In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Ek wonder hoeveel van die ouer LitNetters onthou nog Dandy-vloerpolitoer. Dit lyk my dit is nie meer in die handel beskikbaar nie. Ek het nou die ander dag “Dandy polish” ge-Google”, en toe kom ek uit by www.dandypolish.org.au. O, dog ek, dié betroubare vloerpolitoer kom toe altyd tyd van doer onder af! My geesdrif is egter so ietwat gedemp toe ek merk dit is die webtuiste van ‘n Sewende Dag Adventiste-gemeente vir die Poolse gemeenskap in Dandenong, ’n voorstad van Melbourne, Australië. Die enigste werklike spoor wat ek van Dandy die politoer op die Web kon vind, was ‘n advertensie op Junkmail se webruimte vir ‘n vyfliterblik van dié “uiters skaars” politoer wat nog halfvol was – en reeds in November 2013 aan ‘n versamelaar verkoop is.
Ek self het ‘n baie sterk herinnering aan hierdie besondere soort politoer. In my geestesoog sien en ek nog die sementvloere van Excelsior-koshuis op Heidelberg in die destydse Transvaal waar ek skoolgegaan het. Die sementvloere in die gange, die trappe en die badkamers van die koshuis is gereeld met rooi Dandy-vloerpolitoer gesmeer – gewoonlik terwyl die koshuisseuns by die skool was. As jy om een of ander rede in skooltyd toegelaat was om koshuis toe te gaan, moes jy baie versigtig loop op ‘n vloer wat so pas met die politoer gesmeer was, want dit was seepglad. Na so ‘n rukkie het die politoer droog geword en dan is dit met ‘n groot masjien opgevryf totdat die vloere mooi geblink het. Goeie ou dae.
‘n Mevrou Alberts van êrens in die destydse Transvaal het op ‘n oggend in 1960 haar moses met die einste Dandy-politoer teëgekom. Sy was saam met haar seun by ‘n teekamer, waar hulle ‘n koppie tee geniet het terwyl werktuigkundiges daar naby aan haar seun se motor werk. Terwyl hulle die tee drink, het ‘n skoonmaker in diens van die kafee Dandy-politoer wat met paraffien gemeng was, op die kafee se sementvloer gesmeer. Toe mev Alberts na die toonbank loop om vir die tee te betaal, het sy verby die werker geloop wat besig was om aan die vloer te werk, maar sy was onder die indruk dat hy besig was om die vloer bloot skoon te maak; sy het nie besef dat hy in die proses was om politoer aan te wend nie. Toe sy by hom verbystap, het sy op die seepgladde mengsel van politoer en paraffien gegly en met die valslag ‘n ernstige fraktuur van haar regterarm opgedoen.
Mev Alberts het daarna ‘n eis teen die eienaar van die teekamer, ene Engelbrecht, ingestel en die saak het in Maart 1961 voor regter Dowling van die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die hooggeregshof gedien. Mev Alberts se skadevergoedingseis het R6 000 beloop, wat in vandag se geld straks aan R300 000 sal raak, sou ek reken.
In sy uitspraak1 wys regter Dowling daarop dat daar nie in ons hofverslae van destyds enige gerapporteerde saak was van iemand wat op nat politoer gegly en skade opgedoen het nie. Hy het hom gevolglik gewend tot die Engelse reg en op ‘n uitspraak van 1949 afgekom wat gehandel het oor iemand wat op ‘n treinstasie in Engeland seergekry het nadat die persoon op ‘n oliekol op die perron gegly en geval het. In daardie saak het die regter beslis dat die toets of die spoorwegowerheid aanspreeklik gehou moes word of nie, die bekende redelike-voorsienbaarheid-toets is, wat ook in ons reg geld. Die Engelse regter het beslis dat as ‘n mens op ‘n hawe sou rondloop, jy meer op die uitkyk sou wees vir allerhande obstruksies waaroor jy kan struikel, soos byvoorbeeld vasmeertoue. Op ‘n hawe sal ‘n mens voetjie vir voetjie loop, maar op ‘n spoorwegstasie, waar daar soms honderde mense tegelyk op die perron loop, word nie van lede van die publiek verwag om katvoet te loop en seker te maak dat daar nie byvoorbeeld oliekolle is waarop jy kan gly en val nie. Die Engelse regter stel dit so: “It would not be reasonable to require that those using the platforms should be looking down at the ground at every step they take. If one were expected to be looking at one’s feet when a train comes in one would often not get a seat in one of the crowded compartments.” Hierdie regter het beslis self dikwels trein gery.
Met hierdie uitspraak in gedagte het regter Dowling beslis dat die eienaar van die teekamer waar mev Alberts op die Dandy-politoerkol gegly het, in beginsel vir haar skade aanspreeklik was.
Die eienaar van die teekamer se advokaat het ‘n flouerige verweer opgewerp dat mev Alberts vrywillig die risiko van benadeling aanvaar het toe sy in die kafee ingegaan het, maar dié storie wou die regter – tereg – nie sluk nie. Hy het ook die eienaar se verweer verwerp dat mev Alberts self nalatig was en dat haar eis om daardie rede gedeeltelik verminder moes word.
Regter Dowling was egter nie bereid om die R6 000 wat mev Alberts geëis het, aan haar toe te ken nie, en het beslis dat haar skade slegs R1 400 beloop het, wat haar mediese uitgawes ingesluit het. Seker so R80 000 in vandag se geld, sou ek raai. (‘n Aktuaris sou ons kon sê, maar dié snare is nie goedkoop nie; kom ons bly dus maar gis daaroor.)
1Alberts v Engelbrecht 1961(2) 644 (TPD)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

