Sint Christoffel,
Dra my op jou skouers
ligvoets oor die wolke.
Ek is jou Jesuskind –
jou witgepleisterde graf
’n wegloop-Protestant.
Jy kan hond se gedagtes oor my kry.
Ek hoop ek word nie
té klipsteenswaar op jou
sterk Romeinse skouers nie.
Sint Christoffel,
Dra my op jou skouers
ligvoets oor die wolke.
Ek is jou Suiderkruiskind –
jou witgat-klipspinnekop
’n wegloop-Afrikaner.
Ek wil geen hondelewe meer lei nie.
Ek hoop ek word nie
té verwerplik uit jou
sterk Romeinse arms nie.
Sint Christoffel,
Dra my op jou skouers
ligvoets oor die wolke –
telkens heen na my land van lig waar lappe
sonneblomme koppig na die son bly draai en
telkens terug na hier waar De Poorten my
verwelkom en my grys en grimmig herinner:
ons is albei verganklik.

