Huldeblyk: André Philippus Brink 1935–2015

  • 1

“As ’n mens sterf, dan brand ’n biblioteek af.” Hierdie Afrika-spreekwoord, wat toevallig voor in sy roman Duiwelskloof voorkom, is op ’n ontstellende wyse waargemaak deur die afsterwe van André Brink. Die befaamde skrywer Abraham de Vries verwys in die publikasie Encounters with André Brink juis na sy “unbridled intelligence and his astonishing erudition” terwyl ’n eertydse student, Malcolm Hacksley, in dieselfde publikasie die literêre insigte wat Brink met sy voorgraadse studente aan Rhodes-universiteit gedeel het, as “mind blowing” beskryf. Elleke Boehmer, literêre teoretikus, romanskrywer en professor aan die Oxford–universiteit, onthou Brink se voorlesings oor die "Modern Novel in Translation" by Rhodes-universiteit wat onder andere tekste van skrywers soos Grass, Kundera, Calvino, Robbe-Grillet, Levi, Böll en Mulisch ingesluit het en hoe sy skielik besef het: "This is what international literary awareness involved."

Brink was ’n veelsydige woordkunstenaar met dosyne romans wat in ten minste 33 tale vertaal is, dramas, reisverhale en veelvuldige publikasies ten opsigte van literêre kritiek op sy kerfstok. Daarbenewens het hy as poliglot die Afrikaanse kultuurwêreld verryk met skitterende vertalings uit die wêreldliteratuur. Hier was ’n Suid-Afrikaanse, en inderdaad Afrikaanse skrywer wat internasionaal erkenning geniet het en wat met skrywers soos Peter Carey, García Márquez, Soltzhenitsyn, Camus en selfs met Dostoyevsky vergelyk is.

In die bovermelde publikasie beskryf sy jarelange vriend prof Christie Roode Brink soos volg: "… the phenomenon André Philippus Brink – something which appears on the horizon from time to time, illuminating the whole world around him. Almost like a Mozart, a Wagner, a Copernicus, a Newton or an Einstein, who causes other people to look at the world in a different way, challenging conventions and norms and simply refusing to go with the flow."

André Brink het inderdaad bovermelde begaafdheid, konsekwent, sonder aansiens des persoons, in positiewe kritiek aangewend in ’n poging om ’n beter samelewing te skep. Prof Jakes Gerwel, ’n eertydse intellektuele leier en senior akademikus, verwys in Encounters with André Brink na sy  “watchful and critical consciousness, irrespective of who holds power.” Hy sluit sy huldeblyk af deur te sê: “André has graced South African public life. Long may it last.” Helaas, hierdie goeie wens is hom nie gegun nie. In die Suid-Afrikaanse poging om ’n nuwe demokrasie en ’n nuwe nasie te bou, kan ons juis nou sy skerp en indringende sosiale kritiek kwalik ontbeer. Brink se afwesigheid in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse literêre, kulturele en politieke bestel skep ’n verskriklike leemte.

Bogenoemde politieke en sosiale kritiek het selde doekies omgedraai, maar Brink was ’n verfynde heer in murg en been. In Encounters skryf die befaamde Argentyns-Kanadese skrywer Alberto Manguel juis oor Brink se hoflikheid te midde van sy roeping om, waar nodig, meedoënlose kritiek te lewer: "Brink in the flesh was the same humane, stylish, intelligent person as on the page. He was a writer who understood the essentials, and had the grace to pronounce his belief through the words of a fellow writer, Milan Kundera: ‘the struggle of man against power is the struggle of memory against forgetting.’ The words belong no doubt to the Czech novelist, but the sentiment is pure Brink."

In die apartheidsjare was André Brink die gewete van die nasie en dit is moeilik om die omvang van sy bydrae tot die normalisering van die Suid-Afrikaanse politieke bestel te bepaal. Die spreker in die laaste paragraaf van die roman ’n Droë wit seisoen (1979) vat die betrokke aard van Brink se oeuvre bondig saam: "Miskien is dit die meeste waarop ’n mens mag hoop, die meeste wat ek my mag aanmatig, presies net dit: om op te teken. Net om verslag te lewer. Sodat dit onmoontlik sal wees dat enigiemand ooit hierna durf sê: 'Ek het nie geweet nie.'" In die post-apartheid bedeling het Brink nie sy rol as rigtinggewer versaak nie en in ’n lesing in Potchefstroom het hy in die jaar 2000 aangedui dat die klein stemmetjie van die gewete steeds moet protesteer teen rassisme, korrupsie, onreg en die gebrek aan vryheid waar ook al in die wêreld dit mag voorkom. Brink, die humanis, het hom konsekwent by die lydende mens geskaar en in hierdie opsig sluit hy aan by postkoloniale skrywers soos Mudimbe, Soyinka, Achebe, Farah, Gordimer en Lab'ou Tansi. In Encounters beklemtoon Antjie Krog juis hierdie medelye van Brink: “Apart from bringing heightened energy, wit and fathoms of knowledge, bedded in an unwavering memory, he has above all else, compassion.”

