Ek lees vanoggend in die Beeld dat Bok Bryan vermy sy pa al drie jaar agv sy ouers in bitter egskeiding.
Elkeen van ons koester ’n vlinder. Dit is nou, binne in ons hart. Hierdie vlinder roep om vrystelling. Die weg na ’n gesonde selfbeeld word bepaal deur die sterkte van die vlinder se vlerkspan. Vlerke wat hoog kan opflapper, sweef makliker op die wind en word aangetrek deur die hitte van die son.
Daar is net een pad wat die vlinder van die mens tot volmaakte transformasie kan ontluik, en dit is die weg van selfaanvaarding en totale oorgawe aan Jesus Christus.
Waarom sou die Joodse kinders, die nag voordat hulle in die gaskamers gesterf het, vlinders in die mure van die houtbarakke uitgekerf het? Was daar ’n flikkering van hoop in hulle harte, dat die vlinder uit hul lewens vrygestel sou word. Deur die dood?
Hierdie stelling bevat ’n verborgenheid, van selfontplooiing tot Godsverheerliking, en dit weer deur ’n proses van selfverloëning. Selfs Paulus bely in Rom 7:18 “Ek weet dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie.”
Selfverloëning breek deur tot selfverwesenliking en wanneer dit gebeur gaan dit nie om eie eer of ambisie meer nie, maar om Godsverheerliking.
As kind, is ek en jy uit ons lewensomstandighede gevorm, die produk van dit wat vandag uitgeleef word.
Dorothy Law Nolte het iewers die volgende woorde neergepen:
As ’n kind met kritiek saamleef
leer hy om te veroordeel...
As ’n kind met vyandigheid te kampe het
leer hy baklei...
As ’n kind met skande moet saamleef
leer hy skuldig voel...
As ’n kind aanmoediging ervaar
leer hy selfvertroue...
As ’n kind met aanvaarding en liefde omring word
leer hy om lief te hê ...
As ’n kind goedkeuring ervaar
leer hy van homself hou...
Hierdie dinge kan selfs in die sirkel van ’n huwelik opgemerk word. Dinge soos kritiek, verwyte, afbrekende woorde en veroordeling, vang die vlinder vas in die greep van die hand wat dit beheer en manipuleer.
Daarteenoor, sal ’n gesindheid en benadering van die huweliksmaat se liefde, waardering, teerheid, ondersteuning, lof en waardering mense bevry tot oorwinning en groter hoogtes in die son van hul huwelik.
Voorwaar blomtyd vir die vlinder, die gees van die mens.
Leef jou vlinder vry?
Trienie


Kommentaar
Trienie, die esoteriese betekenis aan skoenlappers, is om te transformeer. As kinders van die HERE, is ons hoop daarin om getransformeer te word in die volmaakte liefde en genade van ons almal se Skepper. Skoenlappers, of te wel vlinders, dra presies dieselfde geheimenis en diepsinnige betekenis in menige Godsdiens, taal en kultuur... Soos daar geskrywe staan: Do not be conformed to this world, but be transformed by the renewal of your mind, that by testing you may discern what is the will of God, what is good and acceptable and perfect. (uit die katolieke Bybel - Romeine 12:2) Skoenlappergroete, Cornelius.
Sjoe Cornelius,
Nou praat jy op 'n vlak en gesindheid waar ek kan bykom en jou definitief sal terugantwoord. Ek is eerlik dat ek die woord "esoteries" se betekenis gaan opsoek het. Wat 'n openbaring! Plaas skryf jy oor die vlinder. Meng dit saam met die skrif wat jy gegee het en die wonder-resep is: "Sweef soos 'n arend want Sy liefde dra jou so hoog, hoog bo die son!"
Arendgroete
Trienie
Trienie,
Ek is nederig dankbaar as iets tot eer van onse HERE, jou ook raak.
Skoenlappers, is sekerlik een van die mees besielende sinnebeelde in Godsdiens.
Die ongelukkigheid, sou 'n mens met geesdrif daarop wou uitwy, is dat nydige Fariseërs en skrifgeleerdes op jou sal toesak, en jou hart verskeur in aanklag as "New Age".
Trienie, saam soos 'n arend, deel ek ook die volgende met jou: "Ekke, hierdie hoender, voel hoe die Wind onder my vlerke my soos ‘n arend tot in die Tweede Hemel laat styg. Die aasvoëls het saam gekom om my te probeer verskeur. Maar hulle word blind van Sy son. Hy, Homself waarheen ek my rigting hou - Jesus Christus onse God - verblind hulle en hulle val weg. Soos ‘n arend kan ek in die Son kyk. Ek kan sien terwyl ek vlieg want Hy het my die oë gegee. Vêr bokant die wolke is dit koud, tog veilig; en in my hart is dit warm en snoesig".
Maar 'n mens hoef nie altyd so indrukwekkend soos 'n arend te wees, om hart te het nie; luister gerus Anton Goosen se liedjie oor die hartjie van Mossie-bruin. Dink aan die oorgawe waarmee klein voëltjies selfs ‘n koekoek kan groot maak.
Ek deel hierdie poging van my "Moslem en Christen, dis soos 'n arend..." spesiaal met jou [ http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=print_article&news_id=78503&cause_id=1270 ].
Trienie, hier is ook 'n prag video omtrent die transformasie en betekenis van skoenlappers in ons harte [ http://www.youtube.com/watch?v=7AUeM8MbaIk&feature=player_embedded ]
Namaste!
Cornelius
Dankie vir julle mooi uitleg van 'n vlinder. Ek het 'n nuwe kleindogter op pad en wil haar 'n spesiale by naam gee. Ek het besluit op 'n vlinder en kyk nou hoe mooi beskryf julle dit. Dit moes 'n Christelike konnotasie hê.