So skop die eerste dag van die heel eerste Kaapstadse Fringe Festival af. Hiermee sluit Kaapstad by ’n reeks wêreldberoemde stede aan, soos Praag, Amsterdam en Edinburgh, om net ’n paar te noem, wat reeds hulle eie internasionale Fringe-feeste hou. Cape Town Fringe is ’n projek van die Nasionale Kunstefees en word dus deur ’n goed-geoliede masjien bestuur.
“Die wêreldwye Fringe-beweging het, oor die jare, die wyse waarop kunstenaars optredes aanbied en gehore dit geniet, verander – en ons is baie bly om hierdie gees en benadering vir die eerste maal na Kaapstad te bring,” het die fees se uitvoerende hoof, Tony Lankaster, vandag gesê. Die fees is nie net gemik op toeganklikheid vir toeriste of inwoners van die stad wat die luukse het om gedurende die werksdag teater te kyk nie, maar het ook spesiale voorsiening gemaak vir dié wat nie so maklik van die kantoor af kan wegglip nie. Daar is byvoorbeeld spesiale middagete-vertonings gereël, waartydens jy ’n maaltyd kan geniet, sowel as opwindende pakkette vir skole.

Die eerste vertoning van die fees wat deur Emma Kotzé en Renata Redelinghuys bygewoon is, was Harold Pinter se Ashes to Ashes, met regie deur Gabriella Pinto en spel deur Terry Norton en Mark Elderkin. Op ’n somersaand onthou Rebecca ’n sadomasochistiese ritueel tussen haar en ’n ou minnaar. Devlin, nuuskierig en terselfdertyd bedreig, ondervra haar in ’n poging om weer aan hulle verhouding lewe te gee. Sy moet haar onderdrukte verlede oproep om met haar beroerde hede te kan omgaan.
Hiertydens groei sy agterdog, en sy behoefte om hulle toekoms saam te beveilig, word deur haar raaiselagtige herinneringe bedreig.
Dié teks is ’n dapper keuse vir die jong regisseur. Soos wat dit Pinter betaam, is die teks moeilik om te volg en die verhaal onderbroke, en somtyds lyk dit onsamehangend. Om die ritme en poësie van Pinter te bemeester, sit nie by almal ewe gemaklik nie, en hierdie weergawe was ongelukkig ook geen uitsondering nie. Alhoewel Elderkin se natuurlike ritme goed inspeel op dié van die teks, kon Norton nie lewe gee aan die nodige kontras van daardie ritme nie en laat dit die stuk effe eentonig en moeilik om van sin te maak. Of die fout hier by regisseur of die spelers lê, sou byna onmoontlik wees om te sê.
Volgende op die agenda is Marcel Lucont. Marcel Lucont spog met die Fringe-wêreldtoekenning vir die beste komedievertoning in 2013. Sy werk dek ’n verskeidenheid onderwerpe van manlikheid tot sterflikheid, en sy humor is reguit, afgerond en baie spesifiek. Maar moontlik té spesifiek vir die meestal Suid-Afrikaanse gehoor. Dit is ook debatteerbaar of sy skaars nederige benadering nie vir hierdie gehoor effe aanstootlik is nie.
Ses dae bly nog oor van hierdie opwindende baanbrekende fees. Besoek gerus www.capetownfringe.co.za vir meer besonderhede, die program en besprekings. Kyk veral uit vir die Afrikaanse produksie op die fees; Na-aap, met regie deur Jaco Bouwer en spel deur De Klerk Oelofse, en Meerfout, met regie deur Gideon Lombard en geselskap en spel deur Cintaine Schutte en Mariechen Vosloo.



