in die media uit. Kort-kort hoor mens van Departement dié en Departement daai wat diensverskaffers en leweransiers etlike miljoene rande skuld. Hierdie kwellinge word gewoonlik publieke kennis omdat leweransiers vasskop en dienste tot stilstand kom. In alle billikheid: gewoonlik verneem mens daarna die blye tyding dat die sentrale owerheid nou ingegryp het en besig is om die skuld te betaal. “Dinge is besig om na normaal terug te keer,” lui die gerusstelling gewoonlik. Normaal? Besef gesalarieerde politici en amptenare dat veral kleiner private ondernemings kwalik kontantvloeiprobleme kan bekostig? Dat hulle wanbetaling in swak ekonomiese tye tot werkverliese en likwidasies kan lei? Soms is sulke ondernemings boonop huiwerig om regsaksies teen die owerhede in te stel uit vrees dat dit die toekomstige toekenning van tenders kan beïnvloed.
Vraag is: Waarom moet daar eers ’n krisis ontstaan en diensverskaffing aan (byvoorbeeld) pasiënte onderbreek word voordat die staat sy kontraktuele verpligtinge nakom? Die proses is tog heel eenvoudig: daar word vir bepaalde uitgawes begroot, fondse word by wyse van die wetgewende proses toegeken, ’n tenderproses word gevolg en siedaar, ’n diensverskaffer word aangewys wat, in geval van nakoming van verpligtinge, op ooreengekome betaling geregtig is. Mens het begrip vir die onlangse dreigement van mediese personeel in Limpopo om, indien X-straalmasjiene wat reeds vier maande buite werking was, nie voor ’n sekere tyd herstel word nie, die tou pasiënte na die betrokke LUR se kantoor te verwys.
Die onlangse skokkende bevindinge van die ouditeur-generaal oor die stand van geldsake op plaaslike vlak en die boekedebakel in Limpopo dien as verdere bewys van die huidige regering se onbeholpenheid.
Dit is jammer dat mooi name soos Limpopo en Mpumalanga sinonieme vir “korrupsie” en “wanbestuur” geword het. Alle patriotiese Suid-Afrikaners wil dinge maak werk, veral op plaaslike vlak, want dit is die plek waar belastingbetalers sigbaar waarde vir hulle geld kry en positiewe gesindhede gesmee en maatskaplike probleme aangespreek moet word.
Hoe gaan sake op plaaslike vlak egter verbeter as daar geen politieke wil op sentrale vlak is om in te gryp nie? Enkele weke gelede het president Zuma (vir die hoeveelste keer) gesê dat korrupsie moet end kry, want, seg hy, die beeld van die ANC ly skade. Nogal insiggewend, komende van ’n man wat veg om politieke oorlewing, die kake van kriminele vervolging net-net vrygespring het en die boekedebakel voor die deur van wyle dr Verwoerd lê. Korrupsie moet vreesloos aangespreek word omrede landsbelang dit vereis, en nie bloot omdat dit die regerende party se aansien laat kwyn nie.
By gebrek aan regeringsinisiatief om die vrot kolle in plaaslike regering op te ruim moet private inisiatief die ding doen. Twee stappe kan daartoe bydra. Waar die toepaslike wetgewing dit toelaat, moet eisers wat hulle tot die hof wend, aan wanbestuur ’n gesig gee deur die betrokke amptenare uit te snuffel en in die hof medeverantwoordelik te hou. Sodra ’n skuldige amptenaar (en nie bloot die belastingbetaler nie) vir ’n suksesvolle eiser se regskoste moet betaal, sal hy of sy volgende keer versigtiger optree.
Die tweede stap is om boek te hou van die kwaad. In Suid-Afrika veroorsaak wanbestuur (hetsy die aktiewe of passiewe variasie) die skending van menseregte, veral wanneer die lewering van water, toiletgeriewe en skoolhandboeke ter sprake is. Daarom moet wanbestuur en diegene wat daarby betrokke is, vir doeleindes van gereelde verslae gemonitor word. Wanneer ’n amptenaar byvoorbeeld ernstig droogmaak, moet daar bepaal word wat sy kwalifikasies is, wie hom aangestel het, of dissiplinêre stappe geskied, hoe lank die amptenaar teen volle betaling by die huis sit, of strafregtelike stappe gedoen word, en of hy intussen weer elders in ’n staatspos aangestel is.
Daar moet ook rekord gehou word van die ontstellende frekwensie van departementshoof-posontruimings. Verklaarde en vermeende redes vir die betrokke senior amptenaar se posontruiming, asook die finansiële implikasies daarvan, moet gemoniteer word.
In Suid-Afrikaanse menseregte-wetgewing word daar na diskriminasie verwys as iets wat “sistemies” deel van die samelewing was.1 Dit lyk asof korrupsie en wanbestuur besig is om dieselfde status te bereik, en asof die land op nasionale, maar veral plaaslike, vlak aan ’n tipe orgaanversaking ly. Dit is dalk een van die slegste nalatenskappe van apartheid: dat dit die regeringsmantel laat val het op ’n bevrydingsorganisasie wat nie in staat is om behoorlik te regeer nie, en (vir die huidige) by die stembus daarmee wegkom.

