Hoe 'n ampsbekleër sy pos moet ontruim

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

‘n Voormalige Israelse premier, Ariel Sharon, het op 11 Januarie 2014 gesterf nadat hy agt jaar vantevore in ‘n koma verval het na ‘n massiewe beroerte. Die bewustelose Sharon is in verpleeginrigtings versorg sonder dat hy ooit sy amp formeel kon neerlê. Dit herinner aan die semigrondwetlike krisis wat Suid-Afrika in 1967 beleef het na dr TE Dönges se beroerte.

Daar is ‘n paar omstandighede waaronder verkose staatslui hul ampte moet neerlê. Die president van die VSA dien hoogstens twee termyne van vier jaar elk; daarna moet hy plek maak vir iemand anders. Die Britse eerste minister is omtrent nooit seker van sy (of haar) pos nie: ‘n algemene verkiesing kan ‘n bewindsverandering teweegbring – soos wat nie te lank gelede nie Gordon Brown se lot was. ‘n Leier kan ook deur sy partygenote uit sy amp gedwing word: gedenk maar die onverkwiklike wyses waarop Margaret Thatcher en PW Botha hul poste kwyt geraak het. Die dood van ‘n ampsbekleër is nog ‘n wyse waarop sy amp vakant kan raak, soos wat in Suid-Afrika met die afsterwe van die dienende eerste ministers Louis Botha, Hans Strijdom en Hendrik Verwoerd gebeur het.

Die omstandighede waaronder ‘n ampsbekleër sy pos moet ontruim, word normaalweg deur die grondwet van ‘n bepaalde land – of, soos in Engeland, deur eeue oue konvensies – gereël. Die lollery kom wanneer die ampsbekleër nie sterf nie, maar – soos Sharon – só onbekwaam raak dat hy nie uit eie beweging kan bedank nie.

Daar is ook in ons eie geskiedenis ‘n voorbeeld van so ‘n sameloop van omstandighede.

Die opstellers van die eerste Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 32 van 1961, het klaarblyklik moeite gedoen met deel drie van dié Wet, wat gehandel het oor die amp van die staatspresident – ‘n eerste vir Suid-Afrika. Die Britse vors, verteenwoordig deur ‘n Suid-Afrikaanse goewerneur-generaal, was mos tot met Republiekwording Suid-Afrika se nominale staatshoof. Die goewerneur-generaal se magte is omskryf in talle konvensies wat oor die jare heen die lig gesien het. In die Republikeinse grondwet van 1961 is die staatspresident se bevoegdhede as staatshoof noukeuring omskryf, soos ook die prosedure wat by sy verkiesing en daarná gevolg moes word.

Die grondwet het op die oog af ook 'n heel bevredigende reëling getref vir die aanstelling van 'n waarnemende staatspresident wanneer dié hoë amp vakant sou raak, of die dienende staatspresident om een of ander rede nie sy ampspligte sou kon uitvoer nie. In só 'n geval sou die president van die senaat waarneem of, as hy nie kon nie, die speaker van die volksraad, of, as ook hy nie beskikbaar sou wees nie, 'n minister deur die kabinet aangewys.

Maar Murphy se Wet lui mos dat as iets skeef kán loop, dan sál dit wel skeefloop, en so was dit ook die eerste keer toe die amp van staatspresident vakant geword het.

Die aanloop was kortliks die volgende: Suid-Afrika se eerste staatspresident, CR Swart, het aan die einde van 1966 aangekondig dat hy op 31 Mei 1967 sy amp sou neerlê – ‘n jaar vroeër as die termyn van sewe jaar waarvoor die grondwet voorsiening gemaak het.

Op 28 Februarie 1967 het die kieskollege van die parlement vergader om mnr Swart se opvolger te verkies. Daar was twee kandidate: die Nasionale Party het die minister van finansies, TE (Eben) Dönges, genomineer, terwyl Piet van der Byl die kandidaat van die Verenigde Party was. Dr Dönges het met 163 stemme teen 52 gewen en hy sou op 31 Mei 1967 ingehuldig word. Hy sou egter nooit die hoë amp van staatspresident beklee nie, want op 11 Mei 1967 het hy breinbloeding opgedoen wat hom – soos Sharon jare later – in 'n diep koma gelaat het.

