Jeff, who lives at home
Regisseurs: Jay en Mark DuPlas
Rolverdeling: Jason Segel, Susan Sarandon, Ed Helms, Judy Greer

Jason Segel is ’n akteur om dop te hou. Hy is nie aantreklik volgens die tipiese Hollywood-patroon nie, maar daar is iets aan hom wat maak dat ’n mens net instinktief van hom hou. In die romantiese komedie The five-year engagement, teenoor Emily Blunt, het hy reeds beïndruk met sy gemaklike, onopgesmukte spel teenoor sy meer bekende medespeler. In hierdie film speel hy die tipe rol wat hom soos ’n handskoen pas: daar is genoeg snaaksighede dat jy dikwels lag, maar dis altyd met so ’n stekie in die hart weens die patos van dit alles.
Die Jeff van die titel (gespeel deur Segel) is die spreekwoordelike probleemkind. Op dertig bly hy nog in sy ma (Susan Sarandon) se huis, want hy kan net nie rigting kry nie. Die preokkupasie van Jeff se lewe is die soeke na sin en betekenis. Hy neem sy motto uit die film Signs en glo dat alles in die heelal met alles anders verbind is en dat daar geen toevallige gebeure is nie: alles het ’n doel. Sy ma en sy ouer broer, Pat (Ed Helms), glo anders: Jeff moet homself net regruk en iets begin dóén. Die hele fliek speel af in een dag, en dit kulmineer in ’n subtiele, onderbeklemtoonde slot wat ’n mens tevrede by die teater laat uitstap.
Die rolverdeling is nommerpas en daar is puik ensemblespel tussen die vier hoofkarakters. Soos altyd, lewer Susan Sarandon sjarmante, betroubare spel, maar Ed Helms en Judy Greer as sy vrou staan nie ’n tree agteruit vir hul medespelers nie.

