![]() |
Wil jy ’n nuusleser of televisieaanbieder word? Tracey Lange vertel wat dit beteken. |
Vertel ons kortliks wat jy vir ’n lewe doen.
Ek is die Ontbytprogram-nuusleser by die radiostasie Good Hope FM en bied ook die televisieprogram Bravo! op kykNET aan.
Hoekom het jy besluit om ’n nuusleser en televisie-aanbieder te word?
Dit was nooit in my plan om die bedryf te betree nie – ek is iemand wat hou van sekuriteit. Maar ek het op een tydstip ’n wonderlike baas gehad wat my aangemoedig het om ’n bietjie te “lewe” en nie so verantwoordelik te wees nie. Ek het toe besluit om drie jaar van my lewe “af te vat”, naweke myself aan te moedig om iets nuuts te probeer terwyl ek nog steeds in die week my voltydse werk doen. Ek het dit gedoen en hier is ek nou - ses jaar later!
Hoe gaan mens te werk om ’n nuusleser en televisie-aanbieder te word? Waar kan mens daarvoor studeer?
Dis altyd goed om iets te hê om op terug te val, so enigiets wat jy studeer sal jou goed te pas kom in die bedryf. Maar as dit jou begeerte is om dit te doen, sal ’n kursus in joernalistiek jou goed te pas kom as jy ’n nuusleser wil wees. Daar word baie kursusse in televisie-aanbieding aangebied – kyk by kolleges, ens.
Wat is die beste aspek van jou werk?
Om net myself te kan wees. Ek kan myself uitdruk as ek sterk voel oor ’n kwessie en net lag as iets snaaks is. Ek kan elke dag net myself wees.
En die slegste?
Om elke oggend 03:30 wakker te skrik!
Oor watter karaktertrekke moet ’n mens beskik om ’n nuusleser of televisie-aanbieder te word?
Jy moet ’n mense-mens wees. Jy moet dit geniet om oor mense te lees en van hulle te hoor. Dit moet belangrik wees dat jou gas altyd gemaklik is en jy moet van jouself kan vergeet daarvoor.
As jy nie ’n nuusleser en televisie-aanbieder was nie, wat sou jy graag wou doen?
Ek sou graag ’n onderwyser wou wees en die begeerte in mense aanwakker om altyd net verder te dink en meer van hulleself te wil gee.
Wie het jou geïnspireer om ’n nuusleser en televisie-aanbieder te word? Het jy ’n mentor gehad?
Dit was die direkteur van die maatskappy waar ek gewerk het, Warwick Chester.
Wat is die een ding wat niemand vir jou op universiteit vertel het van nuusleser en televisie-aanbieder wees nie?
Hoe mense al jou sake wil weet, tot watse kar jy ry en watse kaart (krediet/debiet) jy jou inkopies mee betaal.
Wat is die toekoms vir aanbieders in Suid-Afrika?
Dit gaan net nog groter en beter word! Suid-Afrika is vol potensiaal en ons begin dit nou eers regtig besef. Daar begin soveel nuwe televisiekanale en nog te meer in Afrikaans. The sky is the limit!
Het jy enige raad vir jongmense/leerders wat aanbieders wil word?
As jy jou hart op enigiets het, wees bereid om dit gratis te doen vir ’n ruk. Jy sal weet of jy rêrig lief is vir iets as daar nie geld is nie. Ek het dit vir ’n lang tyd gedoen en dit was die beste ding wat ek ooit kon gedoen het!



Kommentaar
Baie dankie vir die verslag oor tracey, ek voel baie selfversekerd nou, nadat ek heeltyd daaroor gewonder het. Dis my droom om eendag 'n nuusleser te word. 🙂
Ek het nog altyd oor die beroep gewonder. Baie dankie vir inligting wat ek kon gebruik. Is daar enige voorstelle waar om te gaan studeer en presies wat om te studeer vir 'n televisie-aanbieder.
Dankie, u raad en advies word opreg waardeer. Dit is my grootste droom wat ek baie graag wil bereik en die beroep wat ek nog altyd wil doen met my hele lewe.
Wil graag weet wst die ouderdomsbeperking van n nuusleser is
Wou graag en sal graag my droom wil bereik
Watter kwalifikasiies moetvrk het
Wil graag weet wat die ouderdomsbeperking van ’n nuusleser is
Wou graag en sal graag my droom wil bereik
Watter kwalifikasiies moet ek hê?