KykNET Musiek ondersteun die plaaslike musiekbedryf

  • 0

As jy mal is oor Afrikaanse musiek, kan jy nou inskakel op DSTV se kanaal 146. KykNET het op 13 November ’n eksklusief Afrikaanse musiekkanaal geloods. Ons het by Stephan Potgieter, KykNET Musiek se inhoudsbestuurder, gaan hoor hoekom die kanaal gróót nuus is.

Hallo Stephan. Laat ek sommer met die intrapslag vra: Wat het KykNET laat besluit om 'n nuwe musiekkanaal te loods terwyl MK reeds bestaan?

Die KykNET Musiekkanaal praat met ’n ander gehoor as MK. KykNET Musiek dien ‘n ouer mark as MK, om mee te begin. Deur die kanale te kyk, sal die kyker kan sien wat die verskil tussen die twee is. Die kontemporêre-/popmark val meer onder KykNET Musiek as MK.

Hoe verskil die nuwe kanaal se inhoud van dié van MK?

Die kanale verskil baie. Die kunstenaars verskil heeltemal, en so ook die styl van die video’s, ouderdom ensovoorts.

Hoe besluit julle watter video’s op die kanaal uitgesaai word?

Net soos met MK, het ons ’n musiekvideopaneel. Dié paneel kyk ook na kwaliteit, kreatiwiteit, genre, ensovoorts.

Wat beteken die nuwe kanaal vir die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en die kwaliteit van ons musiekvideo’s?

Ek glo dit sal ’n positiewe invloed hê. Wie weet, dalk sien ons hoe video’s wegbreek van “optrede”-video’s, waar die kunstenaars staan en sing, na meer video’s met ’n storielyn en fliekgevoel.

Mense is baie opgewonde oor veral die musiekvideo’s van toeka se tyd. Hoekom het julle besluit om ou video’s weer te gaan uitgrawe?

Ja-nee, mense is gaande oor die ou video’s! Ons het gevoel ons kykers vind nie slegs aanklank by die huidige/moderne kunstenaars nie, maar ook by die legendes van die verlede.

Die kanaal is 'n ideale platform vir nuwe, opkomende kunstenaars. Hoe besluit julle wie se video’s die kyk werd is?

Ons kyk maar na elke video wat aan ons voorgelê word. Jy weet nooit wanneer een jou onkant gaan vang nie. Dit is ’n tydsame proses, maar nodig.

Wat is KykNET Musiek se breër mikpunt in terme van nuwe kykers betrek en getroue KykNET-kykers behou?

Hierdie musiekkanaal is nie net vir kykers nie, maar ook vir die industrie. Nes met MK, is deel van wat ons met KykNET Musiek wil doen, om die industrie tot positiewe groei te stimuleer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top