In gesprek met ... Rob Balthussen

  • 0
Carina van der Walt gesels met akademici uit verskillende dissiplines uit die Lae Lande, wat hulle onvermoeibaar besig hou met Afrikaans of met Suid-Afrika. Wie is die man of die vrou agter die boek, die projek, die navorsing of op die leerstoel? Waaroor gaan die boek, die projek, die navorsing? Hoe geïnspireerd sit ’n wetenskaplike op ’n leerstoel vir bande met Suid-Afrika?

Dr Rob Baltussen van die Radboud Universitêre Mediese Sentrum (RUMC) in Nijmegen werk al jare saam met die Africa Centre for Health and Population Studies (AC) en die Centre for the Aids Programme of Research in South Africa (CAPRISA) in Durban. Dit het gevolg na sy tyd by die Wêreldgesondheidsorganisasie gemoeid met die bestryding van MIV/Vigs. Suid-Afrika het nog steeds die grootste epidemie wêreldwyd, met 5,7 miljoen MIV-positief-pasiënte, al het die behandeling van Vigs die afgelope jare met rasse skrede vooruitgegaan. Juis dié vooruitgang in behandeling en die leemtes wat tans nog daarin bestaan, gee navorsers die kans om die kompleksiteit van Vigsbehandeling in Suid-Afrika as ’n voorbeeld vir die wêreld te gebruik, aldus Baltussen. Die navorsingskema VICI het onlangs ’n beurs van 1,5 miljoen euro aan hom toegeken. “Veni, vidi, VICI” is ’n stelling van Julius Ceasar in Latyn en beteken: “Ek het gekom; ek het gesien; ek het oorwin.” Baltussen het sy beursvoorstel in samewerking met dr Till Bärnighausen (AC) en dr Jerome Singh (CAPRISA) met die oog op toestande in Suid-Afrika geskryf. Die beurs word aan senior navorsers toegeken en is vir vyf jaar geldig. Hy sal dit dus gebruik om die huidige MIV/Vigs-behandelingsprogram in Suid-Afrika verder te verfyn.

Die essensie van Vigsbestryding is dat dit ’n komplekse saak is waarin medici, epidemioloë, etici en ekonome almal ’n rol speel. Tussen al hierdie rolspelers wil Baltussen in die volgende vyf jaar probeer om ’n balans te vind met sy programmatiese begeleiding. As navorser besef hy deeglik dat pasiënt en hulle behoeftes eintlik sentraal behoort te staan. Daarom dink hy “onwetenskaplik”, veral in terme van praktiese oplossings. By medici gaan dit oor die effektiwiteit van die behandeling, by epidemioloë oor die rol wat die behandeling op ander het, by etici oor die regverdigheid van die behandeling, en by ekonome oor die bekostigbaarheid daarvan.

Baltussen se basiese opleiding is BCom (Ekonomie), maar sy belangstelling is medies van aard. Hoe ekonome die uitgawes en opbrengste van Vigsbestryding en die verhouding daartussen bereken, steek hom dikwels dwars in die krop. As geld die oorhand kry, verdwyn die faktor “mens” uit die prentjie. Ekonome is geneig om onberekenbare dinge te ver vooruit te probeer bereken, terwyl etici met hulle idees oor die onregverdige gate in die sisteem bietjie die agterosse in die Vigskraal is. Baltussen is onlangs op ’n internasionale kongres vir etici in Noorweë weer verras deur die volgende uitspraak: “Ons is nie hier om die praktiese probleme van Vigsbestryding op te los nie, dr Baltussen, maar om denke daaroor te stimuleer.”

Die balanseertoertjie waarvoor Baltussen hom inlaat tussen bogenoemde belangegroepe in Vigsbestryding, is ingewikkeld. Die pasiënt bly egter vir hom die grootste belanghebbende. Hy sal by die Wêreldgesondheidsorganisasie se Programmatic guidelines on HIV treatment(Julie 2013) aansluit. Net soos in hierdie organisasie se riglyne sal Baltussen se begeleiding van die Vigsprogram in Suid-Afrika berus op die inagname van die volgende drie kriteria tegelykertyd: doeltreffendheid, regverdigheid en haalbaarheid. 

