Kyk 'n boek: Kruispad deur Deon Opperman

  • 0

 

Titel: Kruispad
Outeur: Deon Opperman (oorvertel deur Kerneels Breytenbach)
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624071426

Koop Kruispad by Kalahari.com

Die eerste ding wat ’n leser met dié boek moet begryp, is dat dit ’n boek is wat jy kyk.

’n Boek wat jy kyk, is anders as ’n boek wat jy lees. Hierdie boek was aanvanklik bedoel as iets waarna ’n mens op TV moet kyk.

Waarom is dit belangrik?

Wel, wanneer daar ’n fliek van ’n boek gemaak word, sê almal gewoonlik: “Maar dis nie soos die boek nie.” Dis erg irriterend wanneer mense dit sê. Want waarom op dees aarde moet ’n fliek soos die boek wees?

Tensy dit natuurlik ’n prentjieboek is waar daar baie prentjies met woorde is wat beelde soortgelyk aan dié in ’n fliek kan oproep. Maar ’n boek is ’n boek en ’n fliek is ’n fliek. Die een moenie soos die ander wees nie.

Nou waarom maak mense dan ’n fliek van ’n boek? Natuurlik omdat hulle dink daar is baie mense wat meer hou van kyk as wat hulle hou van lees. En as meer mense daarna kyk, dan gaan hulle meer geld maak en springmielies verkoop. Selde word ’n boek van ’n fliek gemaak, en dié wat ek gelees het, was nie vir my onthoubaar nie.

Nou is daar egter die sepieroman.

kykNET het saam met Tafelberg besluit om die Opperman-trilogie bestaande uit Donkerland, Hartland en Kruispad in boekvorm uit te gee. Die redenasie is waarskynlik dat soveel mense na die reeks gekyk het op TV dat dit suksesvol in ’n boek omgeskakel kan word. As jy dan die TV-gehore sover kan kry om te lees, gaan dit slimmer, stiller en waarskynlik beter mense oplewer wat meer boeke sal koop. Ons weet mos dat lesers slimmer as kykers is. Goed so. Tot dusver.

Dis die eeu waarin ons leef. Jy skep een produk en dan versprei jy hom op elke perron van een stasie. Dus het jy een keer die uitgawes en ses keer of meer die inkomste vir dieselfde produk. Jy kan sien hoe die MBA-ogies flonker, die geld begin tel en begin soek na nóg ’n perron of trein vol passasiers.

Maar waaroor gaan die boek? sal lesers vra.

Die boek handel oor die doen en late van die familie en aanhangsels van Soois van Rooyen, ’n boer van Mpumalanga vanaf 1994 tot 2006. Dit begin by die troue van sy dogter Sophia met Frik in Brooklyn, waar sy ander skoonseun Andries Landman ook teenwoordig is, vol angs oor sy werk by Waterwese en sy loopbaan in die Nuwe Suid-Afrika.

Daar is sy dogter Mariana, wat teer gevoelens vir haar swaer het, en dan die derde geslag wat uit hulle kinders bestaan. Daar is Izel en Henk aan die Landmans se kant en FG aan die Van den Bergs se kant. Só word die tafel gedek vir ’n Nuwe Suid-Afrika-sepie.

Daar is Landman wat in sy bunker kos vergaar en vrees vir die toekoms, sy werk verloor en dit, verbitterd, alles op sy huwelik uithaal. Frik wat room skep tot swart ekonomiese bemagtiging hom ook tref en sy rassistiese onderrok laat uitsteek.

Bring daarby nog Sophia, wat ryk en lekker leef en weier om te aanvaar dat armoede hulle in die gesig staar en dat sy miskien sal moet begin werk. Voeg daarby saam die kinders wat met die donker wolk van ’n ongeluk in die verlede saamleef, wat ondanks hul  ouers op hul eie ’n toekoms moet uitwerk in die land met die vreemde wat wink.

So dek Opperman die tafel vir ’n sepie met al die gewone elemente van wraak, jaloesie, verbode liefde, politiek, vernedering, ambisie, wellus, gierigheid en byna elke sonde en begeerte in menseheugenis.

En hoe verbluffend dit ook mag klink, síén jy hoe die verhaal ontvou. Dis asof jy TV lees. Boonop spring tonele van die een na die ander net soos op TV as jy die advertensies uitsny. Daar is byna geen pouse om te gaan piepie of wyn te gaan skink nie. Voorspelbaar en doelgerig stuur Opperman jou van een episode na die volgende. Jy voel die ritme soos met ’n rugbywedstryd waar die tafel eers gedek word, dan 60 minute saggemaak word en dan 20 minute vir die ontknoping.

Net so speel Opperman die kyker met die dek van die tafel, dan die vleis opskep en ’n bietjie chaos saai met groente en hoender voordat die episode ontknoop en met ’n raaisel eindig om die kyker na die volgende episode terug te lok. Dis regtig vernuftig en hy is duidelik ’n meester op sy gebied.

Net so is Breytenbach ’n man wat kan skryf. Maar onthou ook dat daar voor in die boek duidelik staan “soos oorvertel” deur Breytenbach. Dit doen hy gewis en regtig goed. Boonop pluk hy elke dan en wan ’n heerlike nuwe woord uit wat mens lekker kielie – dis nou as mens van lees en woorde hou.

Boonop is dit so geslaag dat selfs al skop jy teen die prikkels van eendimensionaliteit, oppervlakkige karakters en ’n voorspelbare storielyn, jy nie kan wag om verder te lees om te sien wat gebeur nie. Dis verskriklik goed gedoen. Dis nie dat jy wil léés wat gebeur nie, want in jou agterkop wéét jy (ondanks die jakkalsdraaie) wat gaan gebeur, maar jy wil sién wat gebeur.

En dis hier waar die twee kunstenaars die derde gebod oortree. Waarom, o waarom sal jy, as jy dit nou reggekry het om in een produk te kyk en te lees, nog die radio ook wil bytrek? Want dis waarvan jy praat as jy praat van oorvertel. As iemand iets oorvertel, dan luister jy en dan is jy mos op radio.

Net hier dink ek het die uitgewers te ver gegaan. Net toe mens begin leer om ’n boek te kyk én te lees, voeg hulle nog luister ook by. Moet dus nie verbaas wees as jy binnekort die boek op die karradio op pad werk toe kan luister nie.

Die flapteks het vermeld: “Die kanteling van die geskiedenis is selde nog so aangrypend verbeeld.” Nou ja toe, dis ’n bietjie hoog gemik vir ’n sepieroman. Dis meer populêre fiksie wat lekker oorvertel word. Niks meer nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top