Howe is nie Hollywood nie

  • 0

Suid-Afrikaners het oornag almal kwasi-regslui geword na die Oscar Pistorius- en Shren Dewanie-verhore. Elke Jan Rap en sy maat en het ’n regsmening. Baie mense sê die regstelsel se wiele val af. Op sosiale media en om die braaivleisvure word met groot gesag verklaar die Suid-Afrikaanse regstelsel en vervolgingsgesag beteken niks nie. Maar is dit so eenvoudig? Jean Oosthuizen het gaan kers opsteek by iemand van die balie. Koos Louw is 'n advokaat met baie jare se ervaring in die strafhowe.

Koos Louw
Jean Oosthuizen

Die regstelsel in Suid-Afrika stink, het baie Suid-Afrikaners verontwaardig uitgeroep toe die Britse sakeman Shrien Dewani as ’n vry man uit die hof stap. Nee, sê die ander groep: Die uitspraak is ’n goeie weerspieëling van ons land se regstelsel. Dit wys daarop dat "boendoehof"-beginsels nie hier geld nie. Watter een van hierdie twee waarnemings is in die kol?

Die reg is nie ’n skreiende alarm nie, nog minder ’n heilige koei. Daar is nie net twee moontlike antwoorde op die vraag nie, maar laat ons by die begin wegskop: Die gemiddelde sosiale kommentator en leser hiervan kom waarskynlik selde of ooit in die hof. Intussen is misdaad en hofsake ’n baie bemarkbare kommoditeit in die vermaaklikheidswêreld. Ek moet dikwels by die huis kom na ’n uitmergelende saak en die familie voor die televisie aantref waar hulle vasgenael sit voor die een of ander fiktiewe misdaad- of regsdrama. As hulle tog sou weet wat ek elke dag moet beleef!

Waar mis gewone mense wat nie regsgeleerdes is nie dan die punt?

Howe is nie Hollywood nie. Ons regstelsel werk nie volgens daardie resep nie, al is dit die verwysingsraamwerk van die deursnit van onse mense.

"Wit" Afrikaners (die meerderheid kerkmense) word grootgemaak met die fiksie dat as jy alles in jou lewe volgens voorskrif doen, alles orraait sal wees – en dan gebeur dit nie.

Geen wonder ons is so ’n bitterbekspul nie.

Ja, maar mens verwag tog dat reg en geregtigheid in die howe sal geskied. Watter waarborg het ons dat regverdigheid wel geskied?

Daar is ongelukkig geen geboortereg of sosiale kontrak wat regverdigheid waarborg nie. Die beste en mooiste onder ons gaan te vroeg dood, die runderpes verwoes Oupa se plaas, maar die regstelsel, die regstelsel skuld my iets beters as die alledaagse gemors. Dit skuld my die Hollywood-einde waar reg en geregtigheid, liefde en moraliteit seëvier.

Wat dink jy van die regstreekse uitsending van Oscar se saak? Was dit ’n goeie of slegte ding?

Ons eerste ware sogenaamde "onafhanklike" oudiovisuele nuusbron was e.tv en hulle was en is steeds die voorlopers in die oorlog om hofsake uit te saai. Uit-die-oude-doos FW of PW of HF of Hertzog (hy wat die HNP gestig het omdat die Natte die bose televisiebesigheid wou toelaat) en later die agterdogtige klandestiene ANC se SABC, wou mos en wil mos maar alle mag sentraliseer – die media en die howe inkluis.

Met die uitsending van Oscar se saak was die skrif aan die muur: Martin Luther en e.tv het die kat uit die sak gelaat. Dit is nie net meer die gewone ou spulletjie wat die regstelsel se funksionering dophou nie: Nou hang dit aan die klok!

Ja, maar dink jy nie dit het nou meer van ’n show business begin word nie? Het Gerrie en Barry nie ook maar bietjie vir die gehoor gespeel nie?

Gerrie en Barry was nie fotogeniese reuse nie. Natuurlik was hulle kamerasku of dalk het hulle gedroom van Oscars. Ek is steeds onseker van myself en alles om my as ek hof toe stap. Hoe groter die dilemma (soms dink jy daar is geen uitkoms nie), hoe meer ondraaglik word my gedrag teenoor my geliefdes. Die meeste advokate is geskei of in die proses. Soms val my woorde ook soos loodvoete in laagtes. Mens staan immers in ’n heilige plek; jou ego eggo aldaar net in jou eie gemoed. En dan gebeur die ding … Die kleed van verantwoordelikheid wat op jou skouers val en jy operate asof jy al die guts in die wêreld het. Hulle sê: Hoekom is jy so cool? Min weet hulle van die briekstrepe in my gemoed se onderbroek.

So wat sê jy nou eintlik, is dit ’n goeie ding dat sulke verhore regstreeks uitgesaai word?

Weg is die dae van skelm afkoopboetes of onbekwame regters wat agter pikkewynklere verhewe sit en smuk en genade gee of oordeel uitspreek in donker hole volgens hul eie magsorgasmes.

Die regsgeleerdes kan die pad stap wat destyds gelei (gely?) het tot die slagting van die hervormers, of die uitdaging aanvaar. In my boek is daar nie ’n keuse nie. Nege en negentig persent van strafverhore is openbare gebeurtenisse met net ’n paar dronkgatte in die peanut gallery of ander javels wat wag om geslag te word. Die reg moet geskied, maar meer nog: Ons moet sien (toesien/toekyk) hoe dit gebeur. Ons moet veral betrokke raak.

