Invloedryke bruin intellektuele

  • 0

Onwillekeurig het die vraag by my opgekom: Wie is die mees invloedryke (openbare) intellektuele in die bruin gemeenskap? So plaas ek toe dié vraag op Facebook en ’n debat soos min het gevolg.

Verskeie name – veral op gemeenskapsvlak – het na vore gekom, maar soos verwag, het die gewone “ou” name hul opwagting gemaak. 

Dit is name – soos Zelda Jongbloed met die sluiting van Kaap-Rapport in November 2011 geskryf het – wat “Rapport Ekstra meegehelp het om doelgerig die profiel te ontwikkel en te bevorder van leiers soos proff Jakes Gerwel, Jatti Bredekamp, drs Edna van Harte, Allan Boesak, mnr Franklin Sonn, en andere (…)”.

Waar is die (jong) bruin leiers of intellektuele van vandag, het ek na die afloop van die debat gevra. Miskien anders gestel: Hoekom is daar vandag so min – indien enige? – (jong) bruin leiers of intellektuele?

Dié vrae moet teen die agtergrond van die politieke veranderinge van die afgelope 17 jaar beantwoord word.

Voor 1994 was dit die tyd van die “ekstras” (oftewel bruin Afrikaanse koerante). Rapport het ’n ekstra gehad wat later Metro geword het. Metro het Kaap-Rapport geword – wat ’n volwaardige nierassige streekbylae was. Ook Die Burger en Beeld het hul ekstras gehad om, soos Rapport, veral ’n bruin lesersmark vir dié koerante te ontwikkel.

“’n Mens sou tereg van daardie era kon sê jy is net ’n leier as Rapport Ekstra sê jy is een,” aldus Jongbloed. Ek dink veral aan die goeie werk wat wyle Melvin Whitebooi gedoen het deur byvoorbeeld Jonathan Butler tot bekendheid te skryf. En hoe Whitebooi baie jong bruin mense, my inkluis, deur sy skryfwerk en sy toe bekende rubriek “Pop met Melly” geïnspireer het om joernaliste te word.

Dié ekstras het dus as ’n platform gedien om bruin leiers, intellektuele, akteurs, sangers en sportsterre tot openbare figure te verhef.

Na 1994 het die ekstras begin verdwyn en van die redes was polities van aard, omdat die skeidslyne van die verlede moes verdwyn het. Kommersiële redes is ook aangevoer.

Die ware redes vir die afskaffing is egter nie meer belangrik nie. Wat wel kommerwekkend is, is dat ’n platform (koerant) vir veral die intellektuele ontwikkeling van bruines nie meer bestaan nie. Veral omdat die bestaande hoofstroom wit Afrikaanse koerante hoofsaaklik op die Afrikaner fokus. Henry Jeffreys het onlangs op RSG gesê dit is moeilik vir koerante soos Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad om ook sy bruin lesers regverdig te dien.

Ook op politieke vlak het die afwesigheid van Boesak, Trevor Manuel en andere in bruin gebiede (en/of oor bruin issues) bruines se stemme laat verlore raak tussen die debat tussen swart en wit.

’n Volwaardige Afrikaanse koerant behoort oorweeg te word om ook aan bruines ’n platform te verskaf. Dit sal help dat bruines deel word van die openbare diskoers. So sal nuwe bruin intellektuele, rolmodelle en ander openbare figure ontwikkel word. ’n Koerant wat ’n spieëlbeeld sal vorm vir bruines – wat nie net op die slegte sal fokus nie, maar ook op die goeie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top