In 2011 het 1,8 miljoen mense in Suid-Afrika doeltreffend Vigsbehandeling ontvang. Daar kan egter met dieselfde begroting meer menselewens gered word. Een van die faktore wat hierin ’n rol speel, is of behandeling in ’n vroeë of laat stadium van die siekte begin word. Hoe vroeër hoe beter, en hoe doeltreffender, natuurlik, sal die ekonome en medici sê. Maar dit sal ten koste kan gaan van die finansiering van Vigsremmers vir mense met ver-gevorderde Vigs. As dit beteken dat pasiënte met ver-gevorderde Vigs hulle behandeling ontsê word, sal die etici se hare penorent op hulle koppe gaan staan vanweë die onregverdigheidsaspek daarvan.

Dr Rob Baltussen in die gange van die Radboud Universitêre Mediese Sentrum in Nijmegen (Foto: Frank Muller).

Baltussen vergelyk dit met die volgende situasie: “Dikwels word chemoterapie aan hoogs bejaarde kankerpasiënte gegee. Die doel is om hulle lewens met nog enkele maande te verleng en om die kwaliteit van hulle lewe te verbeter. Behoort dit nie ook eintlik die geval te wees by Vigspasiënte nie?”

Baltussen sluit met hierdie opmerking aan by etici se motto dat álle mense ’n regverdige kans behoort te hê om ’n gesondelewe te lei. Dit word ’n etiese kwessie as daar ’n prioriteitsaspek aan Vigsbehandeling gekoppel word. Tog gebeur dit in Suid-Afrika dat swanger vroue ver voor in die ry staan vir behandeling in vergelyking met kinders en mans.

Die haalbaarheid van Vigsbehandeling speel ’n rol by rondreisende klinieke in die afgeleë plattelandse gebiede. Hierdie klinieke presteer nie goed as dit oor doeltreffendheid gaan nie, omdat dit nogal duur is. Aan die ander kant presteer dieselfde klinieke weer goed as dit oor die regverdigheid van behandeling gaan. Behandeling by klinieke word ad hoc toegepas óf op basis van “first come, first served” óf op die basis dat die pasiënte wat die ernstigste siek is, voorkeurbehandeling kry. Daar is nog geen duidelike riglyne nie. Dit herinner mens aan Darrell Roodt se Suid-Afrikaanse film oor hierdie tema. Yesterday speel in die heuwels van KwaZulu-Natal af. Dae aanmekaar moet Yesterdayby die kliniek se deure omdraai, omdat sy elke keer te laat is. In die werklikheid het die AC in KwaZulu-Natal ’n uitgebreide en unieke databasis met die biochemiese, epidemiologiese en sosio-ekenomiese aspekte van 22 000 MIV-positiewe pasiënte. Dit sal deur Baltussen gebruik word om die huidige behandelingsprogram te verfyn.

In ’n kort meningsopname oor Vigstoestande in Suid-Afrika laat Baltussen hom soos volg oor die volgende uit:

  • Politiek – Mbeki versus Zuma met betrekking tot Vigsbestryding

“Daar is ’n enorme sprong vooruit in die behandeling van Vigs. Anders as in ander Afrikalande is Suid-Afrika finansieel selfvoorsienend vir hulle Vigsprogram. Dit is ’n baie goeie ding. In lande soos Malawi word tot 80% deur buitelandse skenkings betaal en net 20% deur die staat. Dit beteken dat sodra skenkers onttrek, hulle hele Vigsprogram in duie stort.”

  • Voeding – Dr Beetroot met haar beet en knoffel 

“Op ’n internasionale konferensie oor Vigsbestryding is die destydse minister van gesondheid, Manto Tshabalala Msimang, nogal daaroor gespot. In Mosambiek het ek wel ontdek dat ’n gebalanseerde dieet ’n belangrike voorwaarde is vir die effektiwiteit van Vigsbehandeling. Daarom het ons destyds ’n voedingsprogram begin wat saam met die behandeling gevolg moes word. Maar ek dink Msimang se standpunt destyds was ook ’n reaksie teen Westerse bemoeienis, net soos Uganda se antihomowetgewing op die oomblik. Dis ’n houding van: ons het ons eie norme en waardes en as julle verder daarmee gaan inmeng, gaan ons nog sterkter standpunt inneem. Dit gee ’n sekere nasionale trots, maar dit het ontsettend nare gevolge.” (Navorsing aan Harvard in 2008 het getoon dat meer as 300 000 mense aan Vigs dood is tydens Mbeki se presidentskap.)

