
Champ
Teks: Louis Viljoen
Regisseur: Greg Karvellas
Spelers: Darron Araujo, Mark Elderkin, Nicholas Pauling, Adam Neill en Kerstin Francis
Champ is ‘n stoute komedie oor drie jong mans wat een ding gemeen het: hulle is almal sukkelende akteurs wat desperaat is vir werk, elkeen natuurlik met sy eie verantwoordelikhede wat hy moet nakom. Hulle kry egter werk om as “Die drie beertjies” in ’n kankerliefdadigheid se kinderopvoering in ’n winkelsentrum op te tree. Al drie hierdie karakters het besonder uiteenlopende persoonlikhede en dinge word interessant wanneer Elliot in die aantrekkamer inbars nadat ‘n stoute sesjarige Rodney hom uitlaat teen Elliot se harige beerbeen. Rodney word later die antagonis wat menige probleme skep vir al drie bere. Instink neem oor en chaos ontstaan. Die vier mans (insluitende Waldo, hul bestuurder) is vasberade om die jong seuntjie wraaksugtig ’n les te leer en later is die lyne tussen volwassene en kind nie meer duidelik nie.
Die toneelspel is vars en skerp en die teks vloei maklik. Darron Araujo, Nicholas Pauling en Mark Elderkin vorm ’n fantastiese driemanskap wat die gehoor laat skaterlag. Waldo, die eksentriese bestuurder (Adam Neill), is ook ’n genot om na te kyk. Kerstin Francis se optrede het so effens afgesteek teenoor dié van die bere en Waldo, veral aangesien die teks tussen die bere en Waldo so vinnig vloei teenoor haar monoloog, wat na ’n ruk effens eentonig raak.
Die taalgebruik is baie kru. Báie. Dit kan seker nog geregverdig word, aangesien die karakters hulle werklik in ’n krisis bevind. Dié teks loop ook nie ligvoets in verband met die gebruik van lastertaal nie; inteendeel. Louis Viljoen (skrywer) gebruik graag die middelklas man as inspirasie vir sy werk. Sy karakters is dikwels bowenal uiters gefrustreerd met hul posisie in die samelewing. Alhoewel die teks getuig van puik skryfwerk en ’n besonder vaardige hand met betrekking tot die ritme van taal, moet ons noem dat daar nie veel teks sou oor wees as die kru taal verwyder moes word nie. ’n Mens moet egter vra hoeveel produksies nog deur kunstenaars oor die “struggling artist” geskep word. Dit is dus Viljoen se vernuftigheid met die taal, al is dit kras, wat die teks se sukses bepaal, eerder as die inhoud. As jy nie ’n sensitiewe kyker is nie, sorg Champ vir heerlike vermaak met puik spel en regiewerk.
Champ is tans te sien in die arenateater by die Kunstekaap tot 20 Oktober. Besoek Computicket se webwerf vir nog inligting oor tye en pryse en om te bespreek.

