In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
'n Sekere mev G was gedeeltelik verlam en 'n manies depressiewe persoon. Haar huwelik met mnr G was naby breekpunt. Op 'n dag was mnr G besig om sy geweer, waarvan die kolf net agter die sneller afgebreek was, in sy vrou se teenwoordigheid te herstel. 'n Rusie het tussen hulle ontstaan, waarna mev G woedend geword het en gesê het dat sy haarself gaan skiet. Mnr G het 'n patroon gaan haal, die geweer gelaai en aan haar oorhandig met die woorde: "Skiet jouself dan as jy wil, want jy is 'n las." Sy het die geweer tussen haar voete op die vloer geplaas, gesê "Ek sal", en met haar voet op die sneller getrap. Sy was feitlik onmiddellik dood.
Mnr G is daarna van moord op sy vrou aangekla. Die hof het egter beslis dat 'n beskuldigde slegs vir sy eie handelinge aanspreeklik is en nie vir dié van iemand anders nie. Dit was nie mnr G se optrede om die gelaaide geweer aan sy vrou te gee wat haar dood veroorsaak het nie, maar die feit dat sy selfstandig en vrywillig die sneller afgetrap het. Hy is dus onskuldig aan moord bevind en ontslaan.
Na aanleiding van hierdie uitspraak het die Minister van Justisie die volgende regsvraag aan die hoogste hof van appèl voorgelê vir beslissing: “Pleeg 'n persoon wat 'n ander aanmoedig, help of in staat stel om homself om die lewe te bring, 'n misdaad? Indien wel, welke misdaad?”
Let daarop dat die appèlhof nie gevra is om te beslis of mnr G 'n misdryf gepleeg het nie; sy verhoor was immers verby en afgehandel. Die hof moes die vrae net in die algemeen beantwoord.
Hoofregter LC Steyn het op 20 Februarie 1969 sy uitspraak gelewer.1
Ten einde die vrae te kon beantwoord moes die hof allereers bepaal of selfdoding2 'n misdryf in ons hedendaagse reg is. Daarvoor moes die posisie in ons gemenereg deeglik ondersoek word.
In die Romeinse reg was selfdoding as sodanig nie strafbaar nie. Dit was egter nie sonder regsgevolge nie, want as iemand tot selfdoding oorgegaan het terwyl hy byvoorbeeld tereggestaan het op aanklag van 'n misdryf waarvoor hy die doodstraf opgelê kon word, is sy goed gekonfiskeer. Vir 'n soldaat het egter 'n spesiale reëling gegeld, want as hy sonder 'n rede probeer het om sy eie lewe te neem en dit het misluk, is hy – ironies genoeg – met die dood gestraf.
In die Romeins-Hollandse reg is selfdoding in 'n veel ernstiger lig beskou en was dit aanvanklik 'n misdryf. Die lyk is onder meer onteer deur dit aan 'n mik te hang en later onder die galg te begrawe. Die vanselfsprekende onmoontlikheid om die selfdoder te straf wanneer sy poging geslaagd was, en die feit dat sy onskuldige naasbestaandes gely het onder die konfiskering van sy goed, het gaandeweg tot 'n toegeefliker houding gelei. Hoofregter Steyn het sonder moeite beslis dat nóg selfdoding, nóg poging tot selfdoding, vandag in ons reg 'n misdryf is.
Die vraag of 'n persoon wat 'n ander help, aanmoedig of in staat stel om sy eie lewe te neem, 'n misdaad pleeg, kon die hof egter nie met 'n eenvoudige "ja" of "nee" beantwoord nie. Dit sal afhang van die omstandighede van elke besondere geval. Die blote feit dat die laaste handeling die selfdoder se eie handeling is, beteken nie sonder meer dat die helper aan géén misdaad skuldig kan wees nie. Na gelang van die omstandighede kan sy misdaad – erg teoreties, as jy my sou vra – moord, poging tot moord of strafbare manslag wees.
Selfdoding kom in haas alle gemeenskappe voor. Dat dit in die gryse verlede as ‘n misdryf beskou is, moet beoordeel word teen die onkunde van daardie tyd: daar is nie besef dat dit meestal die gevolg was van ‘n siektetoestand wat die brein laat wanfunksioneer nie. Daar is immers selfs geglo dat ander soorte (biologiese) siektes deur bose geeste veroorsaak is. (Tot vandag toe kom sulke wanopvattings nog in sekere gemeenskappe voor.)
Daar kan geen twyfel wees nie dat depressie ‘n belangrike oorsakende faktor by selfdoding is. Op sy beurt het depressie hoofsaaklik vier oorsake: geneties (dus: oorerflik), psigologies, biologies en sosiaal. Selfs net een van dié vier kan dié siekte laat ontstaan. En soos ander siektes van die moderne tyd neem ook selfdoding toe, omdat dit (anders as wat in ons gemenereg geglo is) die heengaan is van iemand vanweë ‘n terminale siekte – soos wat dikwels die gevolg is van ‘n fisieke (biologiese) siekte, soos kanker. En ja, soos met ander siektes is depressie behandelbaar, maar dan is vroeë diagnose – soos by alle siektetoestande – van deurslaggewende belang.
Laat ons dus nie nooit veroordelend wees wanneer iemand sy eie lewe neem nie: die meeste van ons het nie naastenby ‘n begrip van die hel waardeur sodanige slagoffer normaalweg voor die tyd gegaan het nie. Nog minder van die hel waardeur die naasbestaandes daarná gaan nie.
1 Ex parte die Minister van Justisie: In re S v Grotjohn 1970(2) SA 355(A).
2 Die hoofregter praat nog deurgaans in sy uitspraak van “selfmoord”. Ek skram – weens redes wat uit my bespreking van die uitspraak sal blyk – deesdae weg van dié term.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

