Vraag: Definieer die term “gedig” vanuit die woordkuns-perspektief (10 punte)
Antwoord:
indien breyten sin kon maak
met pynlike ore van soetpatats
langs spoorlyne
duskant de aar
gps
in die middel van die wêreld
aarde ’n bol sampioen
uitgeholde blom,
kan ekke ook dig
digter
digste
die poheet plagieer argeloos
kapittel verse sonder regulasie
krap nuwe woorde
kastaiings uit die vuur
skommel tot strofes
die rommel van ’n bekende alfabet
vorm meetloos versplinterde frases
byderwetse ismes uit resonant en vokaal
sodat resensente buite die dampkring
nooit die kode mag snap
toepas of ontleed, bloot
omdat geen gedig tog ooit
skynheilig
bedoel wat daarin opgeteken staan
poësie spreek nie die tale van mense of engele nie
nog minder bevredig verdigsels die muse
van die kuns.
soos die riem onder die hart
gespan teen wil en dank
spreek alle gedigte
onweerstaanbaar
terapeuties
vanself.
die digter, die medium in ligte luim,
bevoorreg om met woordspelings te vroetel
los en verlate
tot
vervelens
toe

