Herroepte testament herleef nie

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Mnr Felix Vetter, 'n Johannesburgse juwelier, het in 1964 'n testament opgestel waarin hy goed vir sy vrou gesorg het: sy sou sekere onroerende eiendom, 'n motor en R25 000 se juweliersware erf – baie geld vir 1964. Vir 'n getroue vriendin en helper met sy besigheid het hy die res van sy groot boedel nagelaat. Blykbaar was daar nie kinders nie.

Twee jaar later, in 1966, het mnr Vetter wéér 'n testament opgestel wat die eerste een herroep het, en waarin hy sy héle boedel aan sy vriendin bemaak het. Vroulief is dus onterf. Kort daarna is hy en einste vroulief vir 'n vakansie oorsee.

Omtrent 'n week nadat die Vetters terug was in die Republiek, het hulle een aand goeie vriende onthaal en so tussen die gesels deur het mnr Vetter 'n koevert te voorskyn gebring. Hy het verduidelik dat daarin 'n testament was wat hy pas voor sy oorsese reis laat opstel het vir geval hy en sy vrou gelyktydig in 'n vliegtuigongeluk sou sterf. Noudat hul veilig terug was, het die testament sy doel gedien, en kon hy dit vernietig. Hy het dit daarna koevert en al opgeskeur en verduidelik dat sy prokureur in elk geval in besit was van sy eerste testament van 1964 – jy onthou mos: dié een waarin sy vrou die grootste deel van sy boedel sou erf, en sy vriendin die res.

Mnr Vetter is op 3 Julie 1970 oorlede. Sy vriendin – wat, soos jy sal onthou, die enigste erfgenaam was onder die testament van 1966 wat mnr Vetter so teatraal tydens ‘n aandete opgeskeur het – het die hof genader om te verklaar dat 'n afskrif van dáárdie testament wat in haar besit was, mnr Vetter se enigste geldige testament was. Volgens haar het mnr Vetter die 1966-testament vernietig net omdat hy geglo het dat die 1964-testament as gevolg daarvan sou herleef. Maar dit was 'n foutiewe aanname, want in ons reg herleef 'n ouer testament nie outomaties as 'n latere een vernietig word nie. Die vriendin het aangevoer dat mnr Vetter nie die bedoeling gehad het om die 1966-testament te vernietig nie, al is die oorspronklike opgeskeur. Sy het die hof gevra om te verklaar dat die afskrif van die 1966-testament in haar besit syénigste geldige testament was.

Mev Vetter het die aansoek natuurlik teengestaan. Sy het op haar beurt aangevoer dat albei testamente regtens herroep is: die 1964-een deur die testament van 1966, en dié een weer deur die opskeur van die oorspronklike testament. Sy het die hof gevra om te bevind dat mnr Vetter intestaat – dit wil sê geheel en alsónder testament – gesterf het. Omdat daar nie kinders was nie, sou só 'n bevinding haar waarskynlik die meeste bevoordeel het.

Die saak het voor regter Trengrove – later appèlregter Trengrove – gedien.1 Die regter het die getuienis versigtig ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat mnr Vetter wél die 1966-testament opgeskeur het met die bedoeling om dit te herroep. Daar was nie getuienis dat hy dit herroep het op voorwaarde dat die 1964-testament sou herleef nie. Hy het net eenvoudig aangeneem dat dit die geval was, wat ongelukkig 'n foutiewe aanname was. Al wat hy moes gedoen het, was om 'n kort testament op te stel met die strekking dat die 1964-testament sou herleef as sy laaste testament en uiterste wil. Ongelukkig vir sy vriendin – maar gelukkig vir mev Vetter – het hy nagelaat om dit te doen. Die resultaat was dat hy intestaat gesterf het en dat vroulief waarskynlik alles geërf het. Dít was sekerlik nie sy bedoeling nie, want klaarblyklik wou hy sy getroue vriendin óók bevoordeel.

Gaan bespreek gerus jou testamentsake met jou prokureur en vra hom om seker te maak dat alles in orde is. En as jy nóg nie 'n testament het nie, is dit nou die oomblik om ‘n bietjie na te dink ...

1 Raabe v The Master and another  1971(1) SA 780 (WPA)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top