Titel: Aan die stuur
Outeur: Brand Pretorius
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624056652
Koop Aan die stuur nou by Kalahari.com
Also available as In the driving seat.
Om te lei, om te dien! Dít is die deurlopende tema van Brand Pretorius se boek getiteld Aan die stuur. Op die oog af mag dit dalk lyk na leesstof wat uitsluitlik gemik is op diegene wat een of ander leierskapsrol in die handelswêreld beklee óf op diegene wat swoeg en sweet om ’n MBA of MPA te verwerf. Dis egter nié die geval met hierdie boek nie!
Ook vir Jan Alleman bied die skrywer ’n bladsy-vir-bladsy-lekkerleeservaring oor sy persoonlike wedervaringe, die intriges van die handelswêreld, die impak daarvan, asook die rol van mentors op sy lewe. Terselfdertyd bied sy beroepslewe en die lesse en besigheidsbeginsels wat hy tot op hede daaruit kon put, veel stof tot nadenke.
Dit is in Bultfontein, ’n dorpie in die Vrystaat, waar sy lewensreis onder die beskutte vaandel van streng maar liefdevolle ouers en drie broers rigting begin kry. Met diepe ontsag, maar tog ook met ’n vonkel in die oog, nooi die skrywer die leser om te deel in sy wedervaringe as kind en ook om die kragtige en intieme polsslag van respek, liefde, vertroue en bewondering wat sy verhoudings met sy pa, ma, broers en andere kenmerk, te ervaar. Dat die leser boonop ook self emosionele en nostalgiese aanklank daarby sal vind, is gewis.
’n Lewenslange verbintenis met die motorbedryf kry ook beslag gedurende die skrywer se vormingsjare. Dit baan die weg vir ’n professionele loopbaan in die motorbedryf, asook skouerskuur met formidabele sakeleiers soos Albert Wessels, stigter van Toyota Suid-Afrika, en andere. Deur hul mentorskap en aanmoediging, maar ook blootstelling aan Toyota Japan se werksetiek en ’n stewige dosis persoonlike toewyding en ambisie, word ’n toekomstige sakeleier by name Brand Pretorius gebore. Aan die stuur is inderdaad voorafgegaan deur grondige skoling aan die voete van deurwinterde leermeesters en ’n eie wil om te presteer.
Sou dít die skrywer egter staal teen die vele intriges van die sakewêreld wat hy langs die pad sou moes hanteer? Die antwoord op hierdie vraag laat ek aan die leser self oor. Laat my egter toe om die aptyt te wek.
In die aanloop tot die nuwe demokratiese bestel is Toyota SA onder Pretorius se leierskap tot die uiterste deur ’n militante arbeidsmag en stakings beproef. Verder was die skrywer se besluit om hom by die McCarthy-groep aan te sluit allesbehalwe maanskyn en rose. Verliese deur die groep het tot herstrukturering en herkapitalisering gelei. Terselfdertyd is ’n maatskappy genaamd RAG, waarvan hy die nie-uitvoerende voorsitter was, gelikwideer. Dit het ’n dramatiese en traumatiese nadraai gehad. ’n Artikel 417-ondersoek is deur die regering van stapel gestuur en die skrywer is oor ’n periode van vyf dae aan uitmergelende kruisverhoor onderwerp.
Elke donker wolk het egter ’n silwer randjie. Met die regeringsondersoek agter die rug, die oorname van McCarthy deur Bidvest en ’n toename in bedryfswins van net meer as 60% besluit die skrywer om na 16 jaar in diens van McCarthy en na 38 jaar in die korporatiewe wêreld uit te tree.
Brand Pretorius se verhaal oor sy beroepslewe is daarom intens verweef met talle lesse en sakebeginsels waarby almal kan baat wat leiers uit eie reg in die sakewêreld is óf wat aspirasies het om tot die leierskapstoel toe te tree.
Uit hierdie skatkis van ervaring leer ons dat die sakewêreld ’n ongenaakbare omgewing is. Dat swak beplanning, ’n halfgebakte strategie en halfhartige besluitneming tot menige besigheid se ondergang lei. Van kritieke belang is dus deeglike beplanning, spanwerk en suksesvolle implementering van strategieë. Voeg daarby die vermoë om vinnig op verandering te reageer en kreatief en vernuwend te wees – dít lewer dividende!
Die mees kritieke element vir sakesukses is egter, volgens die skrywer, om nooit uit die oog te verloor dat om te lei is om te dien nie! Inderdaad ’n moet-lees vir almal wat streef na grondige begrip van hierdie kernbeginsel.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