Dit laat my dink aan Koos wat in ’n plattelandse kroeg sit en probeer vertel hoe bevange die opera is. Huur ’n bus, vat almal soontoe en kom kyk! Jy sal jou ore nie glo nie. Ek waarborg ’n ieder en elk wat hier lees dat die werklikheid pleit dat jy daar moet wees, al weet jy niks van die reg of opera of al dra jy nie ’n pak nie. Sing in die kerkkoor (as jy vals is, doen dit saggies) of doen ’n bollemakiesie in die sirkus sonder tent genaamd Vandag.

Albei regters het onder kwaai kritiek deurgeloop oor hulle uitsprake. Tot watter mate is regters werklik objektief wanneer dit by regspleging kom?

Ek onthou toe ek in my prille jeug Regsleer en -filosofie geswot het, het ons van die Amerikaanse Realisme-skool geleer. Een aspek daarvan wat my bygebly het, is die gedagtegang dat die reg beïnvloed word deur die subjektiewe alledaagse ervarings van regters – het hy/sy lekker geslaap die vorige nag? Het sy vrou hom de duiwel in gemaak die vorige aand?

Dit is dan ook verstaanbaar dat daar soveel openbare druk op die regstelsel is om regters aan te stel met wie die meerderheid van die bevolking hulle kan vereenselwig, om sodoende meer vertroue in te boesem. Ou wit Afrikaner-mans soos ek dink nie soos die meeste mense nie en het ander spoke wat ons jaag as die jonges!

Dit gaan nog altyd oor die gehoor (publieke reg). Die regter se plig is om die mense se drif vir reg en geregtigheid te bevredig en te temper, die hofdienaars moet ooreenkomstig optree. Was jy in die hof? Nee!

Maar die reg is tog ’n wetenskap en mens sou verwag dat dit absoluut onpartydig toegepas word?

Die reg is ’n wetenskap, maar dit is ’n geesteswetenskap en geen reëls is in klip gegiet nie. Dit word deur mense van vlees en bloed bedryf wat elkeen sy persoonlike stempel daarop afdruk, dikwels instinktief – soms goed, ander kere miskien nie so wonderlik nie. Party ouens slaan net eenvoudig ’n krieketbal harder of swem vinniger as ander. Hoe minder die vermoëns, hoe groter die persoonlike (subjektiewe, negatiewe) invloed. Die teenoorgestelde is ook waar: Hoe sterker die persoonlikheid, hoe groter die kanse dat die subjektiewe vertolking positiewe resultate sal hê.

Hoe vaar ons regters in die algemeen?

Elke saak is uniek omdat die rolspelers telkens uniek is en om die reg behoorlik toe te pas met al die veranderlikes, bly maar ’n kuns. In ’n goed gegronde regstelsel word die risiko’s darem baie geminimaliseer. Dit is ook interessant dat ons regstelsel erkenning gee aan die regter se subjektiewe ervaringsveld: Dit word uitgekristalliseer in die sogenaamde "regsgevoel van die gemeenskap" wat in baie aspekte van die straf- en deliktereg ’n rol speel. Dit is nie werklik die gemeenskap wat met plakkate rondwals se "regsgevoel" wat ter sprake is nie (daarom help petisies dat regters moet onttrek byvoorbeeld glad nie), dit is die reg-spreker se eie belewenis as lid van daardie gemeenskap van wat gangbaar is en wat nie.

Dit verg ’n fyn aanvoeling en toegewydheid om vreesloos na ’n gesonde regsgevoel te streef en dit uit te leef, sonder om oor jou eie ego en swakhede te struikel. Dit is ook nie altyd die slimste regters wat die regverdigste uitsprake lewer nie … Die harde werkers doen gewoonlik heel goed.

Oscar het volgens Gerrie skokkend lig daarvan afgekom en Dewani het skotvry daarvan afgekom. Dink jy nie sulke uitsprake stuur ’n boodskap uit dat mens spreekwoordelik maklik wegkom met moord nie? 

Dit is nie ’n cowboy movie nie. Vanoggend bel ’n vrou my en kla oor iemand wat haar hond geskop het. Ek is dadelik kwaad en wil hom laat toesluit. Het jy dit gesien? Ek was in my kamer. Het jy dit gesien? Hy het die deur geskop. Het jy dit gesien? Boef het getjank. Het jy dit gesien? Boef sal nie so tjank as iemand hom nie geskop het nie. Het jy dit gesien? Nee. Ek en sy weet die man het vir Boef geskop. Ek en jy staan op die kantlyn en skinder, oordeel en veroordeel. Bring die bewysstukke, nie Facebook-skinderstories nie en selfs dan moet jou ja jou ja wees. Moenie die regstelsel blameer vir die swakhede van getuies nie.

Sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het in 1994 speel menseregte ’n groot rol in ons land. Maar dit is ook oor die algemeen baie moeiliker om ’n skuldigbevinding te verkry. Is die groter klem op menseregte dalk nie op ’n ironiese manier die ondergang van menseregte nie?

Weet jy Jean, "menseregte" het nog altyd ’n groot rol gespeel in my huis en lewe. Diereregte ook. Laasgenoemde het my baie gehelp om mense te verstaan en deesdae dalk meer as toe. Dit het gereën in '94 toe almal kon stem en in lang toue gestaan het. Dit was ’n fantastiese paar uur, toe ek ook mens geword het wat nie wit was of Afrikaans was nie, vry, vry, vry! Wette maak ons nie gelyk nie. Gelykheid is groter as mensgemaakde wette. Dit gebeur as jy toelaat dat jou ego gaan duimgooi. Ja, ons sogenaamde regsgeleerdes is ook mense van vlees en bloed. Met foute. Help ons om mens te wees. Help ons.

Ek dink in elk geval nie dit is deesdae moeiliker om ’n skuldigbevinding te kry nie ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top