  • Bewuswordingsprogamme – Mandela se 46664-konsert en Nkosi Johnson
     
    “Dis baie belangrik. ’n Verandering van denke is belangrik ten grondslag van verandering van  gedrag. En dis baie moeilik. Hoe kry jy mense se gedrag beïnvloed? Hoe dink mense oor voeding, armoede en gesondheid? Dit gebeur nie sommer met ’n paar klein inspuitinkies nie. Om ’n hele geslag se denkpatrone te verander, is sulke massabyeenkomste goud werd.”
  • Taboe

“Vigs is nog steeds ’n taboe dwarsoor Afrika: Burkina Faso, Ghana, Uganda, Malawi, Mosambiek en Suid-Afrika, maar selfs ook nog in Nederland. Ek kan dit baie goed verstaan. Die stigma wat daaraan kleef hou verband met twee dinge: die mens se seksuele gedrag en die uitgangspunt dat die besmette persoon skuldig is aan onverantwoordelike gedrag. Dit is sy of haar eie skuld. In Nederland het ons rondom Wêreld-Vigsdag op 1 Desember advertensieborde langs die pad wat vra: ‘Zal je ook van me houden als ik HIV positief ben?’ Dit laat mense nadink.”

  • Houding van Vigspasiënte – by verligting van simptome stop hulle met medikasie

“Mense wat geen reg het om iets te sê nie, sê dikwels: ja, die dom Afrikane! Dit is so dat as jy stop met medisyne, jy die virus kans gee om homself te bewapen en dat die medikasie dan nie meer werk nie. Maar mense moenie veralgemeen nie. Daar bestaan nie iets soos dom mense nie. Dan is daar ander faktore wat ’n rol speel wat miskien nog nie in kaart gebring is nie, soos etiese en morele besware.”

Die doeltreffendheid, regverdigheid en haalbaarheid van Vigsbehandeling in Suid-Afrika, en dus orals ter wêreld, moet uiteindelik vir Baltussen binne twee raamwerke pas: Verantwoordelikheid vir Redelikheid (A4R) en Multikriteria-besluitnemingsanalise (MCDA).

Sentraal in A4R staan die aanvaarding dat pasiënte oor hulle behandeling kan verskil. Wat dan wél belangrik is, is dat hulle presies moet weet hoe belangrik behandeling is; wat die redes vir behandeling is; dat hulle die behandelingsmetodes mag uitdaag deur beswaar te maak of dat hulle daaroor mag argumenteer, sodat beide die pasiënt en alle belangegroepe uiteindelik tevrede is dat die behandeling regverdig is en dat dit kan voortgaan.

In MCDA moet die drie kriteria doeltreffendheid, regverdigheid en haalbaarheid saam ’n ewe groot rol speel. Op die oomblik word meestal net één kriterium op ’n slag in Suid-Afrika gebruik vir besluite oor die toepassing van Vigsbehandeling. Dit het ’n groot ongelykheid tot gevolg ten opsigte van wie behandeling ontvang. 

Die vraag kan gevra word: Hoe ver is Suid-Afrika as voorloper in die wêreld in die oorbrugging van Vigsbehandeling na -voorkoming?
 
“Die grootste wetenskaplike deurbraak van die afgelope twee jaar is Vigsremmers. Met Vigsremmers kom behandeling en voorkoming saam. As ek ’n Vigspasiënt is en ek neem Vigsremmers, kan ek nie meer iemand aansteek nie. Dus kan Vigsremmers voorkomend gegee word om die MIV-virus uit te skakel. Die AC het ook al daarmee geëksperimenteer en 80 tot 90 persent positiewe resultate behaal. Dit klink wél ’n bietjie soos ’n medikalisering van die probleem, maar ek besef dat daar nog allerhande praktiese probleme in die pad kan staan. As alle faktore egter kan saamwerk, hoop ek dat Vigs oor twintig jaar prakties gesproke uit Suid-Afrika sal verdwyn het.”

Dr Baltussen vertrek binnekort na Indonesië, waar hy later sy navorsingsresultate wat hy in Suid-Afrika gaan verwerf, as kontrole wil toepas. Met sy optimisme en sy praktiese houding rondom die behandeling van hierdie aaklige siekte kan mens hom net die allerbeste toewens.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top