Klaskamerklets: In gesprek met Lourette Erasmus

  • 0

In Klaskamerklets leer ons onderwysers in die klas ken, maak kennis met hul fortés en hul frustrasies. Hierdie week gesels ons met Lourette Erasmus, Afrikaans-onderwyser by Hoërskool Stellenbosch.

Wat is vir jou die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Om steeds hoë akademiese standaarde te handhaaf en binne die raamwerk van die KABV-vereistes te bly.

Wat, dink jy, is vir leerders vandag die grootste uitdaging?

Om gemotiveerd te bly, om te konstentreer, om met begrip te lees en om ’n gebrekkige woordeskat uit te brei!

Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdaging(s) van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik, byvoorbeeld, is eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, entoesiasme, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid, grit – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

Aanpasbaarheid en entoesiasme.

Hoe moedig jy jou klas aan om aktief deel te wees van dit wat in die klas gebeur?

Vra vrae om die leerders “vriendelik te verplig” om aandag te gee! Gee aandag aan wat hulle antwoord – hulle moet voel dat almal (sonder uitsondering) ’n mening mag uitspreek.

In watter mate het jy toegang tot en maak jy gebruik van tegnologie in jou klaskamer?

Ek gebruik gewoonlik die dataprojektor (ook ’n musieksentrum en internet) heel dikwels, maar tans het ek nie toegang daartoe nie en vind dit baie moeilik om die skoolowerhede van die belangrikheid van tegnologie in die klaskamer te oortuig. Dit is nie vir hulle ’n prioriteit nie!

Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

Ek gebruik die internet (veral om inligting oor skrywers en digters te kry) en verder gebruik ek die bekende woordeboeke, die Woordelys en Spelreëls, LitNet, inligting op die WKOD-webtuiste, die ou Afrikaanse skoolhandboeke en kollegas!

Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerder(s) wat onderpresteer te ondersteun?

Ek herhaal, gee ekstra oefeninge en bied soms ekstra klasse aan. Ek maak aantekeninge oor die letterkunde en gedigte.

Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

Min – daar is gewoonlik min tyd! Ek skryf hulle gewoonlik in vir die Woordfees se skryfskool.

Hoe sal jy ’n leerder(s) hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

’n Persoonlike gesprek voer – en soms uit die klas stuur en dan die saak met die skoolhoof opneem.

Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Sinsontleding (taalwerk).

Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

Herhaal, doen aanmekaar dieselfde soort oefeninge en hersien byvoorbeeld woordsoorte, waarsonder sinsontleding nie moontlik is nie.

Watter onderrighulp sal jy graag op LitNet wil kry?

Voorbeeldvraestelle (veral idees ten opsigte van die skryftake, soos kreatiewe tekste).

Het jy ’n les of lesidee wat goed gewerk het en wat jy bereid is om met LitNet te deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

Vir graad 10, om aan te sluit by die roman (Kringe in ’n bos) wat ons gelees het, het ek probeer om ’n ekovriendelike tema / groen-leefstyl-tema te gebruik. Ek het musiek van die alternatiewe Afrikaanse groep Glaskas as luistertoets gebruik – en toe uitgebrei op die sosiale kommentaar wat hulle daarin lewer. Ek het verskillende soorte tekste aan die leerders uitgedeel waarin groen ’n tema was. Daarna het ek opdragte in kreatiewe skryf met groen as tema uitgedeel. Die leerders kon byvoorbeeld net ’n haiko skryf met “groen” as titel. Enige van die moontlike betekenisse van die woord “groen” kon gebruik word.

Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of films het jy gesien wat ’n blywende impak op jou gemaak het?

Fees van die ongenooides (PG du Plessis) vir die tweede keer!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top