Hy het sy eerste album in ‘n tronksel in die Douglas Korrektiewe Sentrum opgeneem. Larry Joe moes vyf jaar en ses maande tronkstraf vir diefstal uitdien, nadat hy homself aan die owerhede oorgegee het. Hy wou sy lewe verander en het dit bewys, want sy vonnis is vroeg opgeskort en hy het nie gesit en niks doen agter tralies nie. In die twee jaar het hy 40 liedjies in Engels, Afrikaans, Xhosa, Spaans en Portugees geskryf. Met sy vrylating op 13 Desember 2010 was die album Crazy Life op die rakke.
Intussen het hy van die Noord-Kaap na Kaapstad verhuis, en 'n tweede album sien binnekort die lig. Die wêreldbekende vervaardiger Fabrice Dupont was betrokke by die projek en Larry is baie opgewonde. “Die liedjies is baie minder beperk as dit wat ek in die tronk geskryf het,” vertel hy tydens 'n telefoongesprek.
Crazy Life het regoor die wêreld aandag getrek en Larry het twee jaar lank gereis om die album te bemark. “Dit was regtig besonders en ’n nuwe ervaring om so baie te reis en mense te ontmoet,” sê hy. “'n Hoogtepunt was toe ek vir koningin Beatrix van Nederland in Europa ontmoet het.” Die Koningin het hom genooi en hy het by 15 verskillende geleenthede binne 10 dae opgetree.
“Ek het so baie gereis sedert ek vrygelaat is, maar my familie verstaan.” Larry se ma het vir hom sy eerste kitaar gekoop toe hy sestien jaar oud was. “Sy kom kyk so af en toe vir my as ek optree.”
Hy besoek volgende week Stellenbosch vir die eerste keer, waar hy op 7 Maart tydens die US Woordfees saam met die Larry Joe LIVE-orkes gaan optree. “Ek gaan my nuwe liedjies speel en dis waarna ek die meeste uitsien!”
Die nuwe studio-album sal later vanjaar verskyn en dra groot name soos dié van Vusi Mahlasela, Barry van Zyl, Bakiti Khumalo, Auriol Hayes en Karen Zoid.
Larry het op elke denkbare plek inspirasie vir sy liedjies gekry. “As ek 'n deuntjie in my kop hoor, vat ek sommer my selfoon en neem dit op.” Só het hy amper die hele album met sy selfoon gekomponeer. “Ek’s op my beste as ek alleen is vroegoggend, maar inspirasie is nie 'n kraan wat jy oop en toe kan draai nie.”
Larry is ook besig met werk as ambassadeur vir Shout SA, 'n Nederlandse organisasie in Suid-Afrika. “Ek het in die laaste vier maande met meer as 40 000 skoolkinders gewerk.” Hy bied gereeld werkswinkels in tronke aan en lewer motiveringspraatjies by skole.
“Ek wil aanhou fokus op my verantwoordelikheid as rolmodel vir jongmense,” vertel hy. “Maar ek geniet die musiek, en as die geleentheid hom voor doen, vertel ek gewoonlik op die verhoog ’n klein gedeelte van my storie.
“Ek het geen idee wat die toekoms inhou nie, maar dalk kan ek eendag saam met Beyoncé 'n liedjie opneem,” skerts hy. Larry is 'n gróót aanhanger. “Ek dink sy’s ongelooflik, al weet ek nie mooi hoe ons saam sal klink nie. Wie weet watter moontlikhede nog daar buite wag?”
Hy tree ook by die ABSA KKNK, Huisgenoot Namaquafees en die Vryfees op.
Hier is 'n voorsmakie van Larry Joe se nuwe album:
![]() |
Larry Joe Live Klik hier om jou kaartjies by Computicket te koop. |
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