Later daardie dag het die destydse premier, John Vorster, aangekondig dat Dönges se inhuldigingsplegtigheid afgestel is en dat die president van die senaat, JFT (Tom) Naudé, na 31 Mei 1967 ingevolge die grondwet sou waarneem as staatspresident.

Die probleem was egter dat die grondwet nie werklik die situasie gereël het waar 'n persoon ná sy verkiesing tot staatspresident deur die kieskollege, maar vóór sy inhuldiging, onbekwaam sou raak om sy amp te aanvaar nie. Sommige regsgeleerdes was dus van mening dat mnr Naudé se aanstelling as waarnemende staatspresident streng gesproke ongrondwetlik was. (Gelukkig het die hemel nie op Suid-Afrika ingetuimel nie.)

Die oplossing was dat dr Dönges van sy verkiesing afstand moes doen, maar vanweë sy toestand kon hy dit natuurlik nie self doen nie. Gevolglik het sy eggenote en skoonseun die hooggeregshof genader met 'n aansoek dat hulle as kurators oor sy persoon en boedel aangestel moes word. Dit het die weg gebaan dat hulle namens hom van sy verkiesing afstand kon doen, wat dan ook gebeur het. Eers daarna kon Jim Fouché as die Republiek se tweede staatspresident verkies en ingehuldig word.

Suid-Afrika se huidige (1996-) grondwet bepaal dat wanneer ‘n persoon tot president verkies word, hy binne vyf dae die ampseed (of ‘n plegtige verklaring) van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die grondwet moet aflê. Klaarblyklik is daar ‘n les uit die Dönges-sage geleer. Die grondwet bevat ook ‘n lys van “voorkeure”, as ek dit so kan stel, van ampsbekleërs wat as president kan waarneem indien die eerste een op daardie lys (die adjunkpresident) nie in staat of beskikbaar is om in daardie hoedanigheid waar te neem nie.

Met Sharon van Israel se beroerte op 4 Januarie 2006 was sy opvolging minder gekompliseerd as wat die geval was met die onverwagse vernietigende beroerte wat dr Dönges jare vantevore getref het. Sharon se adjunk, Ehud Olmert, kon ingevolge die Israelse grondwet vir ‘n tydperk van 100 dae as eerste minister waarneem, waarna die Israelse president ‘n nuwe premier moes aanwys. Op 28 Maart 2006 het Sharon se sentristiese politieke party, Kadima, egter die algemene verkiesing – wat reeds voor sy beroerte afgekondig was – met ‘n gerieflike meerderheid gewen. Aangesien Sharon daarna nie in staat was om ‘n nominasievorm vir sy verkiesing tot die Knesset te onderteken nie, het hy gewoon sy setel in die parlement verloor en het hy – deur regswerking, dus – opgehou om die amp van Israelse premier te beklee. Olmert het hom as premier opgevolg.

Senator Naudé het gedurende die net meer as tien maande wat hy as staatspresident waargeneem het, al die voorregte wat normaalweg met dié hoë amp gepaard gaan, tot sy beskikking gehad – die presidensiële ampswonings, 'n groot personeel, die blinkswart Rolls-Royce Silver Wraith-ampsmotor, die legendariese Wit Trein, en so meer. Onder meer het hy sy ou volksraadskiesafdeling, Pietersburg (nou Polokwane), amptelik met die presidensiële trein besoek. Die Rolls – met sy seilkap afgeslaan – was byderhand om hom en mev Naudé na 'n plaaslike sportveld te neem, waar hy onder meer 'n skoolkadet-erewag geïnspekteer en 'n toespraak gelewer het. Daardie aand was die Naudés die eregaste by 'n swierige burgerlike onthaal.

Dr Dönges is op 10 Januarie 1968 oorlede (Sharon nogal op 11 Januarie 2014) sonder dat hy bewus was van al die intriges wat gevolg het op sy beroerte agt maande vantevore. Dit was 'n tragiese einde vir 'n talentvolle politikus wat in sy jonger dae uitgemunt het as regsgeleerde. Hy het onder meer 'n doktorsgraad in die regte verwerf, was ‘n kenner van munisipale reg en was een van die min Suid-Afrikaners wat 'n saak voor die Geheime Raad in Londen behartig het.

Bronne

Annual Survey of SA Law (1967)

Die Grondwet van 1996

Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, Vol 5

Wet 32 van 1961

Wikipedia

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top