André Brink se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde was monumentaal. In die vyftigerjare betree hy die Afrikaanse letterkunde met die publikasie van ’n aantal tradisionele tekste. Toe, met die ontstaan van die Sestiger-beweging, kom daar meteens ’n ontploffing in die Afrikaanse letterkunde en oornag begin die Afrikaanse letterkunde saampraat met Moderniste soos Joyce, Woolf, Mann en Musil. Brink word ’n leiersfiguur in hierdie groep en gee die toon aan met romans soos Lobola vir die lewe (1962), Orgie (1965), Miskien nooit (1967) en ’n sleutelteks, Die ambassadeur (1963). In hierdie fase van sy oeuvre is die struktuur van sy tekste modernisties van aard en die strekking eksistensialisties. Kennis van die aand (1973), die eerste Afrikaanse roman om verban te word, is die beginpunt van ’n lang reeks polities-betrokke tekste wat meedoënloos die onreg van apartheid aan die kaak stel. Die aard van die protes in Brink se betrokke romans word op ’n markante wyse verwoord deur Ma-Roos, een van die vele vertellers in Houd-den-bek (1982): "Hier uit die dood se skaduwee uit kyk ons vandag almal terug. Altemit hoor iemand ons roep, al ons baie mense in die stilte, almal sal, almal vir altyd alleen. So praat ons, so praat ons almal saam en almal apart, almal anders en almal dieselfde en die skakels mag lieg, maar die ketting is waar"(344). Wat Brink in ’n onderhoud, gepubliseer in World View (1982), oor die figure in Houd-den-bek sê, geld inderdaad ook vir die ander figure in sy betrokke tekste: "All the characters are slaves of the situation, blacks and whites alike – slaves of history, slaves of the land, slaves of their condition." Die roman Die muur van die pes (1984) registreer die begin van die postmodernistiese fase in die oeuvre. In hierdie fase bly die strekking van die tekste polities-betrokke, maar die modernistiese vorm maak plek vir ’n postmoderne tekstuele ontginning. Nuwe kodes soos, onder andere, die feminisme in tekste soos Sandkastele (1996) en Anderkant die stilte (2002); die ekologie in Inteendeel (1993) en die problematiek ten opsigte van geskiedskrywing in ’n teks soos Die eerste lewe van Adamastor (1988), kom aan bod. Duiwelskloof (1998), die begin van die post-apartheidsfase in die oeuvre, maak gebruik van uchroniese fiksie en word ’n karakturale afrekening met apartheid. Brink se sosio-politieke kommentaar is egter nie eensydig nie. In Donkermaan (2000) word onder andere verwys na "die oggendkoerant se spyskaart van moord, doodslag, korrupsie en skandale …" (77). In 2005 verskyn Bidsprinkaan, ’n hoogtepunt in die oeuvre, en André Brink se heel laaste gepubliseerde teks, ’n slaweroman Philida (2012), ontroerend opgedra aan sy vrou Karina. Daar was en daar is nog steeds groot en selfs grootse romanskrywers in Afrikaans, maar André Brink was oor ’n tydperk van sewe-en-sestig jaar ’n konstante vernuwer en rigtinggewer in die Afrikaanse literêre bestel. Sonder sy monumentale bydrae sou die Afrikaanse literêre landskap veel anders gelyk het en oneindig armer gewees het.

As voorgraadse student het André vir my wêrelde waarvan ek nie eens kon droom nie, ontsluit; as honneursstudent het hy die kompleksiteite van die literatuurteorie en die narratologie vir my toeganklik gemaak; as PhD-student het hy my bygestaan en toegelaat om vernuwend te lees; as departementshoof het hy met ’n akademiese opdrag vertrou en as vriend het hy my met die grootste gulhartigheid behandel. Ek bring hulde aan sy nagedagtenis. Ek wil graag vir Karina, Anton, Sonja, Danie en Gustav en almal wat vir André liefgehad het, herinner aan Ma-Roos se woorde aan die begin van Houd-den-bek: "In die dood se skaduwee moet jy suutjies loop, want die dood is ’n sterflike ding." André leef inderdaad voort in sy monumentale literêre, politieke en menslike nalatenskap. Die bekende Russiese literêre figuur Konstantin Paustovsky se woorde is hier relevant: "They see the truth and they write the truth. Their books will survive, they live and they will go on living and there is no need to worry about the fate of their books." André kan dus saam met die spreker in die vers van NP van Wyk Louw sê:

my jeug se oopgelate kring voltooi:
Mooi is die lewe en die dood is mooi.

 

* Godfrey Meintjes het afgetree as hoof van Afrikaans en Neerlandistiek, aan die universiteit Rhodes,  maar is steeds verbonde as dosent in die Skool vir Tale. Hy maak reeds in 1966 in sy eerste jaar op universiteit kennis met André Brink en voltooi uiteindelik die graad PhD onder Brink se studieleiding. Hy en Brink was jare lank kollegas terwyl Brink professor en hoof van Afrikaans en Neerlandistiek by Rhodes was.

  • 1

Kommentaar

  • Dis nie 'n land wat besonderse mense oplewer nie; anders kan jy dit ook (deterministies) van skurke, demagoë en ander onwenslikes ook sê. Dis eerder die effektiewe individue wat 'n land "maak" of "mismaak". Brink was en is 'n geweldige bate vir Afrikaans, sy literatuur, kritiek, en vir die land. Geslagte studente is verruim en veredel deur sy tekste, belesenheid en geesdrif, veral vir sy vryheidsin en eksperimentele durf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top