Geagte Letsetja Kganyago ...

  • 0

Geagte mnr Letsetja Kganyago

Ek het nou al ’n geruime tyd iets op my hart wat ek dringend met u wil bespreek. Dit is iets so na aan my hart dat ek dit graag persoonlik met u wou bespreek het.

U is ’n baie besige man en ek het besef dit sou baie moeilik wees om ’n afspraak met u te kry.

Nou, na deeglike nadenke het ek besluit om ’n ope brief aan u te skryf omdat die kwessie so belangrik is. Ek dink baie mense sal die brief waardeer, want dit gaan in ’n sekere mate ook tot hul behoeftes spreek.

Eerstens, geluk met u aanstelling as president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Ek is baie bly oor die positiewe reaksie en ontvangs wat u veral van die mark hier en internasionaal gekry het. Dit maak ’n mens stil trots op u, veral vanweë die feit dat u van bankklerk tot die president van die belangrikste bank in die land gevorder het. Ons as Suid-Afrikaners kan net trots wees op u prestasies in die hoop dat u ons nie gaan teleurstel nie.

Die manier waarop (en natuurlik die reaksie daarop) u die eerste voorlegging oor die stand van die land se ekonomie gehanteer het, wys daarop dat u die regte man vir dié belangrike werk is.

Ekonome en die mark was met baie goeie rede beïndruk. U voorlegging was in die algemeen aanvaar as ’n “blaaskans” vir die ekonomie, ook omdat die rand na u aankondiging met ’n paar sent versterk het tot selfs R10,97 teenoor die dollar.

Ek dwaal egter van die punt af. Nee, ek versuim om by die punt uit te kom.

Ek wil met u iets bespreek wat eintlik gaan oor die kleur van geld. Die belangrikheid daarvan en hoe kleur ’n wesenlike impak het op die mense wat daagliks geld hanteer.

Nou, van kleur gepraat.

Ek dink nou terug aan die titel van die digbundel van die bekroonde skrywer, digter en joernalis Antjie Krog, Kleur kom nooit alleen nie, wat reeds in 2000 verskyn het.

U onthou seker vir Krog, wie se roem die afgelope dekade toegeneem het danksy haar bekende niefiksie-triologie: Country of my skull, A change of tongue en Begging to be black.

In Kleur kom nooit alleen nie konfronteer Krog die leser onder andere met kompleksiteite van politieke geweld en die “bagasie” van velkleur.

Ons wat daagliks geld moet hanteer vir ons daaglikse oorlewing, word elke dag met die “bagasie” van die kleur van geld gekonfronteer.

Terloops, ek wonder wie het besluit ’n R20-noot se kleur moet bruin is? Dit herinner nogal baie aan die kleur van die uniform van die destydse spoorwegpolisie.

Pienk is egter die groot olifant in die vertrek. Hoekom moet beide R50- en R200-note se kleur pienk wees? Dit verwar mense van alle kleure en ouderdom.

Kan die R200-noot se kleur miskien verander word? Is rooi dalk ’n oorweging? Al herinner dit nogal aan Juju en sy EFF.

Sien, kleur kom nooit alleen nie.

Groete, Jason

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top