![]() |
|
Bron: howtoparentateen.wordpress.com
|
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Die Wet op Gevaarlike Wapens1 omskryf 'n "gevaarlike wapen" as "enige voorwerp, behalwe 'n vuurwapen, wat in staat is om iemand se dood of ernstige liggaamlike beserings te veroorsaak, indien dit vir ’n onwettige oogmerk aangewend word” (my vertaling). Die blote besit van sodanige gevaarlike wapen – onder omstandighede wat ’n redelike vermoede wek dat die besitter die wapen vir onwettige doeleindes wil gebruik – word verbied. By skuldigbevinding kan sodanige besitter gevonnis word tot ’n boete en gevangenisstraf van tot drie jaar. Die wet is nie van toepassing op die besit van ’n gevaarlike wapen in die uitvoering van ’n wettige betrekking nie; ook nie by die beoefening van godsdienstige of kulturele aktiwiteite, sport, ontspanning of vermaak nie. Dit is ook nie vir ’n versamelaar onwettig om sulke wapens te besit en uit te stal nie.
Die huidige wet se voorganger, Wet 71 van 1978, het “gevaarlike wapen” maar baie op dieselfde wyse omskryf en dit is oor die toepassing van dáárdie wet dat ek iets meer wil vertel aan die hand van twee hofsake uit die vorige eeu.
As 'n mens dink aan 'n "gevaarlike wapen", dan kom dinge soos messe, byle, spiese, kapmesse, knopkieries – noem maar op – in jou gedagtes op. (Vuurwapens, sal jy uit die omskrywing merk, word spesifiek uitgesluit, want daar is 'n aparte wet wat die besit van vuurwapens beheer.)
Maar nou die eerste saak: 'n seuntjie uit 'n sogenaamde agtergeblewe gemeenskap, 11 jaar oud, het op 'n dag in sy ouers se slegte boekies gekom. Eers wou sy ma hom pak slae gee en toe het hy moeilikheid met sy pa gekry en dié wou hom met – van alle dinge – 'n bord slaan. Maar die knapie was 'n bietjie te rats vir sy pa en het onder die tafel ingespring. In die vertrek was daar 'n brandende primusstofie met 'n pot water wat sterk warm was, maar darem nog nie gekook het nie. Die pa het die pot water gegryp en dit op die seuntjie omgekeer sodat sy boudjies erg gebrand het. Hy moes hospitaalbehandeling ontvang.
Ook in daardie dae, maar op 'n heeltemal ander plek, het 'n man en vrou stry gekry en ook hier is 'n pot warm (eintlik kook-) water deur die man gebruik om die vrou mee aan te rand. Hy het gemik om die potjie water in haar gesig te gooi, maar sy het gekeer en toe 'n yslike brandwond aan haar regterarm en haar elmboog opgedoen.
Die twee mans is vervolg en in albei die gevalle het die landdroste die beskuldigdes skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer. Daarby is in albei gevalle bevind dat kookwater voldoen het aan die beskrywing van "gevaarlike wapen" ingevolge die eertydse Wet op Gevaarlike Wapens. Vanweë die vonnisse wat die beskuldigdes opgelê is, is die twee sake na 'n regter van die hooggeregshof vir hersiening verwys.
Die vraag wat ontstaan het, is of kookwater as 'n gevaarlike wapen, soos omskryf in die Wet, beskou kan word. Regter Van Wyk van die hooggeregshof in Kaapstad het die hof se uitspraak oor hierdie interessante vraag gelewer.2 Hy het die geskiedenis van die betrokke wet ondersoek. Eers was daar 'n baie wye omskrywing van "gevaarlike wapen" in 'n wet van 1949. Dié omskrywing het byvoorbeeld die volgende wapens ingesluit: "kettings, metaalstawe, dolke, sakmesse, spiese, assegaaie, sandsakke, boorysters, koevoete, hamers, byle, pikke, polisiestokke, traangas" en dies meer. Die probleem met hierdie soort omvattende omskrywing is dat as ’n bepaalde voorwerp uitgesluit word, dit nie maklik-maklik as 'n “gevaarlike wapen” ingesluit kan word nie. So is daar byvoorbeeld in die saak van Staat teen Majosi3 in 1963 beslis dat aangesien 'n sabel nie in die omskrywingslys genoem is nie, dit nie 'n gevaarlike wapen was nie. Bid jou aan! Die hof was egter teensinnig verplig om te bevind dat dit klaarblyklik nie die wetgewer se bedoeling was om ’n sabel as ’n gevaarlike wapen te laat deurgaan nie. Daarna is die omskrywing van "gevaarlike wapen" gewysig tot 'n meer algemene omskrywing, soos dit ook in die huidige Wet – Wet 15 van 2013 – die geval is.
Maar hoe moes die hof in die vermelde twee sake die kookwaterkwessie hanteer? Kan dit in bepaalde omstandighede 'n gevaarlike wapen wees soos in die wye omskrywing bedoel word? Wat van 'n ander verskyningsvorm van water: 'n stuk ys met 'n skerp punt? Sou dít onder bepaalde omstandighede as 'n gevaarlike wapen kwalifiseer?
Regter Van Wyk was tevrede met die staatsadvokaat se opsomming, wat hy soos volg gestel het :
Kokende water is 'n bepaalde verskyningsvorm van water en indien dit in 'n houer is wat as sulks die aanrander die geleentheid gee om dit teen die persoon van 'n ander aan te wend op 'n wyse wat waarskynlik ernstige liggaamlike leed sal veroorsaak, is dit 'n gevaarlike wapen.
Daar het jy dit. Die twee beskuldigdes wat die potjies kookwater gebruik het om hul slagoffers mee by te kom, moes maar gedwee hul welverdiende gevangenisstraf loop uitdien. Ek reken dit sal ook soortgelyke oortreders se lot onder die huidige wet wees.
1 Eintlik: Dangerous Weapons Act, Wet 15 van 2013 – slegs die Engelse teks is beskikbaar.
2 Vgl Staat v Larry en Staat v Stevens 1970(1) SA 362 (KPA)
3 1963(3) SA 248 (N)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


