
Die afgelope Silwerskermfees in Kaapstad het een feit klinkklaar bevestig: ons filmbedryf is springlewendig en gesond!
In die kortfilm-kategorie is 15 inskrywings uit 67 gekies om met befondsing en kundige hulp deur kykNET ontwikkel te word tot ’n film van 26 minute. Van die 15 films het ek 11 gesien – die volle reeks word gelukkig later op kykNET uitgesaai. Wat eerste opgeval het, is die geweldige groei in gehalte. Daarby ’n wye verskeidenheid temas wat vreesloos aangepak is deur ’n borrelende, bruisende jongklomp met ’n oormaat talent, ruimhartig ondersteun deur ouer en meer ervare akteurs en rolspelers in die bedryf.
Ek meet ’n land se filmaanbod aan sy komedies – in ’n dikwels neerdrukkende wêreld moet ’n mens immers kan lag om te oorleef. Vanjaar het twee puik komedies opgelewer: die slim-uitgewerkte Eenrigting (draaiboek en regie deur Corné Koegelenberg) en Vuil wasgoed (Bouwer Bosch en Bennie Fourie) met sy uiters vermaaklike Quentin Tarantino-agtige opset en deadpan spel. Laasgenoemde se bekroning as die beste kortfilm is welverdiend.
Almon, Henry is in Nataniël (draaiboekskrywer en akteur) se gebruiklike fantasmagoriese styl. Die knap regie en pragtige kostuums, beligting en stelontwerp verdien ’n spesiale pluimpie. Op ’n ligter noot is daar die stylvolle en vernuftige Juweeldiewe – jy kan maar sê ons eie James Bond-fliek.
Onder die tafel handel oor ’n gesin en geselle by ’n Sondagmaal waar daar gebieg en bely moet word. Al is dit so ’n bekende tema, is daar tog vars elemente en ’n lekker kinkel in die slot. Neem my saam is ’n fyn, mooi fliek ten spyte van die swaarwigtige tema: kanker. Jenna Dunster en Jacques Bessenger in die hoofrolle vorm die perfekte paartjie.
Stom, met die draaiboek deur Tina Kruger en regie deur Morné du Toit, is ’n stewige drama oor ’n “stom” onderwerp: postnatale depressie. Marisa Drummond is skitterend in die hoofrol. Nommer 37 is ’n grinterige Kaapse-gangster-fliek met ’n snaarstyf spanningslyn, en sy bekroning vir beste draaiboek en regie was geen verrassing nie.
Laastens is daar Nicola Hanekom se Trippie – ’n fenomeen, en een van die min werklike kunsflieks wat ek al in Afrikaans gesien het. Hanekom en Stian Bam se toekennings as beste aktrise en akteur was as’t ware vanselfsprekend.
In die groot aanbod vollengtefilms en dokumentêre het Ek, Afrikaner deur Annalet Steenkamp uitgetoring – as jy ’n ernstige fliekkyker is, maak ’n plan om dit te sien.

