In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek se saak gaan terug na ’n skyngeveg wat die weermag in die lente van 1926 te Aliwal-Noord gereël het. Dit was tussen die twee Wêreldoorloë, vanjaar 86 jaar gelede.
Nou, soos maar gewoonlik in ’n skyngeveg gebeur, was daar twee groepe soldate. Die een groep het stelling op ’n strategiese koppie ingeneem en die ander groep moes probeer om hulle daar uit te kry en die koppie oor te neem. Albei groepe was met Martini-Henry-gewere gewapen, maar natuurlik, omdat dit ’n skyngeveg was, het hulle nie met skerppunt-ammunisie geveg nie, maar met loskruitpatrone. Normaalweg rig die loskruitpatrone geen skade aan nie, behalwe as dit te naby aan iemand afgevuur word. En dit is presies wat gebeur het.
Op die koppie was daar ’n kêrel met die naam Mandelbaum en in die ander groep wat die koppie moes oorneem, was ’n jongeling genaamd Bekker. Dié twee het deur ’n bos op mekaar gevuur en Bekker het toe agter die bos uitgekom sodat hy vir Mandelbaum beter kon sien. Skielik was die twee baie naby aan mekaar. Mandelbaum het glo geskree dat Bekker nie op hom moet skiet nie omdat sy patrone op was (bid jou aan – dit klink soos ’n cowboys en crooks-speletjie!). Bekker, weer, het gedink Mandelbaum gaan hóm skiet en daarom het hy maar eerste losgebrand, sommer so van die heup af. Volgens latere getuienis was hy nie verder as so twee, drie meter van Mandelbaum af nie.
Bekker se arme slagoffer het permanente beserings aan sy een oog opgedoen, hoewel dit nie baie ernstig was nie. Daarbenewens is sy gesig gepeper met verbrande buskruitkorrels, maar volgens mediese getuienis sou die meeste van hulle ná ’n paar jaar verdwyn, hoewel ’n paar diep in sy gesig ingegaan het en alleen deur pynlike operasies verwyder sou kon word.
Mandelbaum het daarna ’n aksie om skadevergoeding ten bedrae van 2 000 pond teen Bekker ingestel. In 1927, die jaar toe die eis voor die hooggeregshof in Kaapstad gedien het, sou 2 000 pond in vandag se geld seker so R300 000 gewees het – daar rond.
Die saak het voor regter Watermeyer gedien.[1] Een van Bekker se verwere was dat Mandelbaum vrywillig toegestem het tot die risiko van benadeling. In regstaal word dié verweer genoem volenti non fit iniuria. Eenvoudig gestel beteken dit dat as ’n mens toestem tot die risiko dat jy benadeel kan word, jy nie agterna ’n eis kan instel nie.
Bekker se advokaat het die skyngeveg gelykgestel aan ’n rugbywedstryd waar die deelnemers aanvaar dat hulle aan ’n rowwe spel deelneem en dat hulle in die loop van die spel mag seerkry.
Regter Watermeyer was egter nie met hierdie argument tevrede nie en het beslis dat in ’n skyngeveg met loskruitpatrone iemand in die posisie van Mandelbaum hom net onderwerp aan die normale risiko’s van ’n skyngeveg. Hy onderwerp hom byvoorbeeld nie aan die risiko om met ’n geweerkolf oor die kop geslaan te word of dat een van sy medetroepe – soos in dié geval – op ’n kort afstand met ’n loskruitpatroon op hom sal skiet nie. Die regter het ook opgemerk dat Mandelbaum nie werklik vrywillig aan die skyngeveg deelgeneem het nie; sowel hy as Bekker het immers onder militêre bevele gestaan toe die geveg plaasgevind het.
Die volgende vraag wat die regter moes beslis, was of Bekker nalatig was toe hy op so ’n kort afstand op Mandelbaum geskiet het. Die toets vir nalatigheid, beslis die hof, is die optrede van die gewone, normale persoon onder dieselfde omstandighede. Die reg noem só ’n persoon die “redelike mens”.
En dan maak die regter ’n interessante opmerking. Hy sê die redelike mens is ’n denkbeeldige persoon wie se optrede bepaal word deur die mate van kennis en graad van beskawing wat die mensdom bereik het. In die Romeinse tye sou dit waarskynlik nie onredelik vir ’n mens gewees het om die loop van ’n Martini-Henry teen iemand anders se gesig te hou en die sneller te trek nie. Die Romein van 2 000 jaar gelede sou nie geweet het wat ’n geweer is nie en sy optrede deur die sneller te trek sou nie nalatig gewees het nie. Maar die soldaat van 1927, het die regter beslis, behoort genoeg van vuurwapens te weet sodat hy kan besef dat dit ’n gevaarlike instrument is wat met respek behandel moet word.
Hoewel die hof jammer vir Bekker gevoel het omdat hy waarskynlik in die hitte van die stryd opgewonde was en nie genoeg tyd gehad het om sy dade mooi te oorweeg nie, was die regter tevrede dat hy nalatig was en dat hy aan Mandelbaum skadevergoeding moes betaal.
Die bedrag wat die regter bepaal het, was nie die 2 000 pond wat geëis is nie, maar 200 pond, in vandag se geld stellig ver meer as R30 000, wat nogal ’n ruim bedrag is wat die hof toegeken het, gesien die betreklik geringe beserings wat Mandelbaum opgedoen het.
Ek kon nie help om te glimlag oor een opmerking van regter Watermeyer nie. Toe hy so gepraat het oor die Romeinse tye en die feit dat ’n Romeinse soldaat niks van ’n geweer af sou weet nie, het hy ook sy blik so ’n bietjie in die toekoms laat gaan. "Die gewone mens," het die regter opgemerk, "sal oor 50 jaar van nou af waarskynlik ’n baie goeie kennis hê van die funksionering van die buise van ’n radio." Min het die regter geweet dat 50 jaar later g’n radio meer buise sou bevat nie, maar dat die in ding die transistor sou wees. Nog minder het die regter kon dink dat 70 jaar later ’n groot deel van die bevolking al rekenaars in hulle woonhuise sou hê en met mense in verre lande oor die internet sou gesels.
Dit laat ’n mens dink hoe dit oor 86 jaar van nou af sal lyk